Van ons Nuwe Testament redaksie
KAPERNAUM. – Die aansprake dat Jesus van Nasaret lewe, het opnuut momentum gekry toe sy voormalige dissipels hom vroeg gisteroggend na bewering wéér gesien het. En hierdie keer het hulle ’n ongelooflike visvangs as bewys.
Die charismatiese rabbi Jesus, wat bekendheid verwerf het met sy vars Skrifuitleg en talle wonderwerke, is verlede maand tydens die Paasfees in Jerusalem op omstrede wyse verhoor en daarna gekruisig. Na sy dood het sy dissipels teruggekeer na die beroep wat hulle gevolg het voordat hy hulle geroep het om sy dissipels te word. Hulle het hulle weer op die viswaters van die See van Tiberias begeef.
Eergisternag het hulle egter niks gevang nie. Toe dit lig word, het Jesus glo op die strand gestaan en hulle aangesê om hulle nette aan die regterkant van die boot uit te gooi, en siedaar! Die net was só vol dat hulle dit nie weer kon intrek nie. Toe hulle later tel, was daar altesaam honderd drie en vyftig groot visse. Wat verder verbasend is, is dat die net ten spyte van die reusevangs nie geskeur het nie.
Die leier van die dissipels, Simon seun van Johannes, sê dié oggend het sy hele lewe verander. “Ek het gedink ná ons Meester se dood sal alles maar weer teruggaan na die ou dae, maar ek was verkeerd. Hy lewe, en daar wag baie werk op ons. Die hele wêreld moet van Hom hoor!”
Te oordeel na die entoesiasme van die vissers, sal dit dalk gebeur …
- Lees hiervan in Joh. 21.
PRINSIE STERF NA ’N KORT SIEKBED
Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Die paleis is in rou gedompel deur die tragiese dood van koning Dawid se jongste spruit, die seuntjie van sy vrou, Batseba. Die seuntjie het verlede week skielik ernstig siek geword. Sy toestand het algaande verswak en hy is vanoggend, ’n week nadat hy siek geword het, oorlede.
’n Paleisamptenaar wat anoniem wil bly, het gesê dat hulle bekommerd is oor die koning se gesondheid, aangesien hy nog niks geëet het sedert sy seun siek geword het nie. Daar word gevrees dat die nuus van sy seun se dood die koning dalk heeltemal kan knak. Dit is bekend dat die koning baie lief vir die seuntjie was.
Daar is nog nie sekerheid oor die presiese aard van die prins se raaiselagtige siekte nie. Dokters wat hom behandel het, is dronkgeslaan. ’n Godsdienskenner wat ons geraadpleeg het, bring egter die seuntjie se siekte en dood in verband met ’n besoek van die profeet Natan aan die paleis verlede week. Die seuntjie het kort na sy besoek siek geword.
Die profeet was glo in ’n baie somber bui toe hy die koning gaan spreek het. Dit is nie bekend waaroor die gesprek gehandel het nie, maar die koning was baie stil sedert dié besoek. Die vermoede bestaan dat die gesprek gehandel het oor die koning se huwelik met die weduwee van kaptein Urija. Natan wou egter nie enige kommentaar op die berigte lewer nie.
- Lees meer hieroor in 2 Sam. 12.

God oorbrug die kloof
Daar is nie ’n mens op aarde wat nie die een of ander tyd sondig nie. Paulus onderstreep dit met dik letters in Rom. 3:23 as hy skryf: “Almal het gesondig en is ver van God af.”
As jy deur die Bybel blaai, ontdek jy dat dit nie net ons “gewone” mense is wat sonde doen nie. Selfs die grootstes onder die grotes het voor versoekings geswig. Onder hulle is Dawid en Petrus van die bekendstes. Hulle was albei manne wat bevoorreg was om in ’n baie besondere verhouding met God te lewe. Dawid word beskryf as ’n man na God se hart (Hand. 13:22); Petrus weer noem Jesus die rotsman (Matt. 16:18). En tog faal hulle albei by geleentheid jammerlik: Dawid pleeg moord om ’n vrou in die hande te kry, en Petrus laat die Here Jesus in sy uiterste nood jammerlik in die steek.
En wat doen God, Hy wat die sonde haat? Hy sélf kom oorbrug die kloof wat hulle sonde geslaan het. Hy kom soek vir Dawid op deur sy profeet Natan. Vir Petrus los Jesus nie met sy selfverwyt en besef van onwaardigheid dat hy maar weer terugkeer na die viswaters nie. Hy wag ook nie dat hulle eendag na Hom terugkeer nie. Nee, Hy kom na hulle toe om die kloof te oorbrug.
1 Joh. 4:19 sê: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” Daarom kan ons elke dag voortgaan, al is ons sondaars. Dís die Evangelie!
Hits: 18