Skinder
Skinder is ’n vreemde, maar helaas baie algemene verskynsel. Volgens die sosiale sielkundige Laurent Bégue gaan ongeveer 60 persent van gesprekke tussen volwassenes oor iemand wat nie teenwoordig is nie. En, voeg hy by, die meeste daarvan is veroordelend.
En dan is daar mense wat niks daarvan dink nie om selfs oor hulle beste vriend of vriendin te skinder. Sommer net so. Ek wonder nogal oor dié soort vriend.
Ek verwonder my altyd oor hoe party mense op hoogte bly van die nuutste skinderstories. Het só-een ’n spesiale antenna vir skindernuus? Of is dit maar net dat die skindertonge agterkom hy hou daarvan om sulke sappige brokkies inligting te kry, en hom dan op hulle “adreslys” plaas?
My skoonpa het altyd gewaarsku dat jy moet oppas as iemand met ’n skinderstorie by jou aankom, want as hy by die volgende persoon kom en die storie oorvertel, sê hy dis jy wat dit gesê het.
As daar nou één skrywer in die Bybel is wat ’n los tong nie kon veel nie, was dit Jakobus. In Jak 1:26 sê hy reguit: “As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.” Miskien het hy met ’n paar skinderbekke in sy gemeente te doen gehad, en praat hy uit dure ondervinding. Daarom skryf hy in 4:11: “Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers.”
Maar dis nie net Jakobus wat oor skinderpraatjies iets te sê het nie. Ons lees al in Levitikus 19:16: “Jy mag nie loop en skinder nie …” En die Spreuke-digter waarsku ons om weg te bly van iemand wat skinder (20:19), want, sê hy (16:28): “Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.” En in Spr 26:22 lees ek: “’n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik.”
In die mond van ’n listige mens kan skinder ’n verwoestende wapen wees wat baie, baie diep seermaak. ’n Skinderveldtog is ’n dodelike manier om met iemand wat ongewens is, af te reken. Daardie persoon is nie daar om homself te verdedig nie.
Hoe dan nou gemaak as iemand by jou wil skinder? Vertel op die plek iets goeds oor die een waaroor die skinderstorie gaan, of verander die onderwerp, of sê reguit jy voel ongemaklik oor die storie en onttrek jou. As mense agterkom jy praat nie saam nie, verloor die skinderstorie sy sappigheid. En as een ’n storie begin met: “Ek wil nou nie skinder nie, maar …”, stop hom of haar op die plek en sê reguit: “Nou maar dan moet jy ook nie.” Ons móét mekaar help om ons woorde te tel. Anders is jy wat luister, ook skuldig.