Waar die hart van vol is, loop die mond van oor

As ons dink oor hoe ons praat, gaan dit nie net oor vuil taal nie. Dit gaan ook oor hoe ons met mekaar praat. Dit sien ‘n mens duidelik as mense op Facebook van mekaar verskil, of in die kommentaar onder ‘n koerantberig.

In my diensplig-jare het ek as kapelaan Maandae ‘n godsdiensperdiode vir die hele basis gehad. Een oggend het ek gepraat oor hoe afgryslik die offisiere en onder-offisiere met die troepe praat. Toe ek klaar was, staan die bevelvoerder op en sê: “Ons sê dankie vir die dominee. Die dominee sê nou wel ons moenie lelike goed vir mekaar sê nie, maar ék sê dis orraait.”

Maar hoe gemaak as slegte gedagtes in jou kop opduik? As ’n snedige opmerking of ’n lelike woord asof vanself op jou tong spring voor jy kan keer? Is daar ooit iets aan te doen?

Dit lyk my tog so. Sorg dat daar nie ’n bron vir hierdie lelike woorde en gedagtes in jou binneste is nie. Die Here Jesus het in Lukas 6:45 gesê: “Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” Sy raad kan ons só omskryf: Prop jou kop vol mooi dinge, dan sal daar nie plek wees vir die slegte gedagtes nie, en dan sal daar ook nie lelike goed by jou mond uitkom nie. Dis ook Paulus se raad in Filippense 4:8: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Dis nie so maklik soos dit klink nie. Dit vra dat jy doelbewus sal fokus op dit wat mooi is in die lewe en veral ook in die mense om jou. Dis natuurlik nie hoe ons is nie. Van nature sien ons eerder die lelike en die verkeerde raak; wil ons ander afkraak en afskryf. Jesus het mos gepraat van die splinters wat ons so gou is om uit te wys, terwyl die balk in ons eie oog onaangeraak bly (Matt 7:3). 

Dis nie maklik nie, maar wie het gesê dis maklik om ’n gelowige te wees? Om die waarheid te sê, dis onmoontlik as jy dit uit jouself probeer. Dit word eers moontlik as jy God toelaat om jou te verander, om jou denke te vernuwe (Romeine 12:2) en jou gedagtes nuut te laat word (Efesiërs 4:23). Dit vra dat jy elke dag jouself opnuut onder die Here se leiding stel, dat sy Gees jou kan beheer.

image_pdfimage_print

Views: 46

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.