Die einde van die Dawidiese konings in Juda breek aan
Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – In ’n bisarre magspel het die koninginmoeder, Atalia dogter van wyle koning Agab en Isebel van Israel, al die prinse in die Ryk van Juda laat doodmaak. Nie net haar seun Ahasia se nefies is gedood nie; sy het ook haar eie kleinseuns laat doodmaak en haarself tot koningin uitgeroep.
Dié moorde volg op die dood van haar seun, koning Ahasia, aan die hand van koning Jehu van Israel tydens sy onlangse staatsgreep daar.
Die burgers van die land is verslae en met weersin vervul oor die grusame gebeure van die afgelope paar dae. Pas moes hulle verneem dat hulle koning tragies vermoor is ná ’n kortstondige bewind van een jaar, en nou hierdie skok.
Die ontstellende implikasie van dié staatsgreep is gister deur die hoëpriester Jojada uitgewys toe hy gesê het dat dié staatsgreep nie net polities nie, maar veral ook uit ’n godsdienstige oogpunt ’n ramp vir die Koninkryk van Juda is. “Dit was nie sommer net ’n klomp prinse wat daardie bose vrou vermoor het nie. Dit was die nageslag van koning Dawid, die man na God se hart! God het aan hom belowe dat daar altyd ’n nakomeling van hom op die troon sal sit. En nou is hulle almal dood. Die afleiding wat ek maak, is dat Atalia hiermee nie net die koningsgeslag uitgewis het nie. Sy het die koninkryk van Juda vernietig.”
Hoëpriester Jojada het ook sy kommer uitgespreek oor die voortbestaan van die tempeldiens. Dit is ’n bekende feit dat Atalia, net soos haar ma Isebel, ’n vurige aanhanger van die Baäls is, en nie veel erg het aan die diens aan die Here, die God van Israel, nie. Onder haar invloed het haar man, wyle koning Joram, al klaar die pad byster geraak. Met haar aan bewind kan dit net slegter gaan, het hy gesê.
Teen laat gisteraand was die toestand in die stad uiters gespanne, maar kalm.
- Jy kan meer van Atalia se invloed en optrede lees in 2 Kron. 22:1-10.
“Dubbelbruidegom” verdwyn sonder om te groet
HARAN. – Die dubbele skoonseun van Laban seun van Betuel, ’n bekende veeboer van die distrik, het die afgelope naweek sonder ’n woord verdwyn met sy vrouens en vee en al. En dit nadat hy twintig jaar lank die gasvryheid van sy skoonpa geniet het.
Dié ondankbare skoonseun is Jakob seun van Isak. Hy het twintig jaar gelede sonder ’n sent op sy naam uit Israel in Haran aangekom. Laban het hom oor die jong man ontferm. Kort daarna het daar huweliksklokkies gelui toe eers Laban se oudste dogter Lea, en ’n week later sy ander dogter Ragel, met die aantreklike kêrel in die eg verbind is. Destyds is spottenderwys van die kêrel as die “dubbelbruidegom” gepraat.
Die skoonseun kon nie ’n bruidskat gee nie, en daar is ooreengekom dat hy sewe jaar vir sy skoonpa sou werk vir elke dogter. Daarná het hy nog ses jaar by sy skoonpa gebly. Die reëling was dat al die gestreepte en bont vee sy beloning sou wees. Nou het hy egter vertrek met vee en al voordat die goedhartige skoonpa kon seker maak dat daar net bont vee in sy kudde is.
’n Ontstoke en ontnugterde Laban het gesê hy moes dié soort optrede van Jakob verwag het. “Hy het destyds by my aangekom toe hy uit Kanaän moes vlug nadat hy sy eie pa en broer bedrieg het. Ek was ’n gek om hom te vertrou,” het hy gesê.
Laban en sy seuns is vanoggend inderhaas uit Haran weg om Jakob agterna te sit.
- Lees dit in Gen. 30:25–31:55.
KEURBETREKKING
Vakatures bestaan vir priesters
by die
BAÄLTEMPEL in JERUSALEM.
Aantreklike vergoedingspakket
Vir meer inligting kontak
Mattan, Baältempel.
Ouerskap
Ahasia het nie ’n kans gehad nie. Want sy goddelose ma, Atalia, “was die een wat hom raad gegee het”, lees ons in 2 Kron. 22:3. En daarmee het die geskiedenis van Juda ’n laagtepunt bereik. Die invloed van Atalia en Isebel het sy spoor gelaat.
As ons in Gen. 37 lees hoe Jakob se seuns hulle boetie Josef sonder skroom as slaaf verkoop het, moet dit ons ook nie verbaas nie. Hulle pa, Jakob, was dan hulle voorbeeld!
Ek wonder of ons aldag besef watter geweldige invloed ouers op hulle kinders het. Die spreekwoord lui: “Jy kry nie probleemkinders nie; net probleemouers.” Want ’n ontspoorde mens se verkeerde pad begin dikwels in ’n huis waar hy óf ’n verkeerde voorbeeld, óf te min aandag en liefde gekry het.
Kinders is geskenke van die Here. Ons moet hulle koester!