Uit my boek “Maria, die ma van God se seun”

 

Ek kry Jesus laat die middag eers, waar hy alleen langs die see op ’n rots sit, arms om sy bene gevou. Ek gaan sit langs hom, nie seker hoe om die gesprek te begin nie. Johannes was nie net familie nie. Hy was Jesus se beste vriend.

“Ek sien Ma het ook gehoor van Johannes,” sê hy en staar weer oor die see uit. Sy oë is rooi en geswel.

“Ja, ek het gehoor. Oom Amnon het my kom vertel, toe dag ek dit sal vir jou baie swaar wees.”

Hy knik net, en die trane loop weer oor sy wange. Vir ’n lang ruk sit ons net so langs mekaar met ons onthou.

“Daar was altyd ’n baie spesiale band tussen ons, Ma weet? Ons het mekaar verstaan.”

“Ja, hy was ’n baie spesiale man.”

“Hy was die beste, Ma, die grootste profeet ooit. Dis dié dat hy doodgemaak is.”

Ek wil nie vra nie, want ek dink ek weet die antwoord, maar ek móét weet. “Hoekom sê jy dit?”

“Die mense het oor al die eeue nog die groot profete doodgemaak. Ma weet dit tog. Hulle hou baie van die goed wat die profete sê solank dit hulle pas, maar as die profeet iets sê wat die mense nie wil hoor nie, swaai hulle net daar om en draai teen hom. Dis dié dat Johannes nou dood is. Hy het sy werk gedoen, en op die lang duur kan mense dit nie verdra nie.”

“Jy kan darem seker nie die mense die skuld gee vir wat Herodes gedoen het nie,” keer ek hoopvol.

Hy skud sy kop. “Nee, Ma, as dit nie Herodes was nie, sou die mense hom op ’n ander manier bygekom het. Die geestelikes in Jerusalem het niks gehou van die aanhang wat hy gehad het nie. Hulle het bedreig gevoel. Dis hoekom hulle nie eers probeer het om hom uit die tronk te kry nie. Dit het hulle gepas.”

“Maar hy het net God se boodskap verkondig.”

Jesus knik. “Presies. Mense wil nie hoor wat God sê nie, Ma. Hulle wil hulle eie hart volg, en hulle eie luste.”

“Ons is darem nie almal so nie, my kind,” keer ek. Ek hou nie van dié bitterheid nie.

“Nee, Ma is reg. Daar is baie mense wat nie so is nie, maar hulle het nie die sê nie. Dis die mense wat die sê het, die mense met mag, wat so is. Hulle klou aan hulle magsposisies, want die voordeel wat dit vir hulle inhou, is vir hulle baie belangriker as die eise van my Vader. Daarom wil hulle nie hoor wat my Vader sê nie, want Hy vra dat hulle regverdig moet wees, dat hulle barmhartig moet wees, dat hulle eerlik moet wees, dat hulle nie eie gewin moet najaag nie, dat hulle moet omgee vir die armes en die wese en die vreemdelinge. Hoe het Samuel vir koning Saul gesê? Gehoorsaamheid aan God is beter as offerandes. Dís die boodskap wat die mense nie wil hoor nie, Ma.”

“Maar hulle is tog ook kinders van Abraham, net soos ons.”

“Na die liggaam, ja, maar in hulle harte is hulle kinders van die duiwel. Hulle is net so in opstand teen my Vader as wat Satan is. Hulle sal nie rus voordat elke stem wat hulle herinner dat hulle ’n roeping het om my Vader te eer en te gehoorsaam, doodgewurg is nie.”

Toe kon ek nie langer uitstel om die vrees wat soos ’n band om my hart knel, te opper nie. “En jy dan? Jy vertel tog ook vir die mense wat God se wil is.”

Hy kyk na my, en ek kan my dit seker verbeel, maar ek dink ek sien iets soos vrees in sy oë. Eers sê hy niks nie, asof hy nie seker is hy moet antwoord nie, en dan knik hy. “Hulle sal my ook doodmaak.”

“Maar …” My woorde wil nie kom nie. Watter soort plan het God met hierdie Seun van Hom? “’n Dooie Messias maak nie juis sin nie, jy weet,” probeer ek sy antwoord wegwens, maar sy woorde bly in my kop draai, lank nadat ons gegroet het.

“Dit help nie Ma probeer my van dié gedagte afkry nie, want dit gaan in elk geval niks aan die feit verander nie. Ek het hiervoor gekom. Dit gaan nie maklik wees nie; nie vir my nie, nie vir Ma nie, nie vir my dissipels nie.” Sy stem is skor as hy vervolg: “Ek moet baie ly. Die familiehoofde en priesterhoofde en skrifgeleerdes sal my verwerp en my uiteindelik doodmaak. Maar op die derde dag …”

Ek druk my ore toe. “Asseblief, ek wil niks meer hoor nie! Ek dink nie ek kan dit verduur nie.”

Toe ek begin huil, sit hy sy arm om my. “Toemaar, Ma. My Vader sal Ma nie los nie, al sal Ma soms so dink. Hy het ’n baie sagte plekkie vir Ma.”

“Ek huil nie oor my nie, my kind. Ek huil oor jou. Ek weet nie wat jou Vader se plan is nie, en ek kan dit gladnie verstaan nie, maar my hart breek vir jou.”

image_pdfimage_print

Views: 320

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.