Baie van ons het grootgeword met die idee dat jou saak met God reg is as jy die Here Jesus as jou persoonlike Verlosser aangeneem het. Dan is jou plek in die hemel as ’t ware bespreek. Niks wat ons doen, kan ons plek in die hemel verseker nie. Die rede is dat ons sondig is; daarom kan ons verlossing nie van onsself afhang nie. Net Christus kan ons red, en al wat ons kan doen, is om te aanvaar en te erken dat ons verlore is en Christus nodig het om ons te red.
Dis hoe ons glo. Dis net genade; dis net deur geloof, net deur Christus wat ons gered kan word. Maar wat dan van ons dade? Is dit dan onnodig om goeie werke te doen? As ons gered word deur die geloof in Christus alleen en nie op grond van wat ons doen nie, is dit dan nog hoegenaamd nodig dat ons iets as Christen hoef te doen?
Hierdie vraag is so oud soos die evangelie self. Paulus het al met hierdie vraag te doen gekry, en hy skryf daaroor in Rom 6:15 as hy sê: Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet staan nie maar onder die genade? Beslis nie. En HK 64 skryf oor hierdie selfde probleem, in antwoord op beskuldigings:
Vraag: Maak hierdie leer (dat goeie werke jou nie red nie) nie die mens onverskillig en roekeloos nie?
Antw: Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie.
Dis onmoontlik, sê die HK. Dis heeltemal in stryd met die hele bedoeling van Christen-wees! En dit is die een gedagte wat Jesus in Joh 15 baie sterk beklemtoon. Vs 16 sê dit uitdruklik: Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou … En vs 8 sê dit ook: My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is. Ons is kinders van God om vrug te dra. Dit is hoekom God ons sy kinders gemaak het. Nie maar net om in die hemel te kom nie, maar om elke dag vrug te dra, sodat Hy daardeur verheerlik kan word. Dit is ons roeping as sy kinders, as lote van die hemelse Wingerdstok.
Dit is vanselfsprekend, sê die Here Jesus, dat die lote sal vrugte dra. En as die lote nie vrugte dra nie, as die vanselfsprekende tog nie gebeur nie en ’n Christen se lewe sonder enige vrug bly, dan sny God daardie loot af en gooi dit in die vuur, sê vs 2: Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Vs 6: As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
Vir die Here is dit baie belangrik dat ons lewens nie vrugteloos, sonder goeie werke mag wees nie. Al is dit so dat God ons red deur ons geloof in Christus, en dat ons dade niks by Hom verdien nie, beteken dit vir geen oomblik dat ons dade nie belangrik is of dat ons nie goeie werke hoef te doen nie.
Die goeie dade wat ons doen, die vrug wat ons lewens dra, maak ons nie God se kinders nie, dit gee nie vir ons ’n plek in die hemel nie. Maar tog is dit die noodsaaklike bewys dat ons geloof gesond is, dat ons as lote waarlik goed ingeplant is in die Wingerdstok. Want net as ons in die Here ingeplant is, kan ons vrugte dra. Daarom sê vs 4,5: Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
Ons word God se kinders sodat ons ’n verskil in die wêreld kan maak. Sodat ons daar waar ons werk, en daar waar ons woon, en daar waar ons ontspan, die sout van die aarde kan wees. En as ek Jesus se woorde in hierdie gedeelte reg verstaan, is dit nie onderhandelbaar nie. Ons móét vrug dra, anders word ons afgesny.
Maar hoe kry ons dit reg? Wat moet gebeur dat ons vrugbaar kan wees? Jesus se antwoord is duidelik: Ons moet in Hom bly (vers 4,5).
Eie pogings sal ons nêrens bring nie. Daarom, as ons gehoorsaam wil wees aan die Woord, moet ons nie huis toe gaan met die idee: Ek moet nou vrug dra nie, maar moet ons eerder huis toe gaan met die voorneme: Ek moet weer opnuut aandag gee aan my verhouding met die Here Jesus. Ek moet in Hom vasgroei. As ek nie in Hom vasgegroei is nie, sal ek ook nie vrug kan dra wat vir God sal verheerlik nie. Om Christen te wees, beteken nie net maar dat ek aan die kerk behoort en volgens ’n stel reëls my lewe inrig nie. Om Christen te wees, beteken om in ’n verhouding met Christus te lewe, een met Hom, sodat Hy my alles word, my hele lewe oorneem, soos Johannes die Doper gesê het, Hy meer word, en ek minder (Joh 3:30).
Die wonder is dat as ons elke dag só aan Hom vashou met die bede dat Hy ons in sy diens sal gebruik, dan doen Hy dit ook, en dan kom die vrug van die geloof, die vrug wat sal hou, as ’t ware vanself: Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, sê die Here in vs. 5. As ons aan Hom vashou, sal Hy die vrug in ons lewens werk, vrugte wat die hemelse Vader verheerlik.
Views: 211