Die Bybel begin met ’n beskrywing van die aarde as woes en leeg en donker op die diep waters. Dis hoe die wêreld gelyk het voordat God met sy groot vormingstaak begin het. Die heel eerste ding wat God gesê het, was: “Laat daar lig wees.” Waar God werk, kom daar lig. Daarom kon Johannes in 1 Joh 1:5 onomwonde skryf: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.”

Kom ek sê dit andersom. Duisternis was van die heel begin af ’n teken van God se afwesigheid. Die donker is die terrein van die Bose. In sy Evangelie vertel Johannes ons van die stryd tussen lig en donkerte. Hy sê in Joh 1:4,5: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Dit is daarom nie verbasend nie dat die ewige verdoemenis dikwels met donkerte beskryf word. Want dít is die hel: die totale afwesigheid van lig, omdat God afwesig is. In Amos 8:9, waar die profeet voorspel dat God se oordeel die volk sal tref oor hulle sonde, beskryf hy dit ook as ’n duisternis wat oor hulle sal kom: “Daardie dag, sê die Here my God, laat Ek die son helder oordag ondergaan, maak Ek dit donker op aarde terwyl dit nog ligdag is …” Die Here Jesus praat daarvan dat ongelowiges in die buitenste duisternis gewerp sal word (Matt 23:30 e.a.) – daar waar die lig van God se heerlike teenwoordigheid, sy genade en liefde nie is nie. En as Hy vir Paulus op die Damaskuspad voorkeer, gee Hy vir Paulus die opdrag (Hand 26:18): “Jy moet (die heidennasies se) oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer.” En 1 Pet 2:9 sê God het ons uit die duisternis geroep na sy wonderbare lig.

Dus: die duisternis is ’n teken daarvan dat God sy liefde, sy genade, sy bystand aan die mens onttrek; dat God Homself aan die mens onttrek. En dít is presies wat op Golgota gebeur het: dit word donker. Jesus hang aan die kruis in die duisternis, onder die oordeel van God, onder die toorn en vloek van God. Só ontsettend was die verskrikking van Godverlatenheid dat Jesus dit daar aan die kruis uitgekerm het (vers 34): “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

God gee pad van Golgota, omdat die wêreld se sonde daar op Christus neergekom het, en dit vir God onuithoudbaar geword het. Want daar aan die kruis het al jou en my sonde, al ons haat en liefdeloosheid en leuenagtigheid en twis en tweedrag en selfsug en jaloesie en eiewillilgheid en eiesinnigheid – al ons sondes het daar op Jesus afgekom, en Hy dra dit alleen, in die duisternis van God se oordeel, van God verlate, want die walging en stank van jou en my sonde het Hom weggedryf.

Daarom die duisternis: God was weg. Jesus het alleen daar gehang. Die besondere liefdesband tussen God die Vader en God die Seun is daar afgesny.

Dít is die verskrikking, die vloek van Golgota: dat God se toorn en oordeel op die Here Jesus afgekom het. Dít was die verskriklikheid van Christus se lyding: dat Hy dit alleen moes dra, in die duisternis van God se oordeel, afgesny van sy Vader se sorgende liefde, van God verlate.

God die Vader verlaat God die Seun. Ons belydenisskrifte vertel dat God een is, dat die drie Persone van die Drie-eenheid onderskei kan word, maar nie geskei nie. En tog gebeur die onmoontlike op Golgota!

Miskien moet ek ’n oomblik hier stop, dat ons die ontsetting hiervan dit kan bedink. Jesus hang alleen aan die kruis.

Dít is die verskrikking van die kruis. Maar juis dít is ook die wonder van die kruis: dat God se oordeel by óns sondaars, óns wat die oordeel verdien het, dat die oordeel by ons verbygegaan het. Dat Christus bereid was om in óns plek te sterf, sodat God’s oordeel vir Hom, en nie vir ons nie, tref. Hy is waarlik die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra (Joh 1:29). En daarom, al was dit so ’n verskriklike dag van oordeel op Golgota, vier ons nie Vrydag ’n Swart Vrydag nie, maar Goeie Vrydag, die dag van verlossing en redding, die dag waarop ons sonde uitgedelg is.

Ná drie uur het dit weer lig geword. God die Vader kon terugkeer, want die sonde van die wêreld was weg. Die duisternis moes vlug voor die Lig. Die duisternis en die ryk van Satan het geen plek waar Jesus regeer nie. Hý is die lig van die wêreld.

Omdat Christus ons sondes wat tussen ons en God staan, weggeneem het, is daar nou niks meer wat ons van God skei of kan skei nie. Daarom het die voorhangsel in die tempel middeldeur geskeur: die voorhangsel, die gordyn wat die Allerheiligste, die plek van God se besondere teenwoordigheid, van die res van die tempel afgeskei het. Die gordyn wat die volk gedurig daaraan herinner het: Julle is sondaars en kan daarom nie in God se teenwoordigheid kom nie. Hierdie gordyn skeur in twee toe Christus sterf, want nou is ons sondes weg. Nou hoef ons nie meer van God afgesonder te lewe nie. Ons kan met Hom openlik en vryelik praat, ons kan elke dag, elke oomblik, in sy teenwoordigheid lewe.

Is jy bang vir die hel? Vir die verskrikking van deur God verwerp en verlaat te word? Dít is presies wat Christus op Golgota beleef het. Daarom bely ons elke Sondag dat Hy ter helle neergedaal het.

Ons dink so maklik oor Golgota, sonder om die ontsetting van wat daar gebeur, te besef. Ons het in die ou dae so heerlik die Hallelluja-lied gesing: “Daar’s ’n dierbare kruis …” Maar hoor dit vanoggend: die kruis is nie dierbaar nie. Die kruis is verskriklik. Want dit was ons Here Jesus se hel. Van die kruis drup sy bloed, wat vir jou en my gevloei het. Daar aan die kruis het God Hom verlaat, sodat ek en jy gered kan word..

Dis die evangelie.

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 169

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.