Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Die frustrasie en woede van ortodokse Joodse godsdienstiges het gister oorgekook toe hulle ’n prominente lid van die Jesus-sekte met klippe doodgegooi het.
Dié steniging volg op weke van wrywing tussen die godsdienstige owerhede en die groep wat hulleself “Dissipels van Jesus van Nasaret” noem. Die groep is vanweë hulle lewensblyheid en besondere onderlinge liefde hoog in aansien by hulle volksgenote. Hulle getalle groei só dramaties dat dit vir die tradisionele Joodse leiers ’n groot kopseer geword het.
Bid voor hy sterwe
Gister is die spanning op die spits gedryf toe lede van die sogenaamde “Sinagoge van die Vrygelate Slawe” met Stefanus, ’n diaken van die sekte, begin redeneer het. Hulle het egter in dié woordestryd lelik die onderspit gedelf. Toe het daar beskuldigings ingekom dat Stefanus teen Moses en God gelaster het. Na ’n blitsverhoor voor die Joodse Raad is hy uit die stad gesleep en gestenig. Sy laaste woorde voordat hy gesterf het, was ’n gebed: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”
Stefanus se tragiese dood herinner sterk aan die dood van die geestelike vader van die sekte, die rabbi Jesus van Nasaret. Ook hy is na ernstige wrywing met die Joodse geestelikes in ’n blitsverhoor ter dood veroordeel op ’n aanklag van godslastering. Verder het Jesus ook vir sy vervolgers gebid kort voor sy dood aan ’n kruis.
“Operasie Skoonmaak”
Intussen het die ander lede van die sekte in vrees vir hulle lewe uit die stad gevlug, aangesien Stefanus se dood skynbaar slegs die begin van ’n suiweringsproses is. Talle mans en vrouens is reeds in die tronk gegooi. Die leier van “Operasie Skoonmaak”, die jong rabbi Saulus van Tarsus, het aanhangers van die sekte gemaan om terug te keer tot die ortodokse geloofsoortuiging, anders kan hulle geen genade verwag nie. “Hierdie mense minag die oorlewerings van ons voorvaders en verhef ’n gewone mens tot die Seun van God. Ons kan dit nooit duld nie,” het Saulus gewaarsku.
PERSOONLIK
Die leraar Timoteus, seun van Eunice, en sy kollega Markus beplan ’n uitgebreide reis na Rome om hulle geestelike mentor, die apostel Paulus, by te staan waar hy in aanhouding verkeer. Onderweg sal hulle ook by Troas aandoen. Demas, ’n ander medewerker van Paulus, het uit Rome vertrek na Tessalonika, terwyl Kressens na Galasië en Titus na Dalmasië gegaan het.
- Lees hiervan in 2 Tim. 4:9-13.
ITALIË TOERE
Ons maak jou reis ’n fees!
Ons het ’n reisburo naby jou!
Besoek vandag nog ons agente in
Rome, Atene, Kaïro of Jerusalem.
Reis Nou & Betaal Later

Navolging
Om Jesus te volg, beteken nie ’n moeitevrye, probleemlose lewe nie. Dit kos jou iets. Dit sê Jesus self vir ons in Joh. 15:20: “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.”
Miskien was dít die rede waarom Demas kop uitgetrek het daar in Rome: die prys om Jesus se dissipel te wees, het te hoog geraak. Die “teenswoordige wêreld” met al sy vryhede en aanloklikheid het net te swaar begin weeg. Daarom laat hy Paulus in die steek op die vooraand van sy teregstelling in Rome.
Van heel ander stoffasie was Stefanus. Vreesloos getuig hy in die aangesig van die dood van die verlossing wat daar in Christus Jesus is. Hy het begryp dat die prys van dissipelskap niks is in vergelyking met die prys wat op ons wag nie, soos Paulus baie jare later aan die gemeente in Rome (Rom 8:18) skryf: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”
En langs die pad het Stefanus ’n wonderlike ontdekking gemaak: dat hy in sy swaarkry nie onder die wakende oog van die Here Jesus uitgeglip het nie! Dit getuig hy in Hand. 7:56: “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” Jesus staan, besig om vir hom in te tree by die Vader. Nóg lyding, nóg benoudheid, nóg vervolging, honger, naaktheid, gevaar of swaard kan ons immers van sy liefde skei (Rom. 8:35).
Om Christen te wees, kos iets, maar ons dra dit nie alleen nie!
Views: 54