Hierdie Psalm sê vir ons ’n mens kry 2 soorte mense: party mense is soos ’n pragtige vrugteboom wat by ’n plek met baie water staan. Sy blare is lieflik groen, hy dra sy vrugte op die regte tyd. ’n Mooi, gesonde, sterk boom (vs 3). Ander mense, weer, is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word (vs 4).

Die psalm noem die mense wat soos die pragtige vrugteboom is, die regverdiges, en die mense wat soos kaf is, die goddeloses. Die psalm kon hulle seker ook die goeie mense en die slegte mense genoem het, maar hy doen dit nie, want hy is bang ons verstaan hom verkeerd. Hy is bang ons dink die regverdige mense is goeie, saggeaarde, ordentlike mense, en die goddeloses is slegte, bose, sondige mense wat altyd net verkeerde en bose dinge doen. Maar dit is glad nie wat die psalm met die regverdiges en die goddeloses bedoel nie. Want die psalm praat nie eintlik, as hy van die twee soorte mense praat, van dinge wat die mense doen nie, maar hy dink hier veral aan die verhouding van die mense tot die Here. Hierdie psalm wil vir ons sê: ’n mens kan hier op aarde in een van twee verhoudings tot die Here staan: Jy is òf ’n mens wat in jou lewe rekening hou met die Here, na Hom luister, òf jy is ’n mens wat eenvoudig sonder God en sonder sy raad deur die lewe gaan.

Maar kom ons kyk ’n bietjie hoe lyk die goddelose mense van wie die psalm hier praat. Hierdie mense was ook Israeliete, net soos die regverdiges. Hulle het ook kerk toe gegaan en elke dag tussen die ander mense gewoon. Hulle was miskien selfs “goeie” mense, mense wat nie andere kwaad aangedoen het nie. Dit was nie mense wat heeltemal niks met die Here of die kerk te doene wou hê nie. Dit is net dat die Here by hierdie mense nie regtig belangrik was nie, nie belangrik genoeg dat hulle hulle lewens volgens sy Woord ingerig het nie. God was nie ’n bepalende faktor in hulle lewe nie. Hy het nie regtig getel nie. Wat vir hulle belangrik was, was nie wat God sê nie, maar wat ander mense sê en dink. Nie die Here nie, maar ander mense en ander dinge het eerste in hulle lewens gekom.

’n Mens kry vandag nog sulke mense. Ons almal ken sulke mense. Daar sit vanoggend sulke mense in die kerk ook. Mense wat nie vir hulle optrede en hulle standpunte na die wil van die Here vra nie, maar na ander mense kyk. Jy kry sulke kinders: hulle vra nie: Wat sê die Here, is dit reg? nie. Nee, hulle sê: Almal maak so, daarom maak ek ook so. Almal gaan na daardie partytjie waar dit soms bietjie wild gaan, en daarom gaan ek ook. Al my maats slaap by hulle ouens, en daarom doen ek dit ook. As almal dit doen, is dit mos nie so erg nie. ’n Mens kry ook sulke volwassenes, wat nie hulle maatstaf uit die Bybel bepaal nie, maar meet aan die norm van ander mense. As almal oor die baas skinder, dan skinder ek maar saam. Almal kul tog met hulle inkomstebelasting, hoekom sal ek nou alleen eerlik wees? En so kan ’n mens voortgaan met voorbeelde opnoem. Dit gaan nie noodwendig hier om skurke wat ’n totaal losbandige bestaan voer nie. Die mense van wie die psalm hier praat, kan ook baie fatsoenlik wees, gemeet aan die norme van die ander mense. Maar nie in die oë van God nie.

By die regverdiges is dit anders. Nie dat hulle geheel en al sonder sonde is nie – ons het almal sonde, dit weet julle tog. Maar die regverdiges is mense wat hulle optrede laat bepaal deur wat God sê. Wat die Woord van die Here voorskryf, dit is die belangrikste, nie wat ander mense sê of dink of doen nie. Die Bybel praat van so-iemand as een “wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” Nie dat hulle dit altyd regkry nie. Maar hulle probeer regtig om so te lewe. Hulle is mense wat sensitief is vir die wil van God en sy Woord. God en sy gebod dra gewig in hulle lewens, in hulle besluite, in hulle norme. Die wil van God spook by hulle, raak hulle, roer hulle, bring hulle in beweging. Hulle vind selfs vreugde daarin om God se wil te doen, hulle vind vervulling in die feit dat hulle kind van God kan wees.

Nou sê die Bybel vanoggend vir ons: Ons is elkeen een van dié twee mense. Jy is òf ’n regverdige, òf jy is ’n goddelose. Jou lewe is òf soos ’n pragtige boom vol vrugte, òf so nutteloos soos kaf. Vir God is daar nie nog ’n opsie nie. By Hom is daar nie iets soos tussen-in nie.

Niemand van ons wil graag nuttelose kaf in God se oë wees nie. Ons wil almal graag vrug dra. En die Bybel sê vanoggend vir ons: Dit is moontlik! Daarvoor het Christus gesorg toe Hy aan die kruis op Golgota gesterf het. Die geheim lê daarin dat ons lewenswortels reg geplant moet wees: in God en in sy Woord, in die Bybel. Dat ons die Woord van God sal oordink, en nie die raad of voorbeeld volg van mense wat God nie ken en liefhet nie. Dit is nie altyd die maklike pad nie, want dit bring ’n mens dikwels in botsing met mense wat nie uit die Woord lewe nie. Maar dis ’n pad waarin ’n mens vreugde kan vind, die enigste pad waarop ’n mens werklik gelukkig kan wees.

Ons het ’n keuse. Jy het ’n keuse. As ons na die wêreld wil luister, sal ons pad tot ons eie ondergang lei. Maar as ons vir God kies, sê Psalm 1, sal die Here self vir ons op ons pad lei.

Wat kies jy?

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.