Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – In die hiernamaals sal ons soos engele wees en nie meer trou nie. Dit is nou vir hulle wat so gelukkig is om daar uit te kom. Altans, só sê rabbi Jesus van Nasaret.

Die gewilde rabbi het dié stellings gemaak toe hy gister deur ’n klomp Sadduseërs voor ’n hipotetiese probleem gestel is. Die Sadduseërs ontken dat daar iets soos ’n opstanding uit die dood en ’n hiernamaals is. Hulle wou by rabbi Jesus weet wat die situasie sal wees van ’n vrou wat met sewe broers op ’n streep getroud was. Hoewel sy op aarde met al sewe, die een na die ander, getroud was, kan sy tog nie in die hemel met al sewe gelyk getroud wees nie, het hulle geredeneer.

Rabbi Jesus se antwoord was, soos altyd, onverbeterlik. Hy het gesê ons moenie te aards oor die toekomstige wêreld dink nie. Die huwelik is ’n aardse instelling wat nie in die hiernamaals sal voortbestaan nie. Hy het gesê diegene wat uit die dood opstaan, is kinders van God wat onsterflik sal wees, soos die engele.

Die rabbi het ook nog die Sadduseërs oor die vingers geraps omdat hulle die werklikheid van die hiernamaals ontken. Hy het verwys na God se verskyning aan Moses by die brandende doringbos. God het Hom daar aan Moses bekend gestel as “die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob”. Hy wou weet hoe kon God sê Hy is die God van Abraham as dié al lankal dood is. Die eenvoudige verklaring daarvoor, het die rabbi gesê, is omdat Abraham nie dood is nie, maar by God lewe. “God is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal,” het hy gesê.

Die Sadduseërs het egter heelwat meer as net ’n antwoord op hulle vraag gekry. Die rabbi het hulle ook stof tot nadenke gegee toe hy gesê het die hiernamaals is net vir “dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood.” Sou rabbi Jesus dalk daarmee bedoel dat die Sadduseërs eerder oor dié vraag bekommerd moet wees?

 

RABBI SE STORIES OOR DIE LAASTE DAG ONTSTEL

JERUSALEM. – Die bekende rabbi Jesus van Nasaret het vandeesweek sy dissipels laat regop sit met uitsprake oor die wederkoms wat ’n mens, om die minste te sê, ongemaklik laat.

Die rabbi het dié uitsprake gemaak in ’n reeks gelykenisse oor die laaste dag. Hy het gesê niemand kan bepaal wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Juis daarom sal daar ongelukkig talle mense wees wat onkant gevang sal word. Die laaste oordeel sal nie net die heidene tref nie, maar ook hulle wat hulleself as gelowiges beskou, maar nie soos gelowiges lewe nie.

Sy raad aan sy dissipels is: waak teen ’n valse gerustheid, en leef elke dag asof die Here vandag kan kom. Dan sal jy nie onverhoeds gevang word nie.

  • Lees meer oor Jesus se ontstellende uitsprake oor die wederkoms in Matt. 24 en 25.

 

Hoof van GVE se vader besoek farao

Van ons Ou Testament redaksie

AVANIS. – Die hoof van die GVE (Graan vir Egipte-projek), Safenat-Paneag, se bejaarde vader, Jakob seun van Isak, het gister die farao in sy paleis hier kom ontmoet.

Jakob het hom onlangs, op uitnodiging van die farao, in die Gosen-streek in Egipte kom vestig. Hy het vroeër in Kanaän gewoon, waar hy ’n groot veeboer was.

Na die afspraak, wat net meer as ’n uur geduur het, het die farao gesê hy is getref deur Jakob se beskeidenheid en wysheid. Hy het gesê hy kan nou duidelik sien waar die GVE-hoof se knap brein vandaan kom. Hy glo ook dat Jakob en sy familie in die jare wat kom ’n betekenisvolle bydra tot Egipte se ekonomie sal lewer.

 


Jou ware burgerskap

Jakob het verstaan dat hierdie wêreld nie ons eintlike tuiste is nie. Hy is ’n vreemdeling hier op aarde, sê hy (Gen. 47:9). Sy eintlike burgerskap is in die hemel.

Dit is ’n feit waarmee elke gelowige deeglik rekening moet hou. In die koninkryk van God is daar immers nie plek vir mense wie se burgerskap hier op aarde is nie. Daarom pleit die Here so dringend dat ons anders moet leef as ander mense; dat ons moet waak, sodat ons gereed sal wees as Hy kom. Want, soos Hy vir die Sadduseërs gesê het, nie almal sal deel hê aan die opstanding en die toekomstige wêreld nie.

“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is,” raai Paulus ons in Kol. 3:2-4 aan. “Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.”

Wat ’n heerlike vooruitsig!

image_pdfimage_print

Views: 120

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.