Spesiale Paas-uitgawe

JERUSALEM. – ’n Ongewone lang sonsverduistering het gistermiddag die stad van twaalfuur tot drie-uur in duisternis gehul. Terwyl die strate leeggeloop het en alle aktiwiteite op die markplein noodgedwonge gestaak moes word, het mense verdwaas in hulle huise lampe opgesteek. Selfs die voëls het kop-in-die-vlerk in die bome gesit en slaap.

Plaaslike sterrekundiges is dronkgeslaan maar ekstaties oor dié ongewone sonsverduistering. “Dit is vir min mense beskore om ’n algehele sonsverduistering te beleef. Dat dit boonop só lank donker was, is eenvoudig ongelooflik. Dit is ’n ondervinding van ’n leeftyd,” het ’n opgewonde sterrekundige Simon ben Josua gesê.

Asof die sonsverduistering nie genoeg was nie, het ’n hewige aardbewing die stad boonop gister geteister. Hoewel geen ernstige skade aangemeld is nie, rapporteer die opsigter van die begraafplaas dat ’n aantal grafte oopgegaan het in die skudding. Hy wou nie berigte dat daar van die lyke verdwyn het, bevestig nie. Die polisie ondersoek egter die saak.

 

Voorhangsel beskadig; sabotasie word vermoed

JERUSALEM. – Die voorhangsel in die tempel, wat die heilige deel van die Allerheiligste skei, is gistermiddag erg beskadig toe dit in twee geskeur is.

Dié skokkende voorval het omstreeks drie-uur gistermiddag plaasgevind. ’n Sekuriteitswag by die tempel het die skade ontdek toe hy ondersoek gaan instel het na ’n skeurgeluid in die heilige deel van die tempel. Volgens hom het hy gesien hoe die laaste stuk van die gordyn skeur. Wat hom veral verbaas het, was dat die gordyn nie van onder af geskeur het nie, maar van bo af. Hy beweer ook dat daar geen mens in die heilige deel van die tempel was toe die voorval gebeur het nie. “Dit kan net die werk van God wees,” het hy gesê.

Hoëpriester Kajafas het egter die sekuriteitswag se weergawe as onsin afgemaak. “Die wag was te bang om die Allerheiligste te deursoek. Hoe kan hy sê daar was niemand?” het hy gevra. Volgens hom moet dit die werk van Samaritaanse ekstremiste wees wat die feesgety wil ontsier. “Ons sal ons egter nie deur hierdie soort optrede laat intimideer nie,” het hy gesê. “Die fees gaan voort soos beplan.”

 

Gekruisigdes se bene gebreek

JERUSALEM. – Goewerneur Pilatus het gistermiddag op versoek van die Joodse Raad opdrag gegee dat die drie gekruisigdes op Golgota se bene gebreek moet word. Die Jode wou nie hê dat hulle op die Sabbat nog aan die kruis moes hang nie. Een van die gekruisigdes, Jesus van Nasaret, was egter reeds dood toe die soldate by hom kom.

Man opgehang gevind

JERUSALEM. – ’n Man is gisteraand net buite die stad opgehang gevind. Hy was Judas Iskariot, ’n vertroueling van rabbi Jesus van Nasaret, wat gister gekruisig is. Judas het ’n groot rol gespeel in die owerhede se plan om Jesus gevange te neem. Die polisie vermoed geen misdaad nie.


Dit is volbring

Wat die Joodse Raad betref, was die saak afgehandel. Jesus het sy verdiende loon gekry. Hy is dood, en die lewe gaan voort. Dat die sonsverduistering, die aardbewing en die geskeurde voorhangsel iets met Jesus se dood te doen kon gehad het, het waarskynlik nie eers by hulle opgekom nie. Dis maar daardie soort goed wat toevallig gelyktydig gebeur, sou hulle sê.

Die Bybel leer ons egter anders. Die duisternis was ’n teken dat God die Vader Hom onttrek het aan Jesus. Jesus was immers besmet met sonde – óns sonde – en daarom deur God vervloek. God die Vader kon dit nie uithou by Golgota nie. Die stank van ons sonde het Hom te veel gewalg. Daarom gee Hy pad. Die oordeel moes Jesus alleen deur. Vir ons.

Dié oordeel het Jesus deurstaan, gehoorsaam aan die wil van sy Vader, tot die dood. Daarom kon Hy na die duisternis triomfantelik uitroep: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Hy het die prys betaal, volledig. As teken dat ons skuld betaal is en ons sondes versoen is, skeur die voorhangsel wat die Allerheiligste afgesonder het van die res van die tempel. Want nou is toegang tot God nie beperk tot die hoëpriester alleen nie. Nou kan almal wat met God versoen is, persoonlik die Allerheiligste van God se teenwoordigheid betree.

Ons loof U dan, Immanuel! U het oorwin én dood én hel.
U maak ons van die sonde vry, daarom aanbid en juig ons bly!

image_pdfimage_print

Views: 52

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.