Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Die ganse koninkryk van Juda is in rou gedompel deur die hartseer tyding dat hulle geliefde koning Hiskia sterwend is.
Koning Hiskia ly al geruime tyd aan ’n bose sweer wat nie wil genees nie. Vanoggend het die profeet Jesaja seun van Amos die koning besoek met die aankondiging dat hy nie sal herstel nie. Jesaja het die koning aangeraai om van sy gesin afskeid te neem en sy laaste wense aan hulle oor te dra, omdat sy lewe verby is.
Bronne na aan die koning sê dat die nuus hom verpletter het. “Sedert die profeet hier weg is, het die koning nog nie weer ’n woord gepraat nie. Hy lê met sy gesig na die muur gedraai en huil die hele tyd bitterlik,” het een van die amptenare vertel.
Die nuus is ook ’n swaar slag vir die koninkryk, aangesien koning Hiskia baie gewild is. Hy het hom van die begin af beywer vir die suiwer godsdiens.
- Lees 2 Kon. 20:1-11 en Jes. 38.
Biddag vir reën sal nie help, sê profeet
JERUSALEM. – Die profeet Jeremia het die Jode tot in hulle siel geskok toe hy gesê het dat dit nie sal help om te bid vir reën nie. Gesiene boere het gehuil van ontsteltenis toe hulle dié verdoemende uitspraak gehoor het.
Juda word tans deur die ergste droogte in menseheugenis geteister. Die oeste het totaal misluk, en selfs die wild kry swaar. Godsdiensleiers het dus die volk opgeroep om te vas en te bid, sodat God die uitkoms kan bring wat so bitter nodig is.
Jeremia het egter voorspel dat die droogte maar die begin van die ellende is. Oorlog, hongersnood en pes gaan ook nog kom. Selfs die hartroerendste gebede en skuldbelydenisse sal hieraan niks verander nie, het hy gesê. Die Here se boodskap is: “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan.”
Ons verteenwoordiger by die tempel berig egter dat die tempelprofete Jeremia se uitsprake afgemaak het as histeriese doemprofesieë. Hulle het die volk tot kalmte gemaan en die versekering gegee dat die Here blywende voorspoed in die land sal gee.
JESUS LAAT VYEBOOM VERDROOG
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Rabbi Jesus van Nasaret het vanoggend ’n vyeboom vervloek. Die boom het tot almal se verbasing onmiddellik verdroog.
Die voorval het plaasgevind toe die rabbi en sy gevolg uit Betanië op pad was na die stad vir die feesvieringe. Volgens ’n ooggetuie was rabbi Jesus honger, en het hy vye aan die boom gesoek. Toe hy geen vye kon kry nie, het hy die boom vervloek met die woorde: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.”
Dié wonderwerk het die raaisel om die persoon van Jesus opnuut weer skerp op die voorgrond laat kom. Sy dissipels, en ook talle gewone Jode, glo vas dat hy die Messias is, en sien in hierdie daad nóg ’n bevestiging van sy absolute gesag, selfs oor die natuur. Skeptiese teoloë wys egter daarop dat die verdroging van die vyeboom ’n destruktiewe daad is en moeilik te rym is met die rol van die Messias wat as verlosser van die Joodse volk sal kom. “As hy werklik die Messias is, hoekom het hy nie eerder die boom beveel om dadelik vol ryp vye te wees nie?” het een priester spottend opgemerk.
Rabbi Jesus was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
- Lees hiervan in Matt. 21:18-22.
God kyk dieper
“Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” Só verseker Jak. 5:16 ons, en daarvan kan koning Hiskia getuig. God het sy trane gesien, sy gebed verhoor (2 Kon. 20:5).
God se reaksie op die roerende pleitbedes van sy volk in Jer. 14 is, in teenstelling hiermee, oorbluffend. Hy is nie geroer of geraak nie. Hy verwerp hulle met smeekgebede en al, en verbied selfs sy profeet om langer vir die volk in te tree. Die rede? God sien dwarsdeur hulle vroom gebede. Hy sien dat hulle bid en pleit en skuld bely en hulle beroep op sy trou, nie omdat hulle hartgrondig berou oor hulle sonde het nie, maar omdat hulle hoop om daarmee die droogte af te weer. God laat Hom egter nie flous nie.
Dít is ook die boodskap wat Jesus wou tuisbring met die verdroging van die vyeboom. Dit was ’n teken van die oordeel van God oor ’n vrugtelose en ongehoorsame volk, ’n volk wat al die geleenthede gehad het, maar tog nie vir Hom gelewe het nie. Jesus sê hiermee: God kyk dieper as die pragtige lowergroen blaredos van ’n skynbaar godsdienstige bestaan. Hy verwag meer as net uiterlike godsdienstige vertoon: Hy verwag die vrugte wat by die bekering pas. Dít het by Israel ontbreek. Sal Hy dit by jou vind?
Views: 120