As die twyfel jou nie wil los nie
Mark 2:13-17
Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” (Mark 2:17)
“Dit kan nie waar wees nie. Jy is te sleg.” Dié woorde het die duiwel dikwels vir my gesê in my dae as jong gelowige, en dan het ek in die diepste dale van twyfel weggesink en was ek totaal hopeloos en onmagtig om staande te bly. Hoe kan die Here vir my, ’n treurige sondaar, lief wees? Ek verdien mos nie sy liefde nie! Ek verdien alles wat die Bybel leer oor die hel en die geween en die gekners van tande. Dis eenvoudig vermetel om te sê ek is God se kind.
Dis natuurlik waar wat die duiwel gesê het. Wie van ons is nou juis goed genoeg? Wie van ons verdien die ewige lewe? Maar tog is wat die duiwel sê ’n infame leuen, want Gód sê Hy het die sondaar lief, vir my ook. Vir Hom is niemand te sleg nie. Jesus het nie gekom vir die gesondes nie, maar juis vir die siekes (Markus 2:17).
Ek het toe die raad gekry om elke oggend opnuut wéér my lewe aan die Here oor te gee en aan Hom te bely dat ek in Hom glo en sy verlossing aanvaar. Elke enkele oggend moes ek dit doen, en daardie gebed bly jou die hele dag lank by. As die duiwel met sy twyfelsaaiery in my ore kom kerm, hoor ek dan weer die woorde van Johannes 1:12. Ek is nie verwaand as ek myself ’n kind van God noem nie. Gód gee my die reg. Wyk, Satan!