Herodes se moordbendes vermoor seuntjies voor die voet
Van ons Nuwe Testament redaksie
BETLEHEM. – Dit was ’n swart dag vir Betlehem en omgewing toe Herodes se soldate jag gemaak het op al die seuntjies van twee jaar en onder. Tientalle seuntjies het hulle lewe verloor in die sinloosste en boosaardigste optrede van die koning ooit.
’n Geweeklaag wat jou aan die hart gryp, het teen druktyd gisteraand nog deur die dorp weerklink. Vroeër die dag het klein kinderlykies oral in die strate gelê as ’n grusame getuienis dat die soldate reeds daar verby is. In een huis het ’n jong moeder saam met haar eersteling gesterf omdat sy geweier het om die knapie aan Herodes se laksmanne te oorhandig.
Betlehem se burgemeester, Jakob ben Isai, het sy skok en afgryse oor die kinderslagting uitgespreek. Hy het gesê die moord herinner aan die optrede van die farao in die tyd net voor die Uittog. Hy het ’n beroep op die Joodse Raad gedoen om hierdie veragtelike en walglike daad onder die Romeinse goewerneur se aandag te bring. “Hierdie keer het Herodes te ver gegaan. Hy moet tot orde geroep word, maar ons is so magteloos,” het hy gesê.
Dit is nie die eerste keer dat Herodes hom die woede van die Jode op die hals haal nie. Die feit dat hy ’n Edomiet van geboorte is en nie ’n Jood nie, het nog nooit in sy guns getel nie. Daarby het hy die regmatige Joodse koningsfamilie, die Hasmoniërs, een vir een laat vermoor. Hy het selfs sy eie vrou, Mariamne, die kleindogter van die toendertydse hoëpriester Hyrkanus en ook ’n Hasmoniër, om die lewe gebring. Verlede jaar het hy ook die twee seuns wat sy vir hom in die lewe gebring het, Alexander en Aristobulus, tereggestel.
- Lees van hierdie tragedie in Matt. 2:16-18.
PERSOONLIK
Josef ben Jakob en sy vrou Maria het met hulle seuntjie Jesus vir ’n onbepaalde tyd uit Betlehem na Egipte vertrek. Josef is ’n skrynwerker van beroep en kom oorspronklik van Nasaret in Galilea. Hy het egter onlangs ’n werkswinkel in Betlehem in Judea geopen.
- Lees hiervan in Matt. 2:13-15 en 19-23.
WAARSÊER SE DONKIE PRAAT MET HOM
Van ons Ou Testament redaksie
AR-MOAB. – Dit is nou amptelik: Bileam seun van Beor, die waarsêer van Petor, se donkie kan praat! Só berig twee van Bileam se amptenare wat hom op sy reis na Moab vergesel het.
Bileam is deur die Moabitiese koning Balak seun van Sippor gehuur om die Israeliete te vervloek. Die Israeliete kamp tans in die Moabsvlakte teenoor Jerigo, en Balak wil van hulle ontslae raak. Bileam het aanvanklik geweier om aan Balak se versoek gehoor te gee, maar toe ’n tweede afvaardiging met beloftes van groter betaling weer by Bileam pleit, het hy saamgegaan.
Op pad na Moab het Bileam se donkie egter van die pad geloop en die veld ingedraai. Drie maal het hy sy donkie geslaan in ’n poging om die dier weer op die pad te kry. Dis toe dat die donkie met sy baas praat en vra: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” Om alles te kroon, het Bileam in ’n argument met die donkie betrokke geraak, en uiteindelik die eens stomme dier om verskoning gevra!
Met ’n waarsêer van Bileam se statuur soek ’n mens natuurlik nie skoor nie, en jy bevraagteken ook nie sy verduidelikings nie. As hy sê ’n engel het sy donkie voorgekeer en laat praat, stry jy nie. Maar jy mag wonder of die heuningbier nie dalk die praatwerk gedoen het nie …

Die Een wat in beheer is
’n Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom, die sterke.
Hy is ’n vesting in die nood – vir ewig staan sy werke.
Al kom die Bose aan in sy oorwinnaarswaan,
ons weet by al sy lis, sy lot is reeds beslis –
God self stel aan hom perke.
Só sing ons in lied 476 van die Liedboek van die NG Kerk. Dit is onmoontlik om God se werk te keer. Daarom was Herodes se afskuwelike plan van die begin af tot mislukking gedoem. Daarom kon Bileam nooit sover kom om die Israeliete te vervloek nie. Daarom bestaan die kerk vandag nog – en dit ten spyte van eeue se volgehoue pogings van die Bose om die kerk se deure te sluit.
Ook vandag sal Satan in sy oorwinnaarswaan probeer om God se werk in jou lewe te keer. Skuil daarom in Hom, die sterke. Sy Seun, die Kind van Betlehem, het die duiwel immers eeue gelede reeds die stryd aangesê namens ons. En oorwin. Dít is die Evangelie. Glo dit vandag.
Views: 31