Een van die grootste militêre generaals in die Europese geskiedenis, Napoleon Bonaparte, se gevleuelde uitdrukking was: “Die peer is nog nie ryp nie.” Hy het dit onder andere gesê toe die senaat hom tot keiser van Frankryk wou uitroep, en hy op daardie stadium met die republiek wou volstaan. Hy het wel later van standpunt verander en sommer homself tot keiser gekroon. Die peer het toe seker ryp geword.
“Die peer is nog nie ryp nie.”
Ek dink baie aan dié stukkie geskiedenis uit my hoërskooldae as ek oor die NG Kerk nadink. Daar word hard gedruk oor die hele vraagstuk van gay verbintenisse. Party mense werk kliphard aan die “normalisering” van die posisie van gay lidmate in die kerk. Ander werk ewe hard daaraan dat daar teruggekeer moet word tot besluite van weleer, toe gay lidmate slegs gedoog is as hulle selibaat leef.
My dierbare skoonma het die gewoonte gehad om met haar duim, nael eerste, aan vrugte te druk om te kyk of dit ryp is. Dit kon my teen die mure uitdryf, want dit het natuurlik nie die vrug ongeskonde gelaat nie.
dit (het) ons almal gekneus en verwond gelaat
Ek het ’n idee dit is presies wat gebeur het in die kerk, toe mense van verskillende kante die kwessie van gay verbintenisse wou ryp druk. In plaas daarvan om die saak aan te help, het dit ons almal verwond en gekneus gelaat. Gay lidmate het van vooraf seergekry. Konserwatiewe lidmate is gebelg, om nie te sê kwaad nie. En dié in die middel word verwyt en draadsitters genoem.
Almal verloor. Nou word daar selfs openlik van kerkskeuring gepraat. Die Kairos Netwerk sê dis nie hulle nie, dis die kerkleiers in die Algemene Sinode wat die kerk gaan skeur as hulle bly by die besluit dat elke gemeente self oor die saak kan besluit. Dis natuurlik om te vra na wat eerste is, die eier of die hoender.
In Kol 3:13-15 skry Paulus hieroor: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.”
In Ef 4:2-6 klink sy woorde só: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.”
Aan beide kante van die kwessie word hoog opgegee dat die Bybel hulle hoogste norm is. Vir my as iemand wat die kerk hartstogtelik liefhet, lyk dit ongelukkig asof groot dele van die Bybel deur party van ons geïgnoreer word.
Voor ons nie leer om geduldig met mekaar te wees nie, gaan hierdie peer nie ryp word nie. Dit gaan ’n pappery-gemors word wat in ons gesig ontplof.
Views: 164
Die vraag wat natuurlik dadelik en sterk opduik, is: Presies wat word bedoel met “geduldig wees”? Wie moet moet met wie geduldig wees? Hoe werk sulke geduld? Is die saak nie dalk al heeltemaal te lank met “geduld” hanteer nie? Geen werkbare oplossing is bereik nie. ‘n Ander term wat in hierdie verband gebruik word, is “ruimte maak” vir mekaar se denke. Waarvoor moet ruimte gemaak word? Vir ‘n liefdevolle benadering? Vir kettery? Dis die vrae wat gevra word.
Kan die twee kampe ooit op grond van Bybelinterpretasie nader aan mekaar beweeg?
Die term “skeuring” tree nou al sterker na vore. As dit gebeur, is die twee denkskole elk in ‘n eie domein, kerkverband, sinode … of wat die regte term ook al is.
‘n Krag, denkgroep, of watter term hier sal inpas, en wat redelik ver op die agtergrond is, is die jongmense. Hulle hou nie van hier onverkwiklikheid nie. Hulle sal met verloop van tyd spontaan SGV aanvaar sonder veel ophef. Teen daardie tyd is daar (steeds) twee verskillende kerke, denkrigtings, skrifinterpretasies. Ek dink mens sal nie hoef te raai watter een sal ‘n mooier toekoms hê nie.
Ja, Albert, hierdie onverkwiklike bakleiery het baie lidmate vervreem. Mense stem met hulle voete. Net vandag skryf een van my lesers dat hulle ná jare in die NG Kerk besluit het om ter wille van die vrede na die AGS te skuif.
Ek kan nie sien dat al die “oplossings” met aparte sinodes en sulke goed uiteindelik op ‘n goeie einde afstuur nie. Hoe ver die twee pole al van mekaar is, kan jy sien in die KN se voorstel dat teologiese opleiding in die toekoms dalk by die APK sal wees, wat tog ‘n kerk net vir blankes is (ek weet ook nie of hulle vroue as predikante gedoog nie). So net op daardie punt is daar klowe wat nie oorbrug sal kan word nie.