Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Verlamde man wat al vir baie jare in die Mooipoort sit en bedel, het gistermiddag baie méér gekry as waarop hy ooit kon hoop: hy is genees.

Die man wou nie sy naam bekend maak nie, uit vrees vir optrede teen hom en sy familie. Hy is van sy geboorte af verlam. Gister het sy familie hom soos gewoonlik na die tempelpoort gebring om by die tempelgangers te bedel. Die leiers van die nuwe sekte wat hulleself “Volgelinge van Jesus” noem, Petrus en Johannes, het ook by hom verbygeloop op pad na die tempel. Die man wou by hulle geld hê. Petrus en Johannes het gaan staan en hom gevra om na hulle te kyk. “Ek was seker hulle gaan vir my geld gee, want hulle het so vriendelik gelyk. Maar toe sê Petrus: ‘Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Ek was te verbaas om te reageer, maar toe gryp hy my aan die hand en trek my op – en daar staan ek! Ek kan dit nou nog amper nie glo nie,” het hy opgewonde aan Die Bybelkoerant vertel.

Die man het die tempel ingegaan en rondgeloop en gespring en God geprys, sodat talle mense by die Pilaargang van Salomo om hom en sy weldoeners saamgedrom het. In ’n kort toespraak het Petrus ontken dat hulle die man genees het. Dit was in die Naam van Jesus van Nasaret, die Messias, dat die man genees is, het hy gesê. Hy het ’n beroep op almal gedoen om Jesus as hulle Messias en Verlosser te aanvaar. Hy het nie net self uit die dood opgestaan nie, maar kan ook dié wat in hom glo, uit die dood opwek, het Petrus gesê.

Dié aanspraak was te veel vir die priesters en Sadduseërs, en hulle het die twee met behulp van die tempelpolisie in hegtenis geneem.

Die feit dat die polisie ingegryp het, kon egter nie verhinder dat talle omstanders ook Jesus as Messias aanvaar het nie. Die sekte se getalle staan nou op vyf duisend.

  • Lees hiervan, en van die verhoor voor die Joodse Raad, in Hand. 3 en 4.

 

KONINGIN VAN SKEBA SE STAATSBESOEK ’N ONGEKWALIFISEERDE SUKSES

Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Die staatsbesoek van die koningin van Skeba word vanaand luisterryk afgesluit met ’n bal in die koninklike paleis.

Die koningin, vergesel van prominente handelaars uit haar Arabiese koninkryk, is die afgelope paar weke al in die stad om nouer diplomatieke en handelsbande tussen haar staat en die koninkryk van Israel te smee. Op ’n gesamentlike perskonferensie vroeg vanoggend was dit duidelik dat die koningin se sending ’n diplomatieke triomf vir koning Salomo was. Die koningin was vol lof vir sy wysheid, sy administrasie, sy bouwerke en sy rykdom.

Sy het aan joernaliste gesê: “Die prag en styl van koning Salomo het my asem weggeslaan. Ek het baie van hom gehoor, maar nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is oor sy groot wysheid nie.” Sy het bygevoeg dat dit duidelik is dat die Here God vir Israel liefhet. Daarom het Hy ’n man met die wysheid van koning Salomo as koning aangewys.

As gebaar van welwillendheid het die twee vorste geskenke vir mekaar gegee. Die koningin het van koning Salomo alles ontvang wat sy begeer en gevra het, en sy het op haar beurt ’n geskenk van meer as vier ton goud, saam met ’n groot klomp kosbare kruie en edelstene gegee.

 

DIE KRUIEKAS

jou kruiespesialiste

Ons spesialiseer in eksotiese Oosterse kruie en speserye direk uit Skeba.

Besoek ons vandag nog by:
Die Markplein, Jerusalem

 

 


God is nie suinig nie

Ons aanbid ’n wonderlike God; ’n God aan wie gans die heelal behoort. Dit sê God self in Ps. 50:12: “… die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My.” Daarom is Hy half geamuseerd as mense dink hulle kan Hom met hulle offers paai (vers 10): “… want al die diere in die bos is Myne, die wild op duisende berge”.

Die heerlike wonder is dat God hierdie rykdom van Hom met ons nietige mense deel. Daarom staan ’n mens dikwels verbaas oor die oorvloed van sy gawes. Aan die verlamde bedelaar gee Hy baie meer as wat hy ooit kon droom om te ontvang: gesonde, sterk bene waarmee hy kan rondspring! Aan ’n beskeie Salomo skenk Hy nie net baie groter wysheid as wat hy ooit kon vra nie, maar ook ongekende rykdom en aansien (1 Kon. 3:13), sodat vorste van heinde en ver verstom is oor wat hulle oë aanskou en hulle ore hoor.

Hierdie selfde God wil vir jou vandag sorg – uit sy heerlike rykdom. Jy is immers sy kind! Jy is ’n koningskind. Koester jou dan in dié weelde.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.