Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die groot vraag wat op haas elke paasfeesganger se lippe is, is of die rabbi van Galilea die lank verwagte Messias is, en of hy ’n godslasteraar is.

Rabbi Jesus van Nasaret het in die laaste drie jaar veral in Galilea vir hom ’n groot gevolg versamel met sy kragtige prediking, wonderwerke en ondubbelsinnige verwerping van ’n vormgodsdiens. Daarby is hy dikwels in die geselskap van die uitgeworpenes van die samelewing gesien, tot groot ontsteltenis van die geestelikes van die land.

Rabbi Jesus is laat gisteraand vir ondervraging en ’n informele verhoor na die hoëpriester se ampswoning gebring, waar die priesterhoofde en familiehoofde reeds vroeër die dag saamgetrek het. Na verwagting behoort die Joodse Raad reeds vanoggend uitsluitsel oor hierdie kardinale vraag te hê.

Hoëpriester Kajafas het laat gistermiddag die feesgangers tot kalmte gemaan en gesê die Joodse Raad hanteer die hele kwessie rondom rabbi Jesus se status met die grootste erns en verantwoordelikheid. “Ons besef dat dit ’n baie sensitiewe saak is, en ons sal dus so gou moontlik die aangeleentheid wil afhandel, sodat ons mense tot rus kan kom en die paasfees kan vier,” het hy gesê.

Ons spesiale verteenwoordiger by die Joodse Raad berig dat daar heelwat getuies na vore gekom het om teen die rabbi te getuig. Teen druktyd het nog geen getuies ter verdediging van die rabbi hulle egter aangemeld nie. Dit wil in hierdie stadium lyk of rabbi Jesus se groot gevolg soos mis voor die son verdwyn het.

Blykbaar het die rabbi se dissipels gevlug toe hulle meester in hegtenis geneem is. Slegs twee mans wat vermoedelik tot sy dissipelkring behoort, is laat gisteraand by die hoëpriester se ampswoning opgemerk. Die een, wat deur omstanders as Simon seun van Johannes, ook bekend as Petrus, uitgeken is, het egter by herhaling ten sterkste ontken dat hy enigiets met rabbi Jesus te doen het, of by die ampswoning was om die rabbi in sy verdediging by te staan.

 

Gemeente het nou twee spanne in die veld

ANTIOGIË (SIRIË). – Die Christelike gemeente hier in Antiogië het sopas twee evangelisasiespanne na Klein-Asië gestuur om die gemeentes wat op hulle eerste uitreiking gestig is, te besoek.

Dié verwikkeling kom nadat die twee leiers van die eerste uitreiking, Paulus en Barnabas, nie tot ’n vergelyk kon kom oor wie hulle moet insluit in die span nie. Na ’n skerp meningsverskil wat so byna-byna die hele sendingpoging verongeluk het, het Paulus en Barnabas besluit om elkeen ’n eie span te lei, om sodoende meer mense te bereik.

Die probleem het ontstaan oor die persoon van Johannes Markus, ’n neef van Barnabas. Hy was ’n lid van die eerste uitreiking, maar hy het die span by Pamfilië in die steek gelaat en omgedraai. Barnabas wil sy neef graag nog ’n kans gee, maar Paulus het besluit die risiko is te groot. Hy gaan nou vir Silas as medewerker saam met hom neem.

Noudat die spanning ontlont is, is daar groot opgewondenheid in die gemeente oor hulle twee spanne. Hulle is gister by ’n spesiale erediens aan die genade van die Here opgedra, waarna Paulus en sy span na Silisië vertrek het, en Barnabas en sy span na Siprus.

Dit is nie bekend wat hulle reisplanne is, of hoe lank hulle weg sal wees nie.

 

PERSOONLIK

Van ons Ou Testament korrespondent

Jakob, seun van Isak en Rebekka, het onverwags na Paddan-Aram vertrek. Hy beoog om by sy oom Laban seun van Betuel te gaan werk. Dit is nie bekend hoe lank hy daar sal bly, of wanneer hy weer na sy geboorteland sal terugkeer nie.

  • Lees van Jakob se vlug nadat hy sy pa en broer bedrieg het, in Gen. 27:4628:9.

 

 


Wonder van God se genade

Dat God nog met ons uithou, is net ’n wonder van sy genade. Want so dikwels, op kritieke momente in die geskiedenis, laat ons Hom in die steek. Soos die dissipels wat geskitter het in hulle afwesigheid by Jesus se verhoor, terwyl Petrus Hom verloën.

Lánk voor dié gebeure het Jakob ook sy bes gedoen om God se Raad te verydel met sy bedrog, sodat hy uit die Beloofde Land moes vlug. En Paulus en Barnabas se geskil oor personeel vir hulle sendingreis kon die uitbreiding van die evangelie onmeetbare skade berokken het.

Dis vir sulke mense – ons! – wat Jesus kom sterf het. Want ons dwarsheid en ongeloof keer Hom nie; inteendeel, Hy keer dit om om seën daaruit te laat vloei. Jakob se vlug maak hom ’n ryk man, Paulus-hulle se twis verdubbel die sendingwerk. En Jesus se dood word ons heil!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.