Ek het nie ’n datum nie
Heb. 3:7-19
“Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie . . . Ons behou ons deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Heb. 3:7,8)
Van belang vir jou sekerheid is nie presies hoe of wanneer jy die Here leer ken het nie; van belang is of Hy vandag in jou lewe Koning is. Dís die groot vraag wat jy moet beantwoord.
Ek het in die Transkei grootgeword waar my pa predikant van ’n Xhosa-gemeente was. Baie van sy lidmate kon nie hulle geboortedatum verstrek nie. Dit het hulle egter nie laat wonder oor die vraag of hulle dan regtig lewe nie!
Die Here Jesus praat van “opnuut gebore word” as Hy oor die begin van ons geloof praat (Joh. 3:7). Geen mens kan daarsonder ’n kind van God wees nie. Maar die presiese datum waarop die Gees hierdie nuwe geboorte in ons laat plaasvind, is van akademiese belang, en min mense wat in gelowige huise grootword, het ’n datum waarop hulle tot bekering gekom het. Soos Timoteus is dit met baie mense gesteld: vandat hulle kan onthou, was hulle al die Here s’n (vgl. 2 Tim. 1:5).
Natuurlik moet daar ’n tyd in elke gelowige se lewe kom waarin jy ’n geestelike verdieping ondergaan, ’n nuwe oorgawe aan die Here maak, of dalk vir die eerste keer regtig verstaan wat jy nog jou lewe lank glo. Maar presies wanneer dit gebeur het is minder belangrik.
Daarom moet jy jou nie laat ontstel deur mense wat daarop aandring dat jy ’n datum moet kan toon voordat jy kan sê jy is ’n kind van God nie. ’n Datum is hoogstens ’n handige verwysingspunt: eens op ’n tyd, op daardie en daardie dag, het jy geglo of ’n geestelike ervaring gehad. Maar ’n datum sê nog nie of jy vandag met oorgawe vir God leef nie – en dit is die eintlike belangrike vraag.
Views: 12