Ekonomiese welvaart en groter stabiliteit in die vooruitsig gestel

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die twee jaar lange kwaaivriendskap tussen koning Herodes Antipas en goewerneur Pontius Pilatus is uiteindelik bygelê.

Dié twee regeerders het eergister in die Hasmoniese paleis langs die tempel, waar koning Herodes tuisgaan, mekaar die hand van vriendskap gereik ná bilaterale samesprekings van anderhalf uur. Koning Herodes is tans op besoek aan Jerusalem vir die viering van die paasfees.

Diplomate in Jerusalem het die verwikkelinge verwelkom. Die provinsies Galilea en Perea, wat onder koning Herodes se jurisdiksie val, is geografies en histories nou geskakel met die provinsies Judea en Samaria, wat goewerneur Pilatus administreer. Hartlike betrekkinge tussen die twee regeerders kan net tot groter voorspoed en stabiliteit in die subkontinent lei, is gesê.

Verhoudinge tussen die twee regeerders is twee jaar gelede vertroebel toe ’n paar Galileërs by die tempel deur Pilatus se soldate gedood is. Hulle was na bewering besig om hulle offerdiere vir die paasfees te slag. Koning Herodes het Pilatus destyds persoonlik vir hulle dood verantwoordelik gehou, terwyl die goewerneur adamant daaroor is dat hulle met ’n politieke sameswering besig was.

In ’n gesamentlike verklaring wat na die samesprekings uitgereik is, sê die regeerders hulle het besluit om in belang van al hulle mense die verlede te begrawe. Hulle beoog om nouer ekonomiese bande tussen die provinsies te smee en veral ook mekaar se hande te sterk in die handhawing van wet en orde.

Plaaslike sakemanne het oor die algemeen baie positief op die nuwe betrekkinge gereageer. Veral vir die verbruiker is dit goeie nuus. Stabiliteit beteken minder risiko’s vir die handelaar, en daarom goedkoper pryse vir die verbruiker. Met nouer ekonomiese bande sal daar ook nuwe handelaars tot die mark toetree, en kompetisie druk ook die pryse van produkte af, is aan Bybelkoerant gesê.

Die samewerkingsooreenkoms het reeds sy eerste vrug opgelewer. As ’n direkte uitvloeisel van die beter verhoudinge het Pilatus gister ’n Joodse rabbi van Galilea wat hier van politieke opstokery beskuldig word, na Herodes gestuur om sy mening te kry.

 

In ‘t kort

Pilatus gee verlof dat tereggestelde begrawe word

JERUSALEM. – Goewerneur Pilatus het laat gistermiddag toestemming gegee dat een van die gekruisigdes, Jesus van Nasaret, se liggaam van die kruis verwyder mag word sodat hy begrawe kan word. Hy het sy soldate opdrag gegee om die liggaam aan Josef van Arimatea te oorhandig.

SPESIAAL VIR DIE PAASSEISOEN!

Lae, lae pryse op al ons produkte
slegs terwyl voorrade hou!
Van ’n spyker tot ’n hekpaal,
van ’n ploeg tot ’n sandaal!
Moenie dié winskopies misloop nie!
Hierdie pryse sal nooit weer herhaal kan word nie!
Maak vandag nog ’n draai by ons op die markplein!

DIE SUPERSKUUR

Ons is daar vir jóú!


WÊRELDSE PRIORITEITE

Nooit in die ganse geskiedenis van die mensdom het die lewe, en veral die sterwe, van een persoon só ’n ontsaglike impak op die wêreld gehad nie as dié van Jesus Christus. Vandag, 2000 jaar na sy dood, weet ons nie net daarvan nie, maar raak dit ons elkeen in die grond van ons bestaan. Sy kruisdood het ons hele lewe verander.

Tog het sy dood, buiten natuurlik vir sy dissipels, grootliks by die wêreld van sy tyd verbygegaan. In die annale van die destydse geskiedskrywers word dit nie eens vermeldenswaardig geag nie. Vir Pilatus was dit maar net nóg ’n teregstelling. Politieke, militêre en ekonomiese gebeure was nou eenmaal baie belangriker. En vandag is dit natuurlik nie anders nie. In ’n toenemende mate word godsdienstige sake, en die kerk, eenkant toe geskuif.

Satan wil die wêreld graag laat glo dat Christus en Christene irrelevant is. Jy weet dis ’n leuen. Lewe dan so dat dié leuen weerspreek word, tot heil vir die wêreld en die mense om jou.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.