Dit is vandag die laaste dag van 2021. ’n Mens skrik eintlik by die gedagte. Nog ’n jaar is verby. En wat ’n jaar was dit nie, met Covid en die plundering in KZN en Gauteng en die stygende petrolprys en die politiek en verval om ons, en die polisie se manewales …
Dit is waar wat die Psalmdigter (vs 9 en 10, 2020-vertaling) sê: Want al ons dae gaan verby onder u gramskap, ons voltooi ons jare soos ’n sug. Die dae van ons lewensjare – dit is maar sewentig jaar, en as die kragte daar is, tagtig jaar. En die beste daarvan is vol moeite en rampe; ja, dit gaan gou verby, en ons vlieg weg.
As ’n mens so na die lewe kyk, het jy amper nie moed vir die nuwe jaar nie. Geen wonder dat daar so baie pessimiste rondloop nie, en mense wat worstel met stres en met depressie, dat selfdood oor die wêreld heen in ’n krisis ontaard het. Elke 40 sekondes beëindig iemand sy eie lewe. Dit is meer sterftes as wat oorloë eis.
As ’n mens so na die lewe kyk, kan ’n mens die filosofie van baie mense verstaan: “Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons.”
Ek sê: As jy so na die lewe kyk, het jy amper nie moed nie. Daar is natuurlik ’n ander manier ook om na die lewe te kyk. Om die lewe te sien soos dit werklik is, soos dit lyk as God sy lig daarop laat val. Dit is ook hoe Moses in Ps 90 na die lewe kyk. Moses ontken nie die swaarkry en leed van die lewe nie, of die kortstondigheid daarvan nie. Hy besef ook dat dit ons eie skuld is dat die lewe so geword het. Hy sien, in God se lig, die mens se sonde duidelik uitstaan: U sien ons oortredinge raak, U bring die sonde wat ons wou wegsteek, aan die lig (vs 8). Maar dit dryf hom nie tot swartgalligheid en depressie nie, of ligsinnige plesierjagtery nie. Dit dryf hom na God.
Want in hierdie dolle gejaagde lewe is daar maar een Anker, Een wat die kuns van werklik sinvol te lewe, ken: God. Daarom begin hierdie psalm met die woorde: Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag. Daarom die gebed in vs 12 (2020-vertaling): Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ‘n hart vol wysheid kan verwerf. Daarom sluit hy ook af (vs 17) met die gebed dat die Here die werke van ons hande in stand moet hou.
Miskien is dit goed dat daar dae kom wanneer die tyd uitloop, tye kom dat die lewe ’n mens vasdruk, sodat ons kan sien hoe bankrot ons is vanweë ons sondigheid, hoe hopeloos ons eie pogings is om aan die lewe sin te gee, soos Moses, die digter van Ps 90, ook gesien het. Dit is goed dat ons stil word, sodat ons na God kan draai. Want Hy het altyd tyd vir ons wat geen tyd het nie. Hy bring vastigheid in ’n lewe waarin alles verander. Hy leer ons om die lewe te sien soos dit is: ’n gawe uit sy hand; ’n lewe waarin Hy sy liefde in oorvloed wil gee vir dié wat by Hom skuiling soek, sodat jy jou lewe lank kan juig en bly wees; ’n lewe waarin die blydskap wat God gee, nie net opweeg teen die dae en jare van swaarkry nie, maar dit ver oortref!
Moses sê: Laat God toe om jou elke oggend opnuut weer te verkwik (vs 14, 2020-vertaling): Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees. ’n Mens wat elke oggend opnuut na God vlug, God ontmoet en deur Hom verkwik word, verlep nie sommer en verdroog na die aand toe nie, maar sy lewe bly groen en vars – hy kan sy lewe lank juig en bly wees.
Broer en suster, die tyd gaan vinnig verby, skiet verby soos ’n gedagte. En 2022 sal nie anders wees nie. Ook hy sal omvlieg. Daarom, kom ons skuil in hierdie vlietende tyd by God, sodat Hy ons elke oggend kan versadig met sy troue liefde. Hy is ons toevlug. Hy het tyd vir ons vir wie die tyd so gou opraak. Hy ken die kuns van waarlik te lewe. Kom ons gaan dan die nuwe jaar in met die bede van vs 12 op ons lippe en in ons hart: Leer ons, o God, ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Amen.
Kom ons maak nou soos Moses. Kom ons kyk in ons geestesoog terug op die jaar wat verby is.
∙ Dalk was dit vir jou ’n moeilike jaar, ’n jaar van hartseer en afskeid van ’n dierbare. Dalk het die pandemie ook in jou gesin of vriende ’n draai gemaak. Dalk was daar ’n krisis in jou lewe; siekte of gebroke verhoudings of iets anders.
∙ Of dalk is daar dinge in die jaar wat vir jou uitstaan, waarin jy die besondere seën van die Here sien; hoogtepunte, prestasies, bevordering, vreugdes.
∙ Dalk is daar ’n groot verlange in jou wat in hierdie jaar nog nie vervul is nie; iets waaroor jy al lank bid, maar jy het nog nie die antwoord gekry waarop jy hoop nie.
Ek wil nou ’n tyd gee waarin jy kan terugkyk, en waarin jy met die Here kan praat oor die jaar wat verby is. As daar ’n vreugde is waaroor jy wil juig, kom steek ’n kers aan en prys die Here daarvoor. As daar iemand of iets is waaroor jy wil treur of waarvan jy wil afskeid neem, kom doen dit. As jy ’n gebed voor die Here wil kom lê, kom steek ’n kers aan en sê dit vir Hom.
Gebed vir die Oujaar
Hemelse Vader
Die jaar se asem is bykans op. 2021 is amper verby. Teen die spoed van een dag op ’n slag het die jaar voor ons oë verbygeskiet.
Ons dank U, Here, dat U op wie weet hoeveel maniere gedurende die afgelope jaar in ons midde aanwesig was:
∙ Toe dit donker was, het U u hemelse lig laat skyn.
∙ Toe slegte nuus in die omgewing was, het Jesus se Goeie Nuus opgedaag.
∙ Toe geweld en chaos gedreig het om oor te neem, het u vrede getriomfeer.
∙ Toe moed en hoop weggesyfer het in die sand, het die hoop wat U bring, in ’n paar harte bly brand.
Op wonderlike maniere het U u vingerafdrukke op ons lewens agtergelaat in die afgelope jaar:
∙ Toe ons gepleit het, het U op u eie maniere ons gebede verhoor.
∙ Toe ons brood by die hemel gaan bedel het, was Christus ons nogmaals genadig en het Hy van voor af met ons begin.
∙ Toe ons dors was, was Lewende Water altyd in die nabyheid.
O Here, U was en is steeds net een gebed ver.
En nou wink ’n nuwe jaar. Ons weet nie wat alles vir ons voorlê nie, maar ons weet U sal in die nuwe jaar met ons wees. Daarom dat ons 2022 kan omhels. Ons is nie alleen nie. Ons is nie soos mense sonder hoop nie. Alles en behalwe. Ons is u duurgekoopte eiendom. Tree vir tree loop ons saam met U, wat die Pad en die Eindbestemming is. In u Naam durf ons reuse aan en loop ons deur groen weivelde.
Dankie dat U ons hoop is!
Amen.
Views: 73