Van ons Ou Testament redaksie

JISREËL. – In ’n swart dag in die geskiedenis van Israel is koning Joram en sy ma, Isebel, vermoor deur een van die generaals van die leër, Jehu seun van Josafat seun van Nimsi.

Ook koning Ahasia van Juda, ’n kleinneef van koning Joram, het in die staatsgreep omgekom.

Dit lyk of dit maar net die begin van ’n bloedbad is, aangesien daar nog sewentig prinse uit Agab se geslag in Samaria is wat almal aanspraakmakers op die troon is. As Jehu die leisels van die land wil oorneem, sal hy ook hulle almal moet vermoor.

Sake lyk maar sleg vir die koningshuis van Agab. Al die generaals van die leër het, sover vasgestel kan word, aan Jehu trou gesweer. Daarby het die staatsgreep ’n godsdienstige kleur gekry toe dit bekend geword het dat Jehu vroeër die week in Ramot in Gilead deur ’n profeet in opdrag van Elisa tot koning gesalf is. Dit is bekend dat die Baäl-godsdiens wat Agab en sy vrou, Isebel, in Israel ingevoer het, sedert die dae van Elia ’n steen des aanstoots vir die aanbidders van Jahwe is. Elisa se toetrede tot die politieke stryd word as ’n groot sielkundige voordeel vir genl. Jehu beskou.

  • Lees meer oor hierdie hartseer tyd in Israel in 2 Kon. 9.

 

HOËPRIESTER ONTDEK WETBOEK IN TEMPEL

Koning Josia kondig uitgebreide hervormingsprogram aan

JERUSALEM. – Die restourasiewerk aan die tempel, waarmee koning Josia onlangs begin het, het ’n baie groot bonus opgelewer toe hoëpriester Gilkia die Wetboek van God in die tempel ontdek het.

Volgens die staatsekretaris, Safan seun van Asalja, het die koning diep onder die indruk gekom van die omvang van die volk se afvalligheid nadat hy die boek gelees het. Hy het sy klere in diepe rou geskeur, en onmiddellik opdrag gegee dat al die leiers van Juda en Jerusalem saam met hom na die tempel moes gaan. Daar het hy namens die hele volk opnuut ’n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here nougeset te volg ooreenkomstig die voorskrifte van die Wet van God.

Die koning het ook gister op ’n nuuskonferensie ’n uitgebreide veldtog aangekondig om alle afgodsdiens in Juda uit te roei. Hy het gesê dat hy persoonlik die veldtog sal lei. Hy het voorts ook opdrag gegee dat die Paasfees weer gevier moet word ooreenkomstig die bevele van God in sy Wetboek. Die fees sal op 14 Nisan begin en tot 21 Nisan duur.

 

STERFGEVALLE

DORKAS

Tabita. Ons geliefde vriendin, tragies heengegaan na ’n kort siekbed. Met groot hartseer neem ons afskeid. Wie sal nou vir ons en ons kinders sulke pragtige klere maak? Weduwees, Joppe.

 

DORKAS

Tabita. Met hartseer maar kosbare herinneringe neem ons afskeid. Jy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Die gelowiges in Joppe.

 

TIRUS & SION
RESTOUREERDERS

vir die afgelope 130 jaar

Ons spesialiseer in die restourasie
van groot geboue

“Betroubaar” is ons leuse!


Jy is óók belangrik

In die Bybel lees ons van groot figure: konings, profete, volksleiers. Ons lees van gelowige, vroom konings, soos koning Dawid, ’n man na God se hart (vgl. Hand. 13:22). Ons lees van koning Josia, van wie die Bybel vertel: “Daar was nie voor hom nog so ’n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so ’n koning soos hy nie” (2 Kon. 23:25). Ons lees ongelukkig ook van ander konings, soos Agab en sy vrou, Isebel, van wie God self sê (2 Kon. 9:7,8): “… Ek sal my wreek op Isebel … Ek sal elke manlike nakomeling van Agab in Israel sonder uitsondering uitroei.”

Dis egter nie net die leiers onder ons wie se dade van belang is nie. Daarom vertel die Bybel ons ook van ’n eenvoudige vrou Tabita. Sy het nie in hoë kringe beweeg nie. Tog het sy ’n besondere rol in Joppe gespeel deur haar liefdesdiens. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help (Hand. 9:36). Sy het ’n verskil aan haar wêreld gemaak met dit wat binne haar vermoë was. Jy kan ook!

image_pdfimage_print

Views: 10

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.