Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Dissipels van die oorlede rabbi Jesus beweer dat hulle meester gister opgevaar het na die hemel nadat hy van hulle afskeid geneem het.

Rabbi Jesus is sowat ses weke gelede tereggestel, maar sedertdien het daar hardnekkig gerugte die ronde gedoen dat hy nie dood is nie en aan sy dissipels verskyn het. Gister het hy hulle glo vir oulaas uit die stad uitgelei en by Betanië hier naby gegroet. Toe het hy die lug in opgestyg, totdat ’n wolk hom uit die gesig laat verdwyn het.

Godgeleerdes in Jerusalem het hulle skok en verontwaardiging oor die jongste berigte uitgespreek. Hoëpriester Kajafas het gesê dit is louter onsin. “Dis eintlik ’n dubbele leuen: eerstens is Jesus lankal dood en begrawe; en tweedens gaan mense nie lewend hemel toe nie. Ons weet net van twee persone met wie dit gebeur het: Henog, en die profeet Elia. En hulle was albei bekend daarvoor dat hulle baie naby God geleef het. Selfs vir Moses was dié eer nie beskore nie. Dat nou beweer word dat so iets met ’n gewone sterfling gebeur het, is eintlik heiligskennis. Maar in elk geval kan ’n spook seker enige iets regkry?”

Bybelkoerant is huiwerig om van ’n vermaarde Godsman soos ons geëerde hoëpriester te verskil, en daar is uiteraard geen bewyse om die dissipels se bewerings te staaf nie. As die “hemelvaart”, soos Jesus se dissipels dit noem, egter uit hulle duim gesuig is, is dit moeilik om hulle byna uitbundige blydskap te verstaan. Dit is immers slegs ses weke sedert hulle geliefde meester dood is.

 

BEKENDE PROFEET VERMIS NADAT ’N STORMWIND HOM DIE LUG IN SLINGER

Van ons Ou Testament redaksie

JERIGO. – Die profeet Elia is eergister deur ’n stormwind voor die oë van sy getroue metgesel Elisa die lug in geslinger. Die profeteskool hier by Jerigo het onmiddellik ’n soekgeselskap van vyftig man op die been gebring om die geëerde profeet te soek, maar teen druktyd het hulle nog niks gevind nie. Die hoop vervaag nou dat hy nog lewe.

Die tragiese fratsongeluk het plaasgevind ten aanskoue van ’n vyftigtal profete van die Jerigo-skool. Volgens hulle het die twee vriende gister na die Jordaan gegaan. Elia het met sy mantel op die water geslaan sodat daar ’n pad vir hulle deur die rivier oopgegaan het. Kort daarna het die profete egter ’n stormwarrelwind nader sien kom, sodat die twee in ’n digte stofwolk verdwyn het. Toe die stormwind weg is, was net Elisa oor. Van Elia was daar geen teken nie.

Elisa ontken egter ten sterkste dat Elia deur die fratswind gedood is. Volgens hom is Elia met die stormwind opgeneem in die hemel. “Ons het nog so gestap, toe was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat ons van mekaar geskei het. Elia is toe in die stormwind op, die hemel in. Dit was ontsettend, maar tog ook ’n heilige oomblik,” het Elisa gesê.

Die profeet Elia het veral bekendheid verwerf vir sy sterk teenkanting teen die Baäl-afgodsdiens wat koning Agab en koningin Isebel van Israel ingevoer het. Sy stryd – en oorwinning – oor die Baälpriesters op die berg Karmel het destyds groot opspraak verwek. Volgens alle aanduidings sal Elisa hom as profeet opvolg.

 


Ons het plek in die hemel

Dat ’n gewone mens van vlees en bloed, soos Elia (en ook Henog in die oertyd, Gen. 5:21-24), lewend die hemel kon invaar, laat ’n mens half jaloers.

Moenie jaloers wees nie. Ons gaan immers ook daar uitkom! Want of ons “poort” na die hemel nou ’n stormwind is, en of dit die dood is, maak nie ’n verskil aan die feit dat ons ook daar gaan woon nie. Dít is immers Jesus se boodskap aan sy dissipels in Joh. 14: Hy is hemel toe om vir ons plek te maak. En op sy tyd kom Hy ons haal, sodat ons by Hom in die Vaderhuis kan wees.

Dit is natuurlik nie al wat Jesus in die hemel gaan maak het nie. Hy het ook gegaan om vir ons as Voorspraak in te tree by die Vader. Rom. 8:34 sê: “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”

Die wonderlikste is egter dat Hy aan die regterhand van die Vader sit, sodat Hy vanuit die hemel kan regeer! Jesus se hemelvaart was niks anders nie as sy troonsbestyging. Ons het ’n Koning in die hemel wat oor ons regeer, wat jaloers oor sy kerk en sy volgelinge – oor jou! – waak.

Die duiwel wil graag die indruk skep dat hierdie wêreld syne is, dat hy hier die hef in die hand het. Wie in Christus glo, weet egter van beter. Daar is net één ware Koning, Hy wat die Naam ontvang het wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Hy het reeds die duiwel oorwin op Golgota. Hy swaai die septer. Ook oor jou lewe.

image_pdfimage_print

Views: 27

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.