Wat nou van my sondes wat nie bely is nie?
Rom. 8:12-17
“. . . julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak . . .” (Rom. 8:15)
Jy glo waarskynlik vas dat God jou sondes vergewe as jy dit in berou voor Hom bely. Maar wat van die sondes wat jy nie bely (het) nie?
Stel jou voor jy en ’n vriend het ’n verskriklike uitval. Een ding lei tot ’n ander, en jy sê ’n hele paar goed wat jy nooit moes gesê het nie. In jou woede spring jy in jou motor en jaag weg, reg voor ’n trein in. Die volgende wat jy weet, is dat jy voor die regterstoel van God staan, en jy besef: jy het nooit met my vriend, óf met God, reggemaak nie . . .
Sal onbelyde sondes jou uit die hemel hou? Nee. Want hoe kan ons hemelse Vader sy kind uit sy huis wegjaag? Dit is immers wat jy word as jy die Here as jou Verlosser aanvaar, sê ons teks. En net so min as wat ’n aardse pa sy kind elke keer wat hy stout is, sal verwerp totdat die kind verskoning vra, net so min is jou saligheid in die weegskaal elke keer as jy sonde doen. Jesus het nie net vir die sonde wat jy klaar bely het, gesterf nie. Hy het vir ál jou sonde gesterf: die wat jy reeds gedoen het, die wat jy nog gaan doen, ook vir dié waarvan jy nie eens weet nie.
Wanneer jy jou lewe vir die Here gee, verander jou hele verhouding met God. Jy is nou sy kind. Soms is jy ’n stout kind, soms ’n koppige kind, soms ’n ongehoorsame kind, maar jy bly God se kind. Hy het jou duur gekoop: met sy eie Seun se bloed. En as jy as kind voor ons hemelse Vader leef, kan niks of niemand jou uit sy hande ruk nie (Joh. 10:28) – ook nie daardie sondes wat jy nog nie bely het nie.
Dís die weelde van die evangelie. Glo dit!