Jou verlossing is God se werk
Luk. 18:9-14
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.” (Efes. 2:8)
Genade beteken, per definisie, ’n geskenk wat jy nie verdien nie. Is dit hoe jy oor jou verlossing dink, of wil jy tog darem handjie bysit?
’n Man het eenkeer teenoor my opgemerk, nadat ek vir hom die betekenis van Christus se kruisdood verduidelik het: “Ek sal self vir my sondes aan God rekenskap gee. Ek kan nie aanvaar dat iemand anders dit vir my moet doen nie. As ek verbrou het, sal ek self die straf soos ’n man vat.” Die man het my nogal baie aan die Fariseër in die gelykenis laat dink. Want hy het natuurlik geensins gedink hy het verbrou nie. Hy is tog ’n goeie mens, en God sal ook eendag, as hy voor Hom staan, goedkeurend die kop knik. So het hy geredeneer.
Die arme dwaas. “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,” sê Rom 3:23. Almal. Jy ook, en daar is niks wat jý daaraan kan doen nie, behalwe om soos ’n drenkeling jou hande in die lug te steek en tot God te roep: “Help! Wees my, arme sondaar, genadig!”
Gelukkig dat dit so is. Gelukkig dat ek en jy nie onsself hóéf te red nie. Want ons kan nie. Ons is sondaars. Maar God kan, en Hy hét – op Golgota. Daar het Jesus Christus al my en jou skuld betaal, volledig. En as jy, soos die tollenaar, in besef van jou onvermoë gebroke voor God staan met jou skuld, weet dan: ook vir jóú skenk God sy verlossing. Verniet!
Vir ’n geskenk betaal ’n mens nie. Dit sou ’n belediging teenoor die skenker wees. ’n Mens sê net dankie. En vir ons verlossing betaal ons ook nie. Dis immers ’n geskenk van God. Al wat Hy vra, is ons dankie. Kom sê dit dan – met jou lewe!
Views: 17