Daar is talle verhale in die Bybel oor mense wat deur God geroep is, en ook hoe hulle op hulle roeping reageer. Abraham het eenvoudig getrek toe God hom roep, Moses het aanvanklik nie kans gesien nie, Gideon het gedink dis ’n grap, Jesaja het sy sondigheid besef, en hier sien ons Jeremia dink hy is te jonk.
Hoe dink jy oor jou roeping as gelowige?
Waarmee die roepingsverhaal van Jeremia ons wil help, is om iets te verstaan van hoe Gód oor die saak voel. Of miskien moet ek liewer sê: Wat gebeur in God se hart vóórdat Hy jou roep? Hoe kom Hy by die punt dat Hy sê: Ek roep jóú. Ja, jy wat omkyk om die taak aan iemand anders af te gee. Dit help nie om iemand anders te soek nie, want jý is die een. Hoe kom God by dié besluit uit?
Julle weet moes hoe óns dit doen. As kinders het ons meestal van aftelrympies gebruik gemaak om iemand vir ’n bepaalde taak of rol te kies. Julle onthou mos: Olke bolke riebeekstolke, olke bolke knor … of Op die klavier staan ’n bottel met bier. Die een wat daarvan drink se asem sal stink.
My broer vertel, toe hy in diensplig gedoen het, het ’n troep in sy peloton seergekry tydens sy basiese opleiding. Daar was ’n diep wond aan sy arm, en hy is met die troep na 1 Militêre Hospitaal. By die ongevalle was die dokter besig om ’n klomp nuwe medics op te lei. Hy vra toe, toe die man met die wond daar aankom: “Goed, wie het nog nooit ’n inspuiting gegee nie?” Toe een van die troepe sy hand opsteek, sê die dokter: “Goed, kom hier, en spuit die man in.” Sy volgende vraag was: “Wie het nog nooit ’n wond toegewerk nie?” Die arme gewonde dienspligtige se oë het omtrént wild in sy kop gestaan.
Dis ook ’n manier om iemand vir ’n taak te kry!
Hoe het God by Jeremia uitgekom? Hoe het God by jou uitgekom, en by my?
Kom ons luister goed na wat God vir Jeremia sê (vs 5):
Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
Ek dink die heel eerste ding wat ons hier moet raaksien, is dat God se pad met Jeremia begin het, lánk voor die ontmoeting waarvan ons in Jeremia 1 lees. God het nie (met respek gesê) op ’n dag gaan sit en sy kop gekrap en vir Homself gevra: Wie is nou die regte man op wie se nommer Ek kan druk? nie. Hy het nie met ’n uittelrympie by Jeremia uitgekom nie, of op die ingewing van die oomblik besluit om Jeremia nader te trek vir ’n taak nie. Nee, Hy het van voor Jeremia se geboorte al begin om hom voor te berei vir sy taak.
Ek dink ons moet dit goed hoor. God se werk in jou en my lewe het baie lank gelede al begin. Dit het begin voor ons nog mens was. Tóé het Hy al besluit dat Hy jou en my wil gebruik in Petrusburg in 2022. God beplan deeglik, en lank vooruit. Jou en my deelwees van sy werk in Petrusburg is nie toevallig of nou maar een van daardie dinge nie. God het sy huiswerk deeglik gedoen. Hy het baie tyd en energie en beplanning in jou belê. Want jy, en die rol wat jy in sy Koninkryk moet speel, is vir Hom verskriklik belangrik.
Dit is ’n insiggewende woord wat die Here hier gebruik as Hy vir Jeremia sê voordat Hy hom in sy moederskoot gevorm het, het Hy hom al geken. Die Hebreeuse woord “geken” wat die Here hier gebruik, bedoel nie ’n blote verstandelike kennis nie. Dit dui op ’n verbintenis. Dis dieselfde woord wat die Bybel gebruik as hy praat van die verhouding tussen ’n man en vrou in die huwelik. Dit gaan om ’n intieme, innige verbind wees aan mekaar. Dís hoe God praat as Hy na Jeremia kom. Hy sê Hy ken hom, want Hy het Hom aan Jeremia verbind.
Liewe gemeente, God het met jou en my ook al ’n lang pad gekom. Dink ’n bietjie daaroor: Hy ken jou. Hy is verbind aan jou. Hy gee vir jou om. Hy verstaan jou. Hy weet presies wie jy is. Dís die God wat jou roep om deel van sy wêreld te wees!
Nadat die Here vir Jeremia gekies het vir sy bepaalde taak, het Hy Jeremia aan Hom gewy, sê Hy hier. “Voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy …” God het Jeremia as ’t ware eenkant gesit, sodat hy net in God se diens kan wees.
Ek wonder of ons dit mooi verstaan. God, so erken Hy in die Tien Gebooie, is ’n jaloerse God. Hy wil ons nie deel nie. Hy wil nie hê ons moet Hom met verdeelde lojaliteite dien nie. Daarom heilig Hy sy kinders, wy Hy ons aan Hom, sodat ons in ons besigwees net in sy diens kan staan, net aan Hom rekenskap verskuldig is. God is al van voor jou geboorte af besig om jou aan Hom te wy en toe te rus. Daarom woon Hy ook deur sy Gees in jou, om jou hoe langer hoe meer diensbaar aan Hom alleen te maak. Soos wat Hy ons ken en Hom daarom aan ons verbind het, so vra Hy van ons om aan Hom ook verbind te lewe, toegewy aan Hom alleen.
Die derde ding wat God vir Jeremia sê, is dat Hy hom as profeet vir die nasies aangestel het. God het ’n spesifieke taak vir Jeremia gehad, soos Hy vandag nog vir ons elkeen ’n eie taak het. God het vir Jeremia geken, en daarom ook geweet wat Hy van Jeremia kan verwag.
Dís waarvoor jy en ek maar telkens weer moet bid: dat ons van God kan hoor wat ons elkeen se spesifieke roeping in God se koninkryk is. Ons het ongelukkig nie vanoggend tyd om in detail te dink oor die twee verdere gesprekke wat God met Jeremia gehad het (oor die amandeltak en die kokende pot) nie. Maar wat in die manier waarop dit vertel word, duidelik is, is dat alles in Jeremia 1 nie op dieselfde dag gebeur het nie. Jeremia het by meer as een geleentheid ’n ontmoeting met God gehad oor sy roeping. Om die waarheid te sê, ek dink nie ’n mens kan ooit klaar geluister wees na God as dit oor ons roeping gaan nie.
In Ps 27 sê Dawid ’n baie belangrike ding: Hy sê in vers 4 dat hy sy hele lewe lank wil nadink oor God se goedheid. Ek wonder of ons dit genoeg doen. In die roeping van Jeremia hoor ons iets van God se goedheid opklink, waar Hy sê dat Hy al ’n lang pad met Jeremia kom en al baie in hom belê het.
Mag jy dit óók ontdek as jy in dié week oor jou roeping, en God se goedheid, nadink!
Views: 120