Uit “Maria, die ma van God se seun”

Gou, heeltemal te gou, wyk die winterreën en koue. Geleidelik word die dae langer en warmer. Die vyebome begin bot, hulle blare soos groen babahandjies wat stadig oopvou. Een van die dae is die gars ryp, en die koring stoel ook al mooi. Dit word lente. Paasfeestyd.

Ek het my voorgeneem om nie weer in Jesus se bediening in te meng nie, maar hierdie keer durf ek nie stilbly nie. Sy lewe hang daarvan af.

Ek wag vir ’n geleentheid toe ons twee alleen is. Dis nie iets wat dikwels gebeur nie, want die winterweer en die lang, reëngevulde weke het gemaak dat ons vir lang tye in die huis vasgekeer bly, maar dit was ’n mooi dag, en almal het die kans benut om ’n bietjie buite te kom. Om die waarheid te sê, Jesus het sy dissipels beveel om vars lug te gaan soek. Hyself het net ’n entjie van die huis af alleen onder ’n boom gaan sit.

Toe ek langs hom gaan sit, glimlag hy. “Ek sien Ma het iets op die hart. Dis dié dat ek die klomp weggestuur het, dat ons in vrede kan gesels.”

“Ek is bly,” antwoord ek en hou die onderkleed, wat ek in ’n stuk materiaal toegedraai het, na hom toe uit. “Ek hoop jy hou daarvan,” sê ek, skielik bang hy raas omdat ek so baie moeite gedoen het. “Ek soek al lank na ’n geleentheid om dit vir jou te gee.”

Hy woel die pakkie oop en hou die onderkleed op. Sy hande bewe as die fyngeweefde materiaal deur sy vingers gly. “Dis … baie spesiaal, Ma. Ek het nog nooit so iets gehad nie. Dis die kleed van ’n koning! Baie dankie,” sê hy half bewoë.

“Ek het dit vir jou gemaak, vir die paasfees.” Ek wou eers byvoeg “jou laaste paasfees”, maar ek het skielik nie die moed om die onderwerp aan te roer nie, bang dat as ek daaroor praat, dit sekerder sal gebeur.

Maar Jesus is natuurlik nie onnosel nie. Hy weet presies wat ek bedoel, want hy sê: “Ek sou dit graag anders wou gehad het, ter wille van Ma.”

“Maar jy kan dit mos verhoed, kan jy nie?”

“Dis nie hoe ons dit beplan het nie, Ma,” sug hy.

“Jy en jou Vader, bedoel jy?”

Hy knik, en kyk in die verte in, maar ek dink nie hy sien die skape wat op die heuwels wei nie.

Ek kan dit nie glo dat ons hier sit en oor sy naderende dood praat asof dit iets alledaags is nie! “Kan jy nie weer met jou Vader praat nie? Partykeer beplan ’n mens iets, maar dan sien jy daar is ander moontlikhede, en dan maak jy nuwe planne. Móét dit dan so werk soos julle dit aanvanklik beplan het?”

Ek sien hy weifel. Dit laat my moed skepen ek beur voort: “Ons het jou nog so nodig, Jesus! Jou werk is nog nie klaar nie. Daar is mense wat jou as Messias aanvaar, maar hulle aanvaarding is nog nie vas genoeg nie. Hulle weet nog nie seker genoeg wie jy is nie. Miskien moet jy dit nog kans gee. Mense het tyd nodig vir dié soort goed. Die Joodse Raad het tyd nodig om jou teenwoordigheid te verwerk. Jy moet hulle tyd gee.”

“Ma, …”

Ek kan nie dat hy my nou van my storie afkry nie en praat hom dood: “Miskien, as jy dit so ’n rukkie kans gee, is dit dalk nie eers nodig dat jy … jy weet …” Ek kry nie die woord “doodgaan” oor my lippe nie. Dis te vreeslik om selfs te noem.

Hy laat sak sy kop in sy hande. “Ma moet dit asseblief nie vir my swaarder maak as wat dit reeds is nie.”

“Dis nie net jy wat swaarkry nie.”

“En dis ook nie wat ek bedoel het nie, Ma.”

Ek wil tog nie met hom baklei nie, of hom verwyt nie, en daarom probeer ek ’n ander taktiek. “Hoekom moet dit so wees? Verduidelik dit asseblief vir my, want ek verstaan dit nie.”

Hy skud sy kop. “Ma sal dit nie nou al kan verstaan nie.”

“O, want ek is net ’n onnosel ou vroumens. Is dít wat jy sê?” Ek kan dit nie help nie; my stem begin styg.

“Nee, Ma, dis glad nie wat ek sê of bedoel nie,” antwoord hy kalm. “Dit het niks met die feit dat Ma ’n vrou is, te make nie. Ek bedoel, my Vader se wil en beplanning is … Kom ek sê maar net, dis nie iets wat enige mens kan verstaan nie. Daar is te veel faktore wat ’n rol speel, te veel vlakke waarop dinge gebeur. Ons is hier op die aarde, vasgevang in ons eie wêreld en tyd. Dis onmoontlik om hiervandaan die regte perspektief te kry om te verstaan wat besig is om te gebeur, of hoekom dit so moet wees.”

My kop draai ’n bietjie van sy antwoord, maar ek gaan nie so maklik tou opgooi nie. “Dis nie vir my moeilik om te verstaan wat gebeur nie, Jesus! Die owerhede wil jou uit die weg ruim, want hulle is bang jou teenwoordigheid versteur die vrede, en dit kan hulle posisie in gevaar stel. En jy laat jou maar ewe gewillig soos ’n lam na die slagpale lei, terwyl ek voor my siel weet jy kan dit verhoed as jy wil.”

Weer skud hy sy kop. “Dis nie so eenvoudig soos Ma dit wil laat lyk nie.”

“Jy sê so, ja. Ek hoor wat jy sê, dat dit van God se kant af baie kompleks is en dat ek dit nie sal verstaan nie, maar ek wil hê jy en jou Vader moet van my kant af na die situasie ook kyk. Is dit te veel gevra?”

Hy antwoord my nie dadelik nie, maar kyk af grond toe. Ek kan sien hy worstel met wat ek vir hom gesê het, en dat hy my woorde ernstig opneem. My hart wil breek vir hom. In ’n sekere sin verstaan ek sy dilemma. God druk aan die een kant, en ek rem aan die ander kant, en hy is in die middel, net soos ek in die middel gestaan het tussen hom en sy broers. Dis nie ’n lekker plek om te wees, in die middel nie.

Later kan ek nie die stilte verduur nie, en sê: “Ek wil dit nie vir jou moeiliker maak nie, my kind, maar …”

Hy sit sy hand op my arm en kyk op, in my oë. “Ek verstaan, Ma, en beter as wat Ma dink. Ek sal weer met my Vader praat.”

“Dankie, my kind. Dis al wat ek vra.”

“Ek wil net hê Ma moet weet: hierdie ding is groter as my en Ma se begeertes of geluk. Ek …” Hy aarsel, vryf oor sy gesig, haal diep asem en maak dan sy sin klaar: “Ek is nie optimisties oor die moontlikheid dat ons beplanning gaan verander nie, Ma. Ek dink Ma behoort dit te weet. Maar ek sal my bes doen, ter wille van Ma. Ek belowe.”

Toe ek later opstaan en sommer ’n ent in die veld gaan stap, voel ek verlig. Ten minste het ek gesê wat op my hart is. Maar hoe meer ek daaroor dink, hoe minder het ek hoop dat daar iets van gaan kom. God se weë ís onverstaanbaar vir ons gewone sterflinge, en ek het al te dikwels aan my eie bas gevoel dat mý behoeftes nie voorop staan in sy beplanning nie. Van die dag toe die engel vir my oorrompel het, het my persoonlike behoeftes tweede gekom. Hoe het Jesus ons geleer bid? “Ons Vader wat in die hemel is, laat u wil geskied.” Sy wil, nie ons s’n nie. Sy wil, nie myne nie. Sy wil, nie Jesus s’n nie. Sy wil, sy wil, altyd net sy wil!

Ek weet nie hoe Jesus dit regkry nie, maar Jesus se wil is volledig ondergeskik aan God se wil. Hy sê hy en die Vader is een, en as dit oor God se beplanning gaan, is dit presies hoe dit is: Jesus oorweeg nie eers iets anders as God se wil nie, al is dit vir hom ook hóé moeilik. God se wil is vir hom alles.

Dis seker hoe geloof behoort te werk? Dat God jou alles moet wees? Hoe het Jesus nou anderdag gesê? Die heel belangrikste ding wat in die Skrifte staan, is dat ons God moet liefhê met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en al ons kragte. Dit beteken God eerste in alles.

Ek weet God is baie belangriker as ek, en ek weet die wêreld draai nie om my nie. Ek weet dit alles, en ek besef dat God faktore in ag moet neem waarvan ek glad nie eers bewus is nie. Maar kan Hy nie tog maar ’n arme ou weduwee se versugtinge hoor nie? Ek is darem die ma van sy Seun.

Hoe maklik was dit nie vir my daar aan die begin om te sê nie: “Ek is tot God se beskikking. Mag dit so wees soos wat u gesê het!” Ek was selfs opgewonde daaroor dat God se planne in en deur my lewe voltrek word. Ek was geëerd. Ek het bevoorreg gevoel, en wie sou nie so gevoel het nie? Maar die prys is hoog, so verskriklik hoog. Ek weet nie of ek meer daarvoor kans sien nie.

Asseblief, Here, God, spaar tog vir Jesus. As U dan nie omgee wat van hom word nie, ék gee om!

image_pdfimage_print

Views: 24

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.