Vuil taal
Toe my oudste broer al ‘n rukkie in Sub A was, kom hy eendag huis toe met ‘n hele paar nuwe woorde wat glad nie sag op die oor geval het nie. My ma was ontsteld en wou by hom weet waar hy leer om só lelik te praat. Hy sê toe ewe kordaat: “Dis hoe ons by die skool praat!” My ma se woorde bly my tot vandag by. “Die kinders by die skool praat miskien so, maar ons is die Here se kinders. Ons praat nie so nie.”
Ek was ‘n tyd gelede vir ‘n paar dae in die hospitaal. In dieselfde saal het ‘n ander man gelê wat baie siek was, en sy vriende het kom kuier. Dit was vir my nogal ontstellend om te hoor hoe een of twee van die vriende gepraat het. Blykbaar ken hulle nie baie beskrywende woorde nie, want feitlik alles is f sus of f so. En dit nogal in ‘n openbare ruimte waar ander kan hoor.
“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig,” skryf Paulus in Kolossense 4:6. Laat ek maar reguit sê, die f-woord is wat my betref, nie in goeie smaak nie. Vuil taal behoort nie deel van ‘n gelowige se woordeskat te wees nie (Efesiërs 4:29 en Kolossense 3:8), skryf die einste Paulus.
As ek op Facebook sien hoe mense wat ek weet Christene is, nie skroom om die f-woord en k** te gebruik nie, en dit selfs verdedig as iemand hulle daaroor aanpraat, raak ek naar, en ek wonder wat hulle maak met die Bybel se uitsprake oor hoe ons behoort te praat.
My swaer het hieroor opgemerk dat iemand wat só praat, nie naby die Here leef nie, en ek is geneig om met hom saam te stem. Ag nee wat. Ons is beter as dit.
Views: 56