In die Griekse dramas van die antieke tyd lees ’n mens die verhale van helde wat vasgevang word in die noodlot. Die held moet kies tussen ’n maklike pad van sukses en roem, maar waarin hy dan in die proses sy beginsels moet prysgee, of die moeilike pad wat waarskynlik sy eie ondergang sal beteken as hy daarmee volhou. Die tragedie van hierdie Griekse helde is dat hulle op die ou end wel hulle beginsels behou, maar daardeur alles anders verloor, ook hulle lewe, en ’n sinlose dood sterf agv hulle eie koppigheid. ’n Mens voel so half jammer vir die karakter.

Die ooreenkoms tussen die ou tragedie-dramas en Jesus se lewe is daar, nie waar nie? Het Satan dan nie al heel aan die begin, toe Jesus in die woestyn was, na Hom gekom en gesê Hy moet kies tussen lyding en sukses nie? En het Jesus se keuse nie uiteindelik tot sy dood gely nie?

Die vraag is: was Jesus ’n tragiese figuur wat ons simpatie nodig het?

Daar is sg. moderne gelowiges wat dit te kenne wil gee, wat beweer dat Jesus se einde onnodig en tragies was. As jy die goed lees wat die liberale teoloë skryf, sal jy dit daar sien.

MAAR dis nie hoe die kerk oor die eeue heen oor Jesus se dood gedink het nie. Jesus se dood was nie die tragiese einde van ’n mislukte held nie. En as ons die Evangelies lees – ook die Johannes-Evangelie waaruit ons vandag gelees het – sien ons dat die lydensgebeure nie so opgeteken is dat dit ons simpatie, ons bejammering probeer opwek vir die tragedie wat afspeel in Jesus se lewe (soos dit in die tragedies van destyds was) nie.

Nee, vir die Bybel is Jesus se dood nie ’n tragedie nie, alhoewel die dissipels op daardie stadium waarskynlik so gedink het. Ons lees bv in Luk 23:27 dat baie vroue agter Jesus aan geloop het op pad na Golgota en oor Hom getreur en gehuil het. Maar Jesus aanvaar nie hierdie trane nie. Hy sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders!” En ook hier in Joh 19 word die kruisiging nie as ’n tragedie beskryf nie, maar as ’n triomf! ’n Mens kan amper sê: Johannes beskryf die kruisiging as Jesus se troonsbestyging! En daarom word sy titel nie net in Hebreeus nie, maar ook in Grieks en Latyn, die internasionale tale van destyds, bokant sy kop vasgespyker: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode”.

Jesus se kruisdood was nie ’n tragiese lot wat oor Hom gekom het nie, maar ’n doelbewuste en gewillige oorgee van Homself tot in die dood. Dit sien ons in alles wat hier by die kruisiging gebeur, veral ook hier in ons teksvers, waar Jesus uitroep: “Ek is dors!” Hierdie woorde herinner aan sy woord in 18:11 aan Petrus, waar Petrus met die swaard wou keer dat hulle Hom gevange neem. Toe het Jesus vir Petrus gesê: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader my gegee het nie?” As Jesus daar van drink praat, bedoel Hy die doen van die wil van die Vader. En met die kruiswoorde: “Ek is dors!” spreek Hy sy verlange uit om die wil van die Vader enduit te doen. En dan drink Hy ook die wyn wat hulle vir Hom gee, as teken daarvan dat Hy die lydensbeker tot op die bodem toe leeggedrink het.

En nadat Hy die wyn uit die spons gedrink het, het Hy ook deur sy laaste woorde hierdie feit onderstreep, toe Hy uitgeroep het: “Dit is volbring!” Dit is afgehandel. Die taak is uitgevoer. God se opdrag is tot die laaste druppel toe gedoen. Sy taak is voltooi.

En selfs dan tree Jesus nog nie terug om gelate vir die dood te wag nie. Ook hier is Hy steeds in beheer. Want net nadat Hy gesê het: “Dit is volbring!”, laat sak Hy sy kop en blaas sy asem uit. In die Grieks staan daar: Hy het sy lewensasem oorgegee. Ook Jesus se sterwe was ’n doelbewuste daad van gehoorsaamheid aan die Vader se wil. Daarom sterwe Hy ook lank voordat die ander 2 weerskante van Hom dood is – nie omdat Hy swakker as hulle was nie, maar omdat Hy sy lewe doelbewus oorgegee het.

Waarom dan hierdie doelbewuste sterwe? Waarom was dit die wil van die Vader dat sy Seun moes sterwe? Omdat die dood die straf op die sonde is – jou en my sonde! Omdat God nie wil hê dat ons oor ons sonde moet sterwe, die ewige dood moet sterwe nie. Daarom gee Hy sy Seun, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Daarom roep Jesus ook triomfantelik uit aan die einde van sy lewe: “Dit is volbring!” Aan die Vader se wil is voldoen. Die sonde is versoen, die offer is gebring.

Jesus se lyding en sterwe was nie ’n tragiese lot wat Hom getref het nie, dit was ’n doelbewuste daad van gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader, omdat Jesus, soos Joh 13:1 sê, ons liefgehad het, liefgehad het tot die uiterste toe.

Hoe reageer ’n mens op die verhaal van die kruis?

Nie met trane oor Jesus se dood nie, want dis nie ’n tragiese dood wat Hy gesterf het nie, maar met trane oor jou eie sonde, wat Hom sy dood gekos het.

Maar die eintlike vraag waarmee hierdie gedeelte ons laat, is of ons, as navolgers van Christus, ook hierdie dors in ons het om God se wil te doen, al kos dit ons ook wat. Is Jesus se dors om God se wil te doen, ook joune? Is jy bereid om daarvoor offers te bring?
Wat het jy al dié jaar gedoen om God se wil vir jou lewe te realiseer?

Amen

image_pdfimage_print

Views: 422

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.