Net die Bybel
Party mense is darem baie seker oor geloofsake. Hulle sal jou gou met ’n teks probeer oortuig van hulle standpunt. Dit staan so, swart op wit, sal hulle dan sê. En dan voeg hulle by dat hulle die Bybel, en niks anders nie, gebruik om hulle standpunt te staaf.
Dit klink nogal reg, nie waar nie? Ons glo immers dat die Bybel God se Woord aan ons is. Een van die pilare van die gereformeerde belydenis is “sola Scriptura”, oftewel “net die Bybel”. Daarom sal hulle gou vir jou sê, as jy ander bronne aanhaal (soos moderne psigologie of die wetenskap) dat ’n mens nie so mag redeneer nie. As ander bronne nie met die Bybelse verse ooreenstem of dit ondersteun nie, is die ander bronne beslis verkeerd, en is dit humanisties en selfs ketters om dit te oorweeg.
Klink nog steeds reg. Maar onthou net, daar was ’n tyd toe die kerk voet by stuk gehou het dat die aarde plat is en op pilare staan, want dis wat die Bybel sê. Of dat apartheid ’n Goddelike opdrag is. Die Bybel beveel dit immers, is ons vertel toe ek nog klein was. ’n Wêreldbekende teoloog wat in die Kweekskool vrae oor apartheid gevra het en dit uit Ef 2:11-21 gemotiveer het, is deur ons dosent afgemaak as ’n uitlander wat nie verstaan waaroor dit gaan nie.
Elke ketter het sy letter
Ek skryf nie hierdie blog om vrysinnige teoloë te verdedig nie. Daar ís teoloë wat die Bybel darem net te gemaklik afmaak as ’n menseboek. Ek is nie in hulle kamp nie; inteendeel. Ek sien myself as ’n behoudende teoloog, maar beslis nie konserwatief of verkramp nie. Ook nie liberaal nie.
,,, die Bybel bestaan nie uit verse nie ,,,
Ek glo wel dat ons, wanneer ons die Bybel lees, meer moet doen as net aan ’n paar teksverse vasklou. Want die Bybel bestaan nie uit verse nie. Dit is ’n hele dik boek waarin God op verskillende maniere aan die woord kom, en ons moet aan ál die maniere in die Bybel laat reg geskied. Daar is mos ’n spreekwoord wat sê: “Elke ketter het sy letter.” En dit is presies die probleem. As jy net ’n paar teksverse in die Bybel het en nie die hele Skrif in ag neem nie, beland jy op dun ys. Of as jy nie die konteks waarin dit geskryf is, reg begryp nie.
Geen beweegruimte nie
Partykeer lyk dit vir my asof mense God aan die Bybel vasbind, en uit die Bybel aan Hom wil voorskryf hoe Hy mag wees of nie mag wees nie. Ek het dit verlede week weer besef. Ek lees saam met my gemeente tans die boek Rigters. Dis ’n vreemde, ontstellende verhaal van anargie en eiegeregtigheid.
Simson se verhaal vertel van hierdie kragreus wat nie sy oë en hande van die Filistynse vroue kon afhou nie. Sy ouers vermaan hom, maar hy steur hom nie aan hulle nie. Vir hulle is dit sonde. Die Here het tog self in Josua 23:12-13 ondertrouery met vreemde vroue verbied. Maar dan staan daar hierdie vreemde verduideliking (Rig 14:4): “Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou ’n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers.”
Hoe verstaan ’n mens dit? Dit staan tog swart op wit dat ondertrouery met die buurvolke uit die bose is, maar nou kom Simson se huwelik met ’n Filistyn van die Here? Dit maak mos nie sin nie!
Dit is presies my punt. Daar is net te veel dinge in die geloof en in ons verstaan van God en die Bybel wat nie sin maak nie. En dit behoort ons te laat huiwer voor ons té stellig raak oor wat God wil en hoe dinge inmekaar steek. Ek en jy kan nie die misterie van God deurbreek nie, en dit is goed so, want Hy is God.
Moenie dink jy verstaan presies wat Hy in die Bybel sê nie, al is dit swart op wit. Dit was op hierdie punt dat die Fariseërs met hulle swart-en-wit lees van die Skrifte vir Jesus verwerp het. Dit wil ons tog nie!
Die Bybel kan tog nie verkeerd wees nie?
So wat nou? Moet ons sê die Bybel is onbetroubaar omdat daar gedeeltes is wat mekaar weerspreek? Dit kan tog nie! Die Bybel is God se woord aan ons, en dit is die waarheid. Ek dink Paulus gee vir ons ’n sleutel as hy skryf dat die hele Skrif deur God geïnspireer is (2 Tim 3:16). Die hele Skrif is die waarheid van God, nie net enkele tekste nie. Ons moet aan die hele waarheid vashou, ook wanneer gedeeltes nie lekker rym of sin maak nie. Dit is in die dinamiese spanning van hierdie oënskynlike teenstrydighede waar ons die waarheid moet kry, met openheid om deur God verras te word; bereid om nuut te dink. Hy is immers die lewende God, wat in Jesus vir ons kom wys het dat ou waarhede in die Skrif nuut bedink moet word as ons God reg wil hoor.
Soos ons in Lied 255 van die Liedboek sing: Woord van God, Woord van die lewe, Woord vir ewig vas en waar, Woord onfeilbaar en verhewe waarin God Hom openbaar!
Views: 159