Barnabas is dadelik te vinde vir die plan. “Ek skryf sommer vandag nog ’n brief vir Johannes.”
“Nee, hy gaan nie saam nie,” sê Paulus kalm, maar sy maag trek op ’n knop.
“Toe ons in Jerusalem was vir die vergadering, het hy vir my gesê hy is nou gereed vir die ontberings en uitdagings wat ’n sendingreis stel, en ek dink ook so. Hy het geestelik geweldig gegroei die laaste twee jaar. Hy verwyt homself baie omdat hy destyds halfpad omgedraai het.”
“Watwou halfpad. Ons het maar pas begin!” ontplof Paulus. “Ek kan nie glo jy wil hom weer saamvat nie. Ek het hom destyds daar in Perge gesmeek om ons nie in die steek te laat nie, maar hy wou nie hoor nie. Jy was by, jy behoort dit tog te onthou.”
Barnabas knik en antwoord bedaard: “Ek onthou dit baie goed, ja, want ek het baie sleg gevoel oor die hele besigheid. Jy het nog gesê as hy ons los en omdraai, gaan jy hom nie weer ’n kans gee nie, maar ek het gesê ek dink nie ons hoef toe al ’n finale besluit oor die saak te neem nie. En ek was reg. My neef verdien nog ’n kans.”
“Hoe kan jy so sê? Jý was die een wat die spit moes afbyt toe ek siek geword het. As Markus ons nie soos ’n sleg slaaf gelos het nie, kon hy jou gehelp het! Maar nee, mamma se seuntjie spring op die eerste die beste skip terug huis toe, en ons moet maar sien en kom klaar sonder hom.”
“Ek hou nie van die manier waarop jy van hom praat nie,” sê Barnabas, nou nie meer so kalm nie.
Paulus loop heen en weer in Barnabas se huis, te opgewerk om te sit. Hy beduie woes met sy hande terwyl hy praat. “Ek sê net wat gebeur het. Hy het sy eie getuigskrif geskryf, en daarop staan in groot letters: ONBETROUBAAR. En jy wil die kêreltjie sowaar weer saamvat! Wat het die Here nou weer gesê van iemand wat die hand aan die ploeg slaan en omkyk?”
Barnabas haal diep asem om kalm te word, maar slaag nie heeltemal daarin nie. “Mense kan verander, Paulus. Johannes het verander. Ek weet, want ek ken hom al vandat hy ’n babatjie was. Hy sal ons nie weer in die steek laat nie.”
“Nee, hy sal nie, want hy gaan nie weer saam nie.”
“Maar ek het hom belowe hy kan saamgaan as ons weer gaan.”
“Hoe kón jy? Jy kan mos nie so iets belowe sonder om met my te praat nie. Dis nie net jy wat op reis gaan nie! Oor my dooie liggaam vat ek jou nefie saam.”
Barnabas staan nou ook op en hou sy hande pleitend na Paulus toe uit. “Liewe land, Paulus, watter soort mens is jy? Is daar niks genade in jou hart nie? Mense maak foute, maar hulle kan hulle foute weer regmaak ook. Johannes wil sy fout baie graag regmaak, as jy hom net ’n kans wil gee.”
“Luister hier, moenie vir mý kom staan en beledig omdat jóú nefie drooggemaak het nie!” sis Paulus, nou behoorlik ontstoke.
“Dit was nie ’n doodsonde wat hy begaan het nie, hy was maar net nog nie gereed vir die uitdagings van ons reis nie. Maar jy maak of hy min of meer die tempel afgebrand het of melaats is of iets.”
“Ek maak niks nie, Josef Barnabas van Siprus. Dis jý wat maak. Jy het eiegeregtig opgetree toe jy wilde beloftes aan daardie niksnuts gemaak het. Jy maak of jou nefie ’n engel uit die hemel self is, en dit terwyl hy ons liederlik in die steek gelaat het. Jy kan hom ’n honderd maal hierheen laat kom, dit sal alles verniet wees, want ek vat nie onbetroubare drosters met my saam nie en klaar!”
“Nou maar dan sál ek hom hierheen laat kom, Saul Paulus van Tarsus, en jy kan na jou swernoot gaan. Jy hoef hom nie saam te vat nie, dankie. Ek sal hom saam met mý vat!” skree Barnabas met sy vinger onder Paulus se neus, heeltemal buite homself van woede.
“O, en waarheen gaan jy en jou simpel nefie nogal, Meneer die Sendeling?”
“Dit het niks met jou uit te waai nie, Meneer die Hoogheilige!”
“Goed, dan gaan jy!”
“Goed, ek sal!”
***
Lank nadat die galms van die deur wat toeklap, weggesterf het, staan Barnabas nog in die middel van die vertrek. Sy hande bewe van ontsteltenis. Later kies hy koers, af na die Orontes-rivier, maar die sagte gemurmel van die water help niks om hom tot bedaring te bring nie. Diep binne-in hom weet hy dat daar ’n verskriklike ding gebeur het; dat hy en Paulus nooit weer sal kan terugkeer na ’n tyd toe hulle sonder enige probleme saamgewerk het nie. Hy wéét hy behoort dadelik na Paulus toe te gaan en te probeer om die skade te herstel, maar ’n koppige streep in hom hou hom terug. Paulus het die hele gemors begin met sy halsstarrige weiering om na enigiemand anders se opinie te luister. Hy het nou genoeg gehad van sy baasspelerigheid. Johannes verdien ’n tweede kans, en hy het hom dit belowe. Hy sal nie teruggaan op sy woord nie. Hy kan nie. Dit sal Johannes se hart breek. En buitendien, Johannes hét verander. Hy kan vorentoe nog baie beteken vir die werk van die Here, maar dan moet hy nou gehelp word om die eerste tree te gee.
Hoe meer hy daaroor dink, hoe sterker voel hy oor die saak. Johannes gaan saam met hom, al beteken dit ook hy moet sy eie reis onderneem. Ná wat tussen hulle gesê is, weet hy in elk geval nie of hy kans sien om weer saam met Paulus te reis nie.
Hy stap met lang treë na die markplein, haastig om die tyding weg te kry na Johannes. Daar sal sekerlik ’n handelaar wees wat ’n boodskap vir hom na Jerusalem kan saamvat.
Paulus probeer om die ontsteltenis uit hom uit te werk met naald en seil, maar dit deug nie. Hy steek sy hande gaar, want hy kan nie op die werk konsentreer nie. Barnabas het nie reg gemaak nie. Goed, Markus kon in die twee jaar verander het, maar Barnabas moes darem regtig eers met hom kom praat het voordat hy allerhande beloftes aan die mannetjie gaan staan en maak het. Hoe kon hy so ’n ding doen? Barnabas weet baie goed hoe hy oor die saak voel. Hy onthou dan die gesprek in Perge feitlik woordeliks!
“Eina!” roep hy kliphard uit toe hy homself die soveelste keer raak steek. Moedeloos smyt hy die seile eenkant toe en suig aan sy wysvinger om die bloeding te keer, maar dit help nie. Dit sypel uit ’n klomp gate in sy hand. Hy staan op, gooi ’n bietjie water oor sy bloeiende vingers en draai dan ’n lap om sy hand. Toe stap hy uit sy werkswinkel, straataf na Barnabas se plek. Dit help nie. Hy kan nie in onvrede met sy beste vriend gaan slaap nie. Hy skaam hom vir sy gedrag. Hy het goed kwytgeraak wat nooit gesê moes gewees het nie en wat hy ook nie bedoel het nie. Hy sal om verskoning moet vra.
Barnabas is nie by die huis nie. Paulus wag meer as ’n uur en gee toe moed op. Hy sal die môre maar weer probeer.
Hy kan egter glad nie tot bedaring kom nie en bly rondrol in sy bed. Die hele nag sien hy die pyn in Barnabas se sagte oë, die seerkry op sy gesig; hoor hy sy eie stem, skril van woede.
***
Toe die eerste lig van die nuwe dag vaal in die kamer inkom, staan hy op. Sy lyf pyn, sy kop klop, sy oë gee sulke steke, sy hart is stukkend. Hy was sy gesig en kies in die oggendskemerte koers na Barnabas se huis en klop aan. “Barnabas! Dis ek, Paulus,” roep hy.
Die deur gaan oop, maar Barnabas staan nie opsy sodat hy kan inkom nie. Hy bly roerloos in die deur staan of hy geplant is. Hy glimlag nie. Hy groet hom nie. Hy nooi hom nie in nie. Hy staan net daar, uitdrukkingloos.
“Ek was gister ook hier, maar jy was uit.”
“So. Nou moet ek aan jou verduidelik waar ek rondloop.”
“Asseblief, Barnabas, dis nie wat ek bedoel nie. Ek bedoel ek het gister al vir jou kom soek om te sê ek is jammer. Dis wat ek bedoel.”
Barnabas se skouers ontspan effens, maar hy gee steeds nie pad uit die deur nie.
“Kan ek inkom, asseblief?”
Barnabas staan nog ’n rukkie so, sug dan en staan eenkant toe. “Goed dan. Kom in.”
Hulle sit in dieselfde stoele as die vorige dag. Barnabas steek nie ’n lampie op nie, en in die skemerte van die vroeë oggend lyk sy gesig grys en stroef.
“Ek is baie jammer oor gister,” sê Paulus weer. “Ek het goed gesê wat ek nie bedoel het nie.”
“Niemand het nog ooit só met my gepraat nie, of my familie so beledig nie,” sê Barnabas emosieloos.
“Ek wens ek kon gister oor kry. Ek sou dit wat ek gesê het, so graag wou uitvee, want ek weet ek het jou baie seer gemaak en beledig, en vir Markus. En dis nie waar wat ek gesê het nie, Barnabas. Ek was verkeerd. Ek weet nie wat my makeer het om sulke goed kwyt te raak nie. Jy is die wonderlikste mens wat ek ken. Jy het ’n sagte hart en ’n deernis met mense wat ek wens en bid om te hê. Jy glo in mense en in wat God met mense kan regkry, en ek leer dit by jou. Dis vir my moeilik, maar ek probeer. So, vergewe my asseblief, Barnabas.”
“Dis te laat, Paulus; ek het klaar besluit. Ek en Johannes gaan Siprus toe. Ek het gister al vir hom laat weet hy moet dadelik kom.” Daar is nie woede in sy stem nie, maar ook nie warmte nie. Net ’n leegheid, ’n moegheid.
“Dit maak nie saak nie. Markus kan maar kom en saam met ons gaan. Jy is reg, ek moet hom weer ’n kans gee, en ek wil ook, regtig.”
Barnabas skud sy kop. “Dit sal nie werk nie, Paulus. Ek het daaroor gedink, en ek het besluit dis beter as ek en hy alleen gaan. Hy is nog ’n bietjie … broos ná die ongelukkigheid van die eerste reis. As ek en hy op ons eie is, kan ek hom beter help en touwys maak.”
“O, ek sien.” Paulus staan op. Hy voel lus om te huil, maar hy byt die trane terug. “Nou dan loop ek maar weer. Ek is jammer ek het jou so vroeg wakker gemaak. Ek het gehoop ons kon vrede maak,” voeg hy lamlendig by en stap weg, alte bewus van Barnabas se onvergewende blik op sy rug.
Hy dwaal doelloos deur die strate. Sy hart pyn in sy bors, en in sy keel steek dit so dat hy beswaarlik kan sluk. Hy voel die ou bekende drukking in sy oë soos hulle begin swel. Hy sal by die huis moet kom, anders gaan hy later nie kan sien waar hy loop nie.
By die huis spoel hy sy oë met soutwater uit, smeer salf aan en gaan lê op sy bed in die donker. Al wat daar nou te doen is, is om te wag dat sy oë moet bedaar.
Daar is ’n groot leegheid in hom. Hoe lank kom hy en Barnabas al saam? Dit het begin toe hy alleen in Jerusalem opgedaag het, dertien jaar gelede, en Barnabas hom aan die gemeente voorgestel het toe almal vir hom bang was. En toe, sewe jaar gelede, het Barnabas hom in Tarsus gaan haal om hier in Antiogië saam met hom te werk. ’n Jaar en ’n half lank het hulle saam gereis, saam gelag, saam gehuil. En toe hy langs die pad siek geword het, het Barnabas hom soos ’n babatjie opgepas. En nou het Barnabas hom afgeskryf.
Deur die loop van die dag sluimer hy in. Hy droom hy en Barnabas stap saam op ’n nou bergpaadjie in die Taurusberg. Aan die een kant gaap ’n afgrond. Hulle loop en gesels. Barnabas lag oor iets en wil sy arm om sy skouer sit, maar hy wat Paulus is, stamp hom weg. Barnabas verloor sy balans en val oor die afgrond. Hy gryp na Barnabas om hom terug te pluk, maar die materiaal van sy klere skeur. Die laaste wat hy sien, is sy vriend se groot, vraende oë, en dan is hy weg, die donker afgrond in.
Paulus skrik met ’n ruk wakker. Sy hart klop onbedaarlik en die sweet tap hom af. Sy mond voel soos leer, so droog is dit. Hy kom regop en besef tot sy verligting dat hy gedroom het. Maar dan spoel die leegheid weer oor hom. Hy hét vir Barnabas van hom af weggestamp. Groot, gemoedelike, wonderlike Barnabas. Hy het nooit besef dat hy deur die jare so swaar op hulle vriendskap gesteun het nie.
Hy staan op en merk dat dit al laatmiddag is. Sy oë het effens gesak, sodat hy darem uit hulle kan sien. Hy is skielik rasend honger, want hy het die hele dag nog niks oor sy lippe gehad nie. Hy strompel na die kosrak, maar dié is leeg. Net ’n paar stukke droë brood lê in ’n bakkie op die tafel. Hy wou nog vanoggend gaan kos koop het, onthou hy. Maar dis nou te laat, die mark sal al toe wees. Hy sal by iemand kos moet gaan leen, maar by wie? Tot gister sou hy vanselfsprekend na Barnabas toe gegaan het, en dié sou hom genooi het om by hom te eet. Maar dit was gister.
“Here Jesus, vergewe my my dwaasheid en my slefbeheptheid,” bid hy. “Help my om te sterf aan myself, dat U in my kan leef.”
Hy gooi ’n bietjie water in die bakkie met die droë brood, en toe die brood die water opgesuig het, eet hy dit sommer so staan-staan. Die pappery smaak nie eintlik na iets nie, maar dis darem beter as niks. Daarna drink hy drie bekers water om sy maag vol te kry.
Hy kan aan niks kom nie, want sy gedagtes dwaal elke keer terug na die rusie. Hy weet nie wat hy moet doen nie. Sal hy weer ’n keer gaan probeer regmaak? Moet hy wag tot Barnabas na hom toe kom?
Einde ten laaste trek hy die deur agter hom toe en loop na Manaen se huis. Miskien het hy raad. Hy is heelwat ouer en wyser. Dalk weet hy wat om te doen.
“Jy lyk sleg, Paulus,” sê Manaen toe hy die deur oopmaak. “Is daar iets verkeerd?”
Paulus knik. “Kan ek inkom, asseblief?”
Manaen se vrou bring vir hulle elkeen ’n beker dikmelk en ’n paar gedroogde vye, en Paulus moet keer of hy vergryp hom aan die kos.
“Ek en Barnabas het woorde gehad,” val hy met die deur in die huis toe hy gaan sit.
“Dit gebeur maar met ons almal van tyd tot tyd.”
“Ja, maar nie só nie. Dit was ’n lelike rusie. Ek het dinge gesê wat kon gebly het, en toe word hy kwaad. Ek het vanoggend om verskoning gaan vra, maar hy het nie daarop gereageer nie.”
“Waaroor het dit gegaan, as ek mag vra?”
“Sommer oor ’n simpel ding. Ek het vir hom gevra om saam met my na die gemeentes in Galasië toe te gaan. Toe sê hy hy sal vir Markus laat weet, want hy het sy nefie belowe hy kan volgende keer saamgaan. Toe sê ek oor my dooie liggaam, hy het ons laas in die steek gelaat.” Paulus laat sy kop in sy hande sak. “Ek was baie ontsteld. Ek het sommer in hulle karakter ingeklim.”
Manaen dink lank voordat hy antwoord. Dan sê hy: “En Barnabas? Het hy ook dinge gesê wat kon gebly het?”
“Ja, maar dit was eers toe ek hom kwaad gemaak het. Toe sê hy ek het nie genade in my hart nie, en sulke goed. Maar dis nie sy skuld nie, Manaen. Dis alles my skuld.”
Manaen hou sy hand op. “Ek probeer nie skeidsregter speel nie, Paulus. Ek wou maar net weet. Want soos ek vir Barnabas ken, sal hy ook sleg voel oor wat hy gesê het, net soos jy. So, uiteindelik sal hy jou verskoning aanvaar.”
“Dit het nie so gelyk toe ek vanoggend daar was nie.”
“Gee hom kans, Paulus. Hy is nie soos jy nie. Jy is ’n man wat vinnig kwaad word, dan reageer jy, en dan koel jy weer vinnig af, en dan is dit oor. Maar Barnabas is nie so nie. Hy word nie sommer kwaad nie, soos jy weet. Om die waarheid te sê, het ek hom nog nooit kwaad gesien nie. Maar ’n mens wat lank vat om kwaad te word, bly ook sommer lank kwaad as hy eers uit sy humeur is. Hulle sê mos: Pasop vir die woede van ’n geduldige man.”
“Ek het gedink ek sal vanaand weer na hom toe gaan en weer probeer vrede maak,” sê Paulus afgehaal. “Ek kan nie aangaan terwyl hierdie ding tussen ons is nie. Ek kan aan niks kom nie.”
Manaen skud sy kop. “Ek sal jou nie aanraai om vanaand na hom toe te gaan nie. Hy moet op sy eie tyd oor sy woede kom.”
“En sê nou hy is al op die skip halfpad Siprus toe voor dit gebeur?”
“Kom ons bid dit gebeur nie so nie.”
***
Paulus wag die hele week, maar Barnabas kom nie. By hulle weeklikse gebedsbyeenkoms groet hy vir Paulus terug, maar sonder vriendelikheid.
Toe die sabbat aanbreek, begin Paulus paniekerig raak. Die volgende dag moet hy by dokter Lukas se huis die nagmaal gaan bywoon, en hy weet nie hoe hy dit kan doen nie. Het die Here nie gesê jy mag nie jou gawe na die altaar bring as jou broer iets teen jou het nie? “Gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe,” het die Here geleer.
Die middag stap hy weer na Barnabas se huis toe. Dis nou al vyf dae sedert hulle rusie gemaak het. Miskien het Barnabas intussen bedaar. Maar toe Barnabas die deur oopmaak, sak sy moed, want sy gewese vriend staan stroef daar en nooi hom nie in nie.
“Wat moet ek doen om reg te maak wat ek verbrou het?” vra Paulus verslae. “Ek kan nie so aangaan nie, Barnabas. Jou seer brand soos ’n vuur in my maag. Ek wens ek kon Maandag uitwis, maar ek kan nie. Ek kan net sê ek is baie, baie jammer, met my hele hart.”
“Jy het dit al gesê, en ja, jy is reg. Jy kan dit nie uitwis nie, net so min as wat jy ’n erdekruik kan heelmaak wat gebreek het. Jy het ons vriendskap aan skerwe laat spat, Paulus. Dis verby. Kry dit nou in jou kop. Ek en jy sal daaraan gewoond moet raak, en daarmee moet saamleef.”
“Ek pleit by jou, Barnabas, om Christus ontwil. Ons is broers! Ons mag nie so uitmekaar spat nie. Hoe kan ek môre by die tafel van die Here aansit as ek weet jy is kwaad vir my? Ek sal mos die versoening van Christus goedkoop maak as ek nie met jou versoen is nie.”
Maar Barnabas bly onversetlik. “Dis jou probleem, Paulus, en jy moes daaraan gedink het voordat jy dinge gesê het wat kon gebly het. En nou moet jy my verskoon. Ek het ook ’n diens om môre te lei, en ek is besig om my daarvoor voor te berei.
Totsiens.” Hy stoot die deur in Paulus se gesig toe.
Paulus staan lank voor die deur, verslae en hartseer, en ook teleurgesteld. Hy het meer van Barnabas verwag; gedink Barnabas sal groot genoeg wees om ten spyte van sy pyn hom tog ’n kans te gee.
Sy voete is soos lood toe hy terugstap huis toe. Oor en oor maal Barnabas se woorde deur sy gedagtes. “Jy het ons vriendskap aan skerwe laat spat.” En: “Dis verby. Kry dit nou in jou kop.” Miskien moet hy maar teruggaan Tarsus toe en daar ’n nuwe geestelike tuiste gaan soek. Moedeloos stamp hy sy deur oop en val op ’n stoel neer. Hy weet nie wat om te doen of te dink nie.
Dis of sy kop vasgehaak het, want hy kom nie verder nie. Hy sit net so, merk hoe die son ondergaan en dit donker word, en kouer. Die lente-aandlug het nog ’n taamlike byt in. Maar hy het nie die krag om ’n vuur aan te steek of iets warms aan te trek nie.
***
Later hoor hy ’n geluid by die deur en kyk op. In die deur sien hy die silhoeët van ’n groot man. “Kan ek maar inkom?” hoor hy Barnabas vra.
Paulus staan op, skielik onseker wat om te doen. Moet hy hom omhels? Moet hy iets sê?
Maar Barnabas wag nie vir hom nie. Hy storm vorentoe en omhels hom. “My broer!”
Paulus steek ’n lamp op en raak doenig by die vuur om hom kans te gee om kalm te word. Hy wil nie hê Barnabas moet sien hoe hy huil nie. Maar toe hy van die vuur af omdraai, sien hy dat Barnabas se oë ook nat is. “Dankie, Here,” prewel hy oor en oor.
Toe hulle elkeen ’n beker warm melk met kaneel in die hand het, sê Barnabas: “Jy was nou al twee keer by my om om verskoning te vra, maar dis nie net jy wat skuld het nie, Paulus. Ek het nie reg gemaak nie, én ek het lelike goed vir jou gesê. Ek is jammer.”
Paulus glimlag vir die eerste keer in ’n week. “Jy het maar net die waarheid gepraat. Ek is alles wat jy gesê het, en meer. Dis maar net nie lekker om jouself deur ’n ander se oë te sien nie.”
“Nee, Paulus, jy moenie so oor jouself dink nie. Maar kom ons los nou die hele ding. Dis verby, en ons moet vorentoe kyk.”
“Ek sal baie bly wees as ons dit kan los, ja.”
“Daar is net een ding: Ek het baie gedink oor Johannes, en ek dink tog ek gaan bly by wat ek vir jou gesê het oor my plan om Siprus toe te gaan. Hy is nog baie onseker en onervare. Ek dink dit sal vir hom beter wees as dit net ek en hy is.”
“Dan is jy nog altyd vir my kwaad.”
“Nee, Paulus, jy moenie so daaroor dink nie. Ons uitval het my net gedwing om weer oor die hele saak te dink, dis al. Ek wil baie graag eerder saam met jou gaan, en ek bedoel dit regtig, maar ek het ’n verantwoordelikheid teenoor Johannes. As ek hom nou onder hande neem, kan ek én hy dalk volgende keer weer saam met jou gaan. Maar ek sal hom eers moet help. As hy hierdie keer wéér langs die pad omdraai, sal dit baie sleg wees, vir hom en vir die koninkryk. Ek wil nie daardie kans waag nie.” Hy sit sy beker neer en gryp Paulus aan die voorarms vas. “Asseblief, Paulus, jy móét my glo. Dis nie oor ons rusie nie. Nie meer nie.”
Uit God se storie, Carpe Diem Media