Dit is vanoggend ’n baie besondere Sondagoggend, en daar is twee redes daarvoor: ons het ’n babatjie gedoop, en dit is die tweede Adventsondag. Oor 20 dae vier ons Kersfees!
Hoekom is dit ’n besondere geleentheid as dit doop is? In die doop kom die Here vir die baba wat gedoop word, sê: “Ek het jou lief. Jy is Myne. Ek merk jou as my eiendom.”
Dit is natuurlik ’n wonderlike ding wat God vanoggend in die doop vir die baba kom sê. Maar dis nie net vir die baba wat vanoggend gedoop is nie. Hy het dit natuurlik ook vir elkeen van ons gesê. Nou die dag sê iemand vir my: “Ek het tog nie eintlik veel erg aan die doop meer nie, want ek is al oud en my kinders is al almal groot en getroud.” Nee, liewe gemeente, die betekenis, die wonder van die doop is nie net daar vir kinders nie – dis ’n wonder vir ons almal, vir elke dag, want elke dag het ons God nodig, elke dag leef ons onder sy genade. En daarom is dit vir my elke keer weer van vooraf ’n wonder om getuie van die doop te kan wees, getuie daarvan hoe God ons liefhet en sy Naam oor ons uitroep; is die doop elke keer weer vir my ’n versterking van my geloof en van die sekerheid van my redding.
Jy moet tog nooit dink die doop is net vir kinders totdat hulle die dag belydenis van geloof aflê nie. Jy moet lééf vanuit jou doop, vanuit die wete: ek is ’n gemerkte kind van God. Hy het ’n verbond, ’n ooreenkoms met my aangegaan. Jy ken moontlik die geskiedenis van Martin Luther, wat eendag, toe die duiwel hom erg gepla het met versoekings, met sy mes op sy lessenaar uitgekerf het: “Ek is gedoop!” En daarmee vir die duiwel gesê het: “Los my uit, want ek is God se eiendom. Hy sal my beskerm!”
Ja, dit is ’n wonderlike dag vandag, want dit is Doopsondag. Maar dit is ook ’n wonderlike dag omdat dit tweede Adventsondag is. Advent is die tyd wanneer ons dink aan die koms van die Here Jesus, die 4 Sondae voor Kersfees.
En die Kerstyd is ’n wonderlike tyd, waarin almal vrolik en bly is, ’n tyd van gemoedelikheid en welwillendheid, ’n tyd vol vreugde oor die wonderlike gawe van God, dat Jesus gebore is.
Die Kerstyd is ’n tyd van vreugde. Nou praat ek nie van die goedkoop plesierigheid, soos baie mense dink die Kerstyd is nie. Nee, van die begin af maak die Bybel dit baie duidelik dat Kersvreugde ’n duur vreugde is; dat God ’n baie groot prys betaal het om dit Kersfees te kon laat word: Hy het sy Seun prysgegee. Want ons moet altyd onthou dat Christus nie gekom het net maar om te kyk wat hier op aarde aangaan nie, of om by ons te wees nie. Hy het gekom om te kom sterwe. Hy het gekom om die vloek van God oor ons sonde, jou sonde en my sonde, met sy eie lewe te betaal. Sy bloed moes op Golgota vloei, sodat ek en jy Kersfees kan vier. Daarom sê Simeon hier in ons teksvers vir Maria, nadat hy al die pragtige dinge oor die Kindjie Jesus gesê het: “’n Swaard sal deur jou siel gaan.” Want Christus het na hierdie wêreld gekom om te sterwe aan die kruis.
Daarvan vertel ook die doop. Ook die vreugde van die doop is nie ’n oppervlakkige vreugde nie, want ook die wonderlike beloftes van die doop is enkel en alleen met die bloed van Christus moontlik gemaak. Daarvan vertel die water van die doop ons. Die water vertel ons dat ons vuil is, vuil van die sonde, dat ons nodig het om gewas te word. En daarom het Christus gekom, is Hy gebore, het dit Kersfees geword: Om met sy eie bloed wat aan die kruis gevloei het, ons skoon te was van ons sonde.
Die doopformulier herinner ons baie gou daaraan. Die heel eerste ding wat die doopformulier sê, is juis dit: Ons en ons kinders word in sonde ontvang en gebore. Daarom is ons onder die toorn van God en kan ons nie in sy ryk kom nie, tensy ons weer gebore word. Dit word ons geleer deur die indompeling in en besprenkeling met die water, wat die onreinheid van ons siele aandui.
En die heel eerste vraag waarop die doopouers moet antwoord, is ook: Bely u dat ons kinders, al is hulle in sonde ontvang en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self onderworpe, tog in Christus geheilig is en daarom as lidmate gedoop behoort te wees?
Ons is sondaars, wat die oordeel van God verdien, wat eintlik in die hel moes beland oor ons sonde. Laat ons dit onthou as ons vandag bly is oor die wonder van die doop. Laat ons dit in hierdie dae onthou as ons uitsien na Kersfees. Ons is sondaars.
Goddank vir Kersfees! Christus het mens geword om ons skuld te dra! Goddank vir die doop! Die bloed van Christus reinig ons van elke sonde.
Amen.