https://youtu.be/RTH8Pg8crI4

Kersfees en blydskap, vreugde, gaan altyd hand aan hand. Julle weet dit almal uit ervaring. Kersfees is ’n tyd waarin ’n mens bly is, ’n tyd waarin ons sing en vol welwillendheid teenoor ander mense is.

Met die heel eerste Kersfees daar in Betlehem was dit ook nie anders nie. Die geboorte van Christus was vir die mense van destyds ’n vreugdevolle gebeurtenis. Maar selfs lank voordat die Here Jesus gebore is, het die profete wat sy koms voorspel het, dit beskryf as ’n vreugdevolle, blye gebeurtenis. Dink maar aan Jes 9:2, wat ons saam gelees het:
U het … hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd, soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.

Veral in die Lukas-evangelie kom hierdie blydskap besonder treffend na vore. Die hele aanloop tot die geboorte van die Here Jesus staan in die teken van blydskap en vreugde – dink maar aan die bekende lofliedere van Maria en Sagaria in Luk 1. En wanneer die engel na die herders daar in Betlehem se omgewing kom om die geboorte van Christus aan te kondig, is sy heel eerste woorde:
Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

Kersfees is ’n tyd van blydskap en vreugde. En dit is elke jaar weer so. As ’n mens op Kersdag in die kerk sit en jy hoor die ou bekende verhaal van Christus se geboorte; as jy saam met jou huis die Bybel oopmaak voordat die Kersgeskenke uitgedeel word, kom daar in ’n mens se hart ’n innige blydskap oor die wonder van God se groot geskenk aan ons.

Hierdie blydskap is veronderstel om die hele jaar te duur, om elke dag van ons lewe te vul. Daarom skryf die apostel Paulus in Fil 4:4: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Want die Here Jesus het immers nie net gekom om as ’n Babatjie gebore te word nie; Hy het gekom om ons Verlosser te wees, ons Leidsman, ons Koning, die Een wat elke dag met ons saam stap. Hy is Immanuel – God met ons!

Maar julle weet goed dat dit nie altyd so is nie. Ons is so dikwels nie bly nie; ons ervaar so dikwels nie die vreugde wat die Here van ons verwag nie. Daar is seker meer as een rede hiervoor. Ek wil vandag net een uitlig: Dit is omdat ons hierdie vreugde en blydskap verwar met vrolikheid en plesier, dit afhanklik maak van die Kersfeestyd, die presentjies, die Kersfeesliedere wat ons sing. En as die Kersfeestyd verby is, is ons platsak en is ons vreugde ook verby.

Maar dit is nie waarom dit in die Bybelse vreugde gaan nie. Dit gaan in die Bybelse blydskap om ’n diepe geluk wat gebore is uit die sekerheid: Ek behoort aan die Here. Hy het na hierdie aarde gekom om my, verlore sondaar, te kom red. En daarom word die ware vreugde van Kersfees gebore uit ’n innige verhouding met die Here Jesus Christus, en is dit nie iets wat ná Kersfees weer saam met die liggies en linte tot volgende jaar weggepak kan word nie, maar elke dag ’n werklikheid is, omdat Christus elke dag ’n werklikheid in ons lewens is. Die Here Jesus het self by geleentheid in Joh 7:37,38 gesê: As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. En dan voeg Johannes by: Hiermee het Hy na die Gees verwys …

Daarom noem Gal 5:22 hierdie blydskap as deel van die vrug van die Heilige Gees. Wanneer die Gees in jou werk en jou al vaster aan Christus bind, word hierdie vreugde ook al hoe inniger, na die mate wat ’n mens se liefde vir die Here toeneem.

Daarom is hierdie vreugde nie maar iets waarvoor ons kan sit en wag, dat dit ook in ons lewens moet kom, of iets wat net elke jaar met Kersfees daar is nie. Hierdie blydskap is iets waarna ons elke dag moet strewe, waaraan ons moet werk, waarom ons moet bid. Want die ware Kersvreugde, die ware Christelike blydskap is iets wat alleen God ons kan gee. Daarom sing ons: Jesus, Bron van al my vreugde!

Mag jy in hierdie Kersfees, maar ook elke dag, hierdie vreugde in Christus ervaar.

image_pdfimage_print

Views: 295

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.