Jy kan óók seker wees jy gaan hemel toe
Rom. 8:1-4
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” (Rom. 8:1)
Het jy al ’n beklemming om jou hart gekry as jy dink aan die dag wanneer jy voor die regterstoel van God sal moet verskyn? Hulle vertel mos dat jou lewe dan soos ’n rolprent voor jou sal afspeel: alles wat jy (verkeerd) gedoen het, alles wat jy (verkeerd) gedink het – dit alles sal op daardie dag geopenbaar word, en dan sal jy rekenskap aan God moet gee oor alles wat jy gedoen het. Wat ’n afgryslike, ontstellende gedagte! Dit is genoeg om enige mens ineen te laat krimp van vrees, want wie sal só ’n oordeel oorleef?
Ek onthou hoe ek as kind oor dié vrees in my bed rondgerol het. Miskien rol jy ook snags onseker en benoud rond, bang vir die dag van afrekening. Nie omdat jy so ’n onverskillige lewe lei nie, maar net omdat jy nie seker wéét nie, en jouself afvra: Maar sal ek die paal haal? Ek is tog nie sonder sonde nie, al probeer ek so hard. En partykeer probeer ek ook nie so hard nie. Wat sal God daarvan sê? En: Sal ek bly glo tot die end? Want daar kom dae dat ek glad nie naby die Here voel nie. En hoe weet ek buitendien dat ek ’n kind van God is? Ek het dan nie ’n datum waarop ek tot bekering gekom het nie.
Gelukkig hoef hierdie vrese jou nie te pla as jy dit ernstig met God en met sy Woord bedoel nie. Want – en dit is die heerlike troos van die evangelie – Jesus Christus het daardie verskriklike oordeel klaar vir jou, in jou plek, deurgegaan. Daarom sê Paulus in Rom. 8:1: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Geen veroordeling nie!
Die vraag is net: bedoel jy dit ernstig met God?