Uit “Maria, die ma van God se Seun”

Die soldaat wat Jesus vashou, steier effens terug, en lê Jesus dan op die grafdoek wat rabbi Nikodemus saamgebring het.

Jesus se oë is nog oop, en sy mond hang ook oop. Ek druk sy oë saggies toe en sy mond ook. Hy lyk nou amper soos ek hom onthou. Sy gesig is kalm asof hy slaap. Ek tel sy kop op en druk dit teen my bors vas. Sy hare ruik nog effens na die nardusolie van Maria. Hoe het hy nou weer gesê? “Sy het my gesalf met die oog op my begrafnis.”

Ek weet nie hoe lank ek so gesit het nie, met Jesus se kop op my skoot. As ek my sin kon kry, sou ek nooit daar opgestaan het nie. Maar die tyd loop meedoënloos aan. Dit wag nie eers vir ’n ma wat ’n laaste paar oomblikke haar eersgeborene se lewelose liggaam in haar arms wil hou nie.

“Ek is jammer, Mevrou, maar ons sal nou moet gaan, anders gaan die sabbat ons vang,” sê Josef van Arimatea sag en vat aan my skouer.

Ek kan maar net knik. Ek is maar net ’n simpel ou vrou wie se kind vandag vermoor is. Ek kan niks sê nie. Dis dood binne-in my. My hart klop nog. Ek haal asem. Ek stap agter die mans aan wat my kind se liggaam graf toe vat. Maar ek is dood van binne.

By die graf lê hulle Jesus se liggaam neer, behandel dit met ’n mengsel van aalwyn en mirre wat rabbi Nikodemus gebring het. Ek vee die bloed van sy gesig af. My hande en die lap is rooi toe ek klaar is. Dis rooi van Jesus se bloed.

Toe draai hulle Jesus in die grafdoeke toe en lê hom in die graf neer.

Ek wil ’n klaaglied vir hom sing; ek wil. Maar ek het nie woorde nie. Toe ek destyds by tannie Elisabet was, het die woorde van lof sommer so vanself by my opgekom, maar vandag wil niks kom nie. Ek sien net die hele tyd sy gesig voor my. Ek sien hom waar hy eenkant, alleen, besig is om te bid en met sy geliefde Vader praat. Ek hoor hom preek met sy sterk stem, so vol gesag. Ek hoor hoe hy lag, uit sy maag uit, daar in die skuit toe Simon soos ’n klip gesink het. Ek sien hom in die stof rol saam met Bartimeus. Ek sien hom op die grond sit terwyl die kindertjies oor hom klim, ’n salige uitdrukking op sy gesig. Ek sien hom met ’n sweep in die hand op die tempelplein, sy gesig wit van woede – Jesus, my vreemde, wonderlike kind, God se Seun én myne.

Uiteindelik hef ek my klaaglied aan:

“Jesus, Seun van God,
Messias, Hoop van Israel,
Lig vir die wêreld, Brood van die lewe,
Bron van lewende water, Herder vir die skape!

“Jy het gesê dít is God se wil,
dis die wil van jou Vader,
en ek moet daarin rus.
Maar hoe kan ek rus as jy van my weggeruk is?

“Die regter het jou onskuldig bevind,
tot drie maal toe het hy dit gesê.
En tog is jy na jou dood gestuur.
Jy is vermoor, verbrysel aan ’n kruis.

“Die gésel het jou lyf stukkend geruk.
Die doringkroon het jou kopvel gebreek.
Hulle het ysterpenne deur jou arms gekap,
jou bene aan die kruis gespyker.
En jy het vir hulle gebid
en seën uitgedeel aan ’n moordenaar wat glo.

“Jesus, Seun van God,
Messias, Hoop van Israel –
hoe kan ek rus as jy weg is?”

Toe rol die manne die swaar ronde klip in ’n groef voor die graf in. Die begrafnis is verby, en ons moet huis kry. Dit is Vrydagmiddag, amper sononder. Die sabbat is op hande.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.