Ons het in die vorige twee weke gesien dat ons nie kinders van God is omdat ons iets by God verdien nie; ons kan net sy kinders wees omdat Hy ons liefhet en ons daarom red deurdat Christus aan die kruis vir ons sondes betaal het. Wat God van ons vra is om Christus se offer aan die kruis gelowig te aanvaar. Dit beteken nou nie dat ons kan sê: Nouja, God red my en ek kan nie iets van my kant bydra om gered te word nie, daarom kan ek maar agteroor sit nie. Nee, ons het gesien dat ons hele bestaan as gelowiges daarop gemik is dat ons lewens sal vrugte dra, soos vs 16 dit so pragtig sê: Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.

Vandag kom ons by die vraag: maar hoe lyk hierdie vrugte wat ons lewens moet dra?

Uit die gedeelte wat ons gelees het, is dit duidelik dat die vrugte wat ons moet dra as lote van die ware Wingerdstok, as kinders van die Here, as gelowiges, LIEFDE is. In hierdie paar verse kom die begrip liefhê altesaam 9 keer voor, sodat ’n mens dit net nie kan mislees nie, en boonop word die opdrag dat ons moet liefhê, 5 keer gegee in hierdie verse. Maar dan is dit nie sommer gewone liefde nie; dit is liefde soos die Here Jesus vir sy dissipels het, liefde soos die Vader vir die Here Jesus het (vgl vs 9, 12).

Julle sal onthou dat ek verlede week gesê het: as ons wil vrug dra, moet ons nie by die vrugte begin nie, maar by ons verhouding met Christus. Daarom – as ons wil liefhê, moet ons ook by Christus gaan leer wat liefde beteken. Daarom sê Hy nie hier bloot vir ons dat ons mekaar moet liefhê nie, maar begin Hy eers deur vir ons te vertel dat Hy ons liefhet, en dan vra Hy dat ons sy liefde ons eie moet maak (vs 9). En ons moet dit maar weer goed hoor: as ons vrug wil dra, moet ons begin by ons verhouding met Christus. As ons wil liefhê soos Hy dit van ons vra, moet ons begin deur Hom lief te hê, dan sal sy liefde ook begin om ons lewens te verander.

Hoe lyk hierdie liefde van Hom dan?

Dit lyk vir my, as ek hierdie gedeelte reg verstaan, dat hierdie liefde nie in die eerste plek ’n ding is wat ’n mens doen nie, maar ’n ingesteldheid, ’n lewensbenadering wat jou daartoe dryf om dinge te doen. Miskien is ’n goeie woord hiervoor “deernis”. Dit sien ons so duidelik in die hele mensword en sterwe van Christus: omdat Hy ons liefhet, omdat sy hart bloei vir ons mense wat so verlore in ons sonde is, daarom het Hy na die aarde gekom, mens geword en in ons plek aan die kruis gesterf. Sy liefde vir ons het Ho uitgedryf om iets vir ons te doen, vir ons wat dit nie verdien nie, wat vol sonde is. Maar omdat Hy ons liefhet, kyk Hy verby ons sonde, reken Hy die kwaad nie toe nie, soos 1 Kor 13 so treffend sê.

Ek sê: Christus se liefde is gekenmerk deur ’n deernis vir ons, en dit het Hom uitgedryf na ons om ons te kom red.

Dit is hierdie soort liefde wat Hy ook van ons vra. Daarom sê Hy ons moet in sy liefde bly (vs 10), ons moet mekaar liefhê soos Hy ons liefhet (vs 12). Die Here vra van ons dat ons mekaar moet liefhê, verby die ander se foute en sonde moet kyk en die mens ten spyte van al sy foute lief te hê, omdat ons nooit mag vergeet nie dat ons in God se oë ook sondig en ellendig is. En hierdie liefde vir ander, hierdie deernis met ander se nood, moet ons uitdryf daartoe om mekaar te help, by te staan, te ondersteun.

(In die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan onderstreep Jesus ook hierdie punt as Hy verduidelik wat dit beteken om jou naaste lief te hê, nie waar nie? Die Samaritaan se liefde het uitgekom daarin dat hy die man in nood innig jammer gekry het, en daarom help hy hom, anders as die priester en die Leviet.)

Die Here sê: Die resultaat van ons verbondenheid met Hom, die vrug wat ons lewens moet kenmerk, is liefde. As die liefde nie daar is nie, is al die goeie dinge wat ek doen, tevergeefs. Dan kan ek die Bybel stukkend lees en my knieë deurbid, dan kan ek pragtig preek en alles van God weet wat moontlik is, dan kan ek alles wat ek het vir ander mense gee of vir die kerk gee, dit sal nie help nie. Sonder liefde is daar gee vrug nie. Sonder die liefde kan ek nie God verheerlik nie. Sonder die liefde is ek nie ’n kind van God nie. Want sonder die liefde word ’n mens verwaand, sien jy neer op ander wat nie soveel weet soos jy weet van God nie, of nie so hard werk soos jy vir die kerk nie.

Daarom kan ons gerus onsself toets aan wat die Bybel sê oor die liefde en kyk of ons daaraan beantwoord – en as ek nou hierdie paar verse uit 1 Kor 13 lees, moet jy asb nie dink hoe ver jou buurman of die man hier voor tekortskiet aan hierdie eis nie; toets asb jouself.

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles …

Lyk jou lewe so? Dra jou lewe hierdie vrug? Gal 5:22 beskryf hierdie vrug nie net met die woord liefde nie, maar noem ook die kenmerke van ’n lewe wat deur die liefde van God beheers word, was hy sê dit is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Hoe min van hierdie dinge is sigbaar in ons lewens! Hoe dikwels is die teendeel nie van ons waar nie: vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns …! Wat sal die Here sien as Hy kom om vrugte in ons lewens te soek? “Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie,” sê Jesus in Joh 15:2, “sny Hy af.”

Kom dan, kom ons verbind ons opnuut vandag aan Christus, die ware Wingerdstok, sodat ons, in verbondenheid aan Hom, vrugte van liefde kan dra, vrugte wat ons Hemelse Vader sal verheerlik.

image_pdfimage_print

Views: 75

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.