Sal ek kan volhou?
Rom. 5:1-11
“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom. 5:8)
Jy weet jy is ’n kind van God, en vandag lewe jy vir Hom. Maar watter waarborg het jy dat jy oor tien of twintig jaar nog sal glo?
Natuurlik kan jy geen waarborg gee dat jy oor ’n jaar nog sal glo nie. Want mense – jy ook – is feilbaar. En daarom, as dit van jouself afhang, is daar sekerlik ’n moontlikheid dat die duiwel en sy listige aanslae een of ander tyd vir jou te veel sal word, en jy kan afdwaal.
Gelukkig hang dit nie van jou af nie. Jy hoef nie waarborge te verstrek dat jy sal bly glo nie. God gee daardie waarborg. Dit is wat Paulus in ons gelese gedeelte verduidelik. God, sê hy, het die moeilike deel van ons verlossing klaar gedoen: Hy het ons in Christus Jesus verlos van ons sonde op ’n stadium toe ons niks van Hom wou weet nie. As God dan nou só ’n duur prys vir ons betaal het toe ons nog sy vyande was, is dit mos duidelik dat Hy, noudat ons nie meer sy vyande is nie, maar sy kinders geword het, ons sal bewaar en oppas tot met die wederkoms!
Om ’n beeld te gebruik: As jy alles wat jy besit, betaal om iets te bekom, sal jy dié duur ding mos so goed as kan oppas. En so pas God ons ook op. Hy keer ons telkens weer voor as ons wegdwaal. En Hy sal daarmee voortgaan tot die dag dat Hy ons kom haal om te deel in die heerlike erfenis wat Hy vir sy kinders berei het. Daarom belowe die Here Jesus in Joh. 10:28: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Waar wil jy ’n beter versekering hê?
Views: 17