“Op ’n dag …” Só begin Lukas hierdie verhaal vir ons vertel. Die dag het maar net soos al die ander dae begin vir Simon. Nee, dis nie waar nie. Die dag het baie sleg begin, want, só sê hy self vir Jesus: “… ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang …”

So die dag begin vir hom maar bra valerig. Hy is moeg en taai van die nag op die see, en nou het hy nie eers iets om vir al sy gesukkel te wys nie. Dis seker nie die eerste keer wat hy met ’n leë boot terugkeer strand toe nie, maar dis elke keer weer sleg.

Dis op só ’n dag wat hierdie verhaal hom afspeel. Nie juis ’n besondere dag, of ’n spesiale dag nie. Daar is niks anders aan dié dag as aan al die honderde ander dae wat Simon al beleef het nie. ’n Sleggerige dag, en hy is moeg. Al wat hy nou wil doen, is om by die huis te kom.

Maar wat Simon nie geweet het nie, is dat hy daardie dag nie sou huis toe gaan nie. Om die waarheid te sê, op daardie dag sou sy hele lewe verander, want sy pad sou met dié van Jesus van Nasaret kruis. En as Jesus jou lewe instap, kan niks ooit weer dieselfde wees nie.

In elk geval, Simon sit op die strand, besig om sy nette skoon te maak en uit te spoel ná die nag se visvang, toe Jesus op die strand aankom. Ons lees dat ’n groot skare Hom gevolg het en vorentoe gebeur het om te hoor hoe Hy preek, om na die woord van God te luister, soos Lukas dit stel. Simon stel nie juis belang in wat Jesus te sê het nie. Hy ken Hom tog. Was Jesus dan nie net ’n paar weke terug in sy wat Petrus is, se huis om sy skoonma gesond te maak nie? (Luk 4:38-41). Ja-nee, hy ken Jesus. Hy het Hom al gehoor preek en gesien optree, en vandag is nie een van die dae wat hy ekstra tyd het om te ginnegaap nie. Vandag is hy besig en moeg.

Miskien is jy vanoggend daar waar Simon was: jy ken mos die Evangelie. Jy het al male sonder tal in die kerk gesit, en vandag sit jy weer hier. Nie omdat jy verwag hier gaan iets gebeur nie, maar dis wat ’n mens op ’n Sondagoggend doen: jy kom kerk toe. Maar dis min of meer genoeg gedoen. Die mense moet nie met jou sukkel en aan jou torring nie. En dié gepratery van die gemeente wat hiervoor en daarvoor en vir die ander ding mense nodig het, is nou nie juis vir jou bedoel nie, want jy het genoeg werk soos dit is. Laat die ander hulle maar aanmeld. Goed vir hulle! Laat hulle maar die kerkraadslede wees, en die Sondagskool-onderwysers, en die basaar reël, en die omgee-werk doen, en die getuienis-werk …

Maar ’n mens kan natuurlik nooit té gerus wees dat jy uitgelos gaan word as jy in God se teenwoordigheid kom nie. Dit het Simon daardie dag agtergekom. Want toe hy hom kom kry, sit Jesus binne-in sy skuit! Al wat hy wou doen, was om sy nette skoon te kry en huis toe te gaan, maar toe hy weer sien, roei hy met Jesus in sy skuit ’n entjie die see in sodat Jesus sy skuit kan gebruik as ’n preekstoel.

Het jy mooi gekyk wat hier gebeur? Jesus vra nie Simon se toestemming om sy skuit te gebruik nie. Hy sê nie: “Toemaar, Simon, Ek weet jy is moeg, spoel gou klaar jou nette uit en gaan rus ’n bietjie” nie. Nee, Hy klim in en vra Simon moet Hom help. Hy maak eenvoudig aanspraak op Simon se skuit en sy tyd.

Ons moet dit goed hoor: God maak aanspraak op ons lewens. Hy vra nie ons toestemming nie. As jy ’n volgeling van Jesus wil wees, gaan dit met jou gebeur dat God goed van jou vra waarvoor jy nie lus het nie; gaan dit gebeur dat God eise aan jou stel waarop jy nie gereken het nie. Want as jy aan Hom behoort, behoort jou hele lewe aan Hom, nie net jou Sondag-oggende nie. Hy maak aanspraak op jou beursie, jou gemak, jou veiligheid, jou aansien …

En die goed wat hy van jou vra, maak nie altyd mooi sin nie. Want Simon was ’n visserman. Hy het die see geken. En nou kom Jesus, wat van visvang niks geweet het nie, en sê vir hom wat hy moet maak! Simon het seker gedink: Wat weet Hy nou eintlik? Daarom sê hy ook: “Meneer, ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang.” Hy kon netsowel gevra het: “Meneer, wil U nie maar aanhou preek en die visvang vir my los nie?”

En tog – Simon gehoorsaam Jesus, en hy ontdek: as jy Jesus se woord gehoorsaam, gebeur daar wonderlike dinge! Geloof vra dat ons God op sy woord neem, en Hom vertrou vir die res. Geloof vra dat ons nie te slim moet wees met ons eie redenasies en God se wondermag buite rekening moet laat nie. Want, so het Simon daardie dag ontdek, dis nie maar net ’n “meneer” (vers 5) wat in sy skuit sit nie, dis die Here (vers 8). Die Here wat almagtig is, wat wonders doen!

En die grootste wonder wat Jesus daardie dag gedoen het, was natuurlik nie die ongelooflike klomp vis in die net nie. Die grootste wonder is dat Simon die visserman, Petrus die Rotsman van die kerk geword het, Petrus die visser van mense.

Dit is dié Jesus wat ons aanbid en dien, in Wie ons glo en vir Wie ons volg. Die God wat wonders doen. Hy gaan vanjaar in en deur ons ook wonders doen. Mits ons, soos Simon op ’n dag, bereid is om onsself, ons tyd en ons goed tot sy beskikking te stel, soos die drie nuwe belydende lidmate wat vanoggend bevestig is. Dan sal ons ook, soos Simon, ontdek dat God ons verander om in te pas in sy groot plan, vissers maak wat iewers in sy koninkryk ook werk het.

God maak aanspraak op jou en jou goed. Wat antwoord jy Hom?

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 355

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.