Ek kry van tyd tot tyd versoeke van lidmate om oor een of ander sonde te preek. Nie omdat die betrokke lidmaat self met daardie sonde sukkel nie. Dikwels is dit omdat hy of sy agterkom dat ander mense die sonde doen, en hy voel die dominee moet ’n slaggie van die kansel af die mense bykom. Soos die diaken in my eerste gemeente wat vir my gesê het ek moet ’n keer op ’n Sondagmiddag saam met hom na Maselspoort toe gaan, dan sal ek baie stof hê om oor te preek. Mense kan ook vir jou met groot tevredenheid vertel van dié of daardie dominee wat nie gehuiwer het om die sonde by die naam te noem nie.

Nou wil ek sê dat ek saamstem dat sonde by die naam genoem word. Dit is onder andere ook ons predikante se taak om die lig van die Bybel te laat val op die verkeerde dinge by mense. Maar partykeer kry ek die idee dat mense wil hê ons moet oor sekere sondes preek omdat hulle voel ander mense het die preek meer nodig as hulle. Soos CJ Langenhoven gesê het: “Ons is almal ywerig vir die verbetering van ons naaste.”

Hierdie gevoel is nie nuut nie. En dis ook nie net party mense wat dit kry nie. Ek dink die meeste van ons sukkel daarmee dat ons met ’n veroordelende oog na ander kyk. Jesus het by geleentheid met sy dissipels daaroor gepraat en gesê hulle moet eers die balk uit hulle eie oog uithaal voordat hulle hulle moeg maak met die splinter in ander se oë.

Iets van hierdie gesindheid het ook geskuil agter die woorde van die mense (waarskynlik Fariseërs) wat vir Jesus kom vertel het van die klomp Galileërs vir wie Pilatus in die tempel laat doodmaak het. Hulle is natuurlik doodgemaak omdat hulle die een of ander sonde in hulle lewe gehad het waarmee God ontevrede is. So het die mense geredeneer. En hulle wou hê Jesus moes dit bevestig deur te sê dat hierdie mense hulle verdiende loon gekry het. Maar Jesus doen niks van dié aard nie. Hy herinner hulle eerder aan nog ’n voorval waarin ’n hele klomp mense dood is, toe die toring van Siloam op hulle ingestort het. En dan sê Hy: moenie na hierdie mense kyk en dink dis omdat hulle sondiger is as julle dat dit hulle oorgekom het nie. Dis nie die rede vir hulle dood nie. Moenie die sonde in ander se lewens gaan soek nie, kyk na jou eie lewe! “As julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom,” waarsku Hy.

Jy sien, ons is baie lief om ander te veroordeel, om sondes in ander se lewens raak te sien en hulle dan af te skryf, soos die Fariseërs met die Galileërs gedoen het. Maar Jesus wil niks daarvan weet nie. Wees liewer oor jou eie lewe begaan, sê Hy.

En dan vertel Hy die gelykenis van die vyeboom in die wingerd. Die boom het in goeie, bewerkte grond gestaan. Hy het saam met die wingerd aandag gekry. Hy het gereeld water gekry en is bemes. Maar ten spyte daarvan het die boom nie vrugte gedra nie. Jaar vir jaar was daar net pragtige groen blare, maar geen vye nie. Toe, na drie jaar, is die eienaar se geduld op. Die boom staan net daar en put die grond uit. Kap hom uit!

Die tuinier wou dit nie hê nie. Hy het dan al so baie moeite met die boom gedoen! Nee Meneer, soebat hy, gee my nog ’n jaar kans. Ek sal nog ’n keer die grond om die boom omspit. Ek sal nog ’n keer die boom bemes. Miskien help dit, en is daar volgende jaar tog vrugte. Miskien verras die boom ons nog! Maar stel tog u besluit vir ’n jaar uit, Meneer. Want miskien …

Met dié gelykenis verskuif Jesus ons fokus van ánder mense na onsself. Want die vyeboom is van die Ou Testamentiese tyd af al simbool vir die volk van die Here, vir die kerk. Dis by die kerk, by óns, wat die hemelse Eienaar kom vrugte soek. Jaar na jaar kom kyk Hy of daar nie vrugte aan die boom is nie. Daarom: moenie om jou kyk en vra wie is die grootste sondaar nie. Kyk na jouself en vra jouself af: is daar vrug in my lewe?

Kom ons kyk dan vanoggend na onsself, broer en suster. Kom ons los die ander mense, die buurman wat op ’n Sondag sy gras sny, of die kollega wat nie getrou is aan sy of haar huweliksmaat nie, of die man wat die dobbelpaleise gaan besoek, of die buurvrou met haar vlymskerp skindertong. Of die teoloë wat so liberaal is, of die mense wat die Bybel anders verstaan as jy. Kom ons los hulle so ’n bietjie uit. Kom ons los die wêreld met sy geweld en misdaad en vigs en drankprobleme en dinge eers daar. Kom ons steek vanoggend hand in eie boesem. Is daar vrug in jou lewe? Kan die Here vandag maar ’n draai om jou lewe stap? Sal Hy daar iets kry wat vir Hom en sy koninkryk iets werd is?

Kap hom uit! sê God. Hy dra dan nie vrugte nie. Nee, pleit die tuinier, Jesus Christus. Gee hom nog tyd. Ek sal nóg aandag aan hom gee, nóg meer liefdevolle sorg op hom uitstort. Ek is seker dit sal help. Volgende jaar sal daar vrug wees.

Jy sien, die tuinier verwag nie van die vyeboom om in die woestyn vrugte te dra nie. Hy plant die boom in ’n vrugbare stukkie aarde. Hy versorg die boom, kyk dat hy alles kry wat hy nodig het om te kan vrugte dra. So het die Here ons ook in ’n gemeente gevoeg waar ons versorg word. Waar sy Woord op baie maniere verkondig word. Waar daar wyke is en kleingroepe, en ’n predikant en kerkraadslede en ander gelowiges. Die Here stort sy liefde oor ons uit deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Hy vra nie net vrugte nie; eers gee Hy in oorvloed. Want miskien, volgende jaar, sal die vrugte daar wees.

Ek sien oral hoe daar van die wonderlikste mooi vrugte in die gemeente blink. Ek sien dit in die projekte wat in die gemeente aan die gang is: die kos vir haweloses, die breiwerkprojek om serpe vir AJC Jooste se kinders te maak, die mense wat die bejaardes besoek, die gebedsgroep, die kategete, die ondersteuning van ons getuienis-uitreike …

Oral in Petrusburg blink die vrugte al helderder. Is jý al iewers betrokke? Of soek die hemelse Boer tevergeefs vrugte in jou lewe?

Meneer, antwoord die tuinier van Golgota, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemés. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.

Amen

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.