Snaaks hoe smaak verskil. Ons het ’n lukwartboompie voor ons kombuisvenster gehad. Hy het vanself daar opgekom, en later begin dra. Heerlike, vet goue lukwarte. Hulle smaak net soos ek uit my kinderdae kan onthou, daar in Rietvlei in die Transkei, toe ek en my broers ons middae sommer al etende in die boom verwyl het.
Ek het my vrou verpes met die goed; tydig en ontydig gesê sy móét proe, totdat sy later gesê het presies wat sy van my lukwarte dink: dis suur en vrank en hard en sy is bang die goed maak haar siek. En ek moet erken, hulle ís nie almal stroopsoet nie. Soms is hulle maar vrankerig. Die goed is meer pit as vleis; ’n oënskynlik treurige ou vruggie as jy hom langs ’n sappige appel of druiwekorrel neersit.
Maar tog – ek is mal oor lukwarte. Om die vrug oop te byt en dan die blinkbruin gladde pitte uit te suig voordat jy die vruggie eet. Te heerlik. Daardie unieke, komplekse lukwart-smaak. Ai. Jy kan nie beter kry nie.
Daar is party goed waarvan jy as volwassene met gevestigde voorkeure nie sommer sal hou nie. Dinge wat jy as kind moet leer waardeer, anders ontwikkel jy nie maklik ’n smaak daarvoor nie. Soos lukwarte. Of soos ’n gereformeerde erediens. Langs party ander soorte eredienste waar dit heelwat vroliker daaraan toe gaan, lyk ’n gereformeerde erediens seker maar stroef. Teenoor ’n orkes met ’n klankversterker en voorsangers klink ’n orrel seker maar vaal. Vir die oningewyde, altans. Maar vir hulle wat daarmee grootgeword het, geleer het om op dié manier God te aanbid, is dit ’n stukkie rus in die besige week, ’n gewydheid in ’n raserige wêreld, die voorportaal van die hemel self!
Ek wonder of ons ons kinders ’n guns bewys met ons pogings om hulle smake te akkommodeer in die kerk. Goed, ek stem saam. ’n Koue, strakke, doodse atmosfeer is vir niemand aanvaarbaar nie. Maar ons hoef darem seker nie met hulle saam te stem dat Psalms en Liedboek-liedere onmoontlik is om heelhartig te sing nie? Of dat ’n dominee wat stilstaan op die preekstoel en nie heen en weer op die verhoog loop, of een of ander tyd ’n kitaar nader trek, vervelig is nie? Of dat ’n erediens wat herkenbaar gereformeerd is, dood is nie?
Lê die fout met mense se gebrek aan waardering vir die tradisionele erediens nie dalk daarin dat hulle nooit geleer het om dit te waardeer nie? Dat ons nie hard genoeg probeer het om hulle ’n liefde daarvoor te gee nie? Dat ons met aparte kinderdienste en tienerdienste, waar vrolike, maklik-verstaanbare liedjies gesing word, ons kinders se smaak bederf het?
Nee wat. Gee vir my ’n gereformeerde erediens, soos ek as kind leer ken het. En gee vir my lukwarte!
Views: 18