Maar ek voel nie altyd naby die Here nie

Joh. 3:14-21, 36
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:16)

Een van die grootste leuens wat Satan aan God se kinders vertel, is dat hulle seker kan wees hulle behoort aan God omdat hulle naby Hom voel. Het jy ook al vir dié leuen geval?

Dit is wonderlik om naby aan die Here te voel. Geen gelowige kan lewe sonder om by geleentheid hierdie geestelike ervaring te hê nie. Want as ’n mens naby die Here voel, gee dit jou nuwe entoesiasme en ywer vir die dinge van die Here. En dit is ’n heerlike bevestiging dat dít wat jy glo, tog nie fabels is nie.

Ongelukkig kan geen mens altyd so naby aan die Here voel nie. In ons stukkende wêreld is “af” dae helaas ’n realiteit waarmee ons almal te make het. Dit kan baie oorsake hê: ’n teleurstelling; spanning; beproewing; sonde. Veral sonde in ons lewe maak dat ons ver van God af voel. Die Bybel leer ons immers dat ons sonde skeiding maak tussen ons en God, soos Jes. 59:2 sê: “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” En Satan is meester daarin om hierdie situasie uit te buit. Hy is gou by om jou te vertel dat ’n kind van God nie sulke nare sondes doen soos jy nou gedoen het nie. Dus, só sê hy dan, kan jy onmoontlik ’n kind van God wees.

Dis natuurlik onsin. Jy is nie kind van God omdat jy nooit sonde doen nie, maar omdat Hy jou uit liefde sy kind gemaak het, ten spyte van jou sonde. Moenie jou sekerheid op jou gevoel bou nie. Bou dit op God se liefde vir jou!

image_pdfimage_print

Views: 14

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.