Dit is nogal moeilik om ’n mens in te dink in die situasie van daardie eerste dissipels. Maar kom ons probeer vanoggend. Jesus, is dood. Vir meer as drie jaar lank was Hy hulle rabbi, het Hy hulle geleer en gelei, het hulle gehoor hoe Hy vir die skares preek, gesien hoe Hy wonders doen, en geleidelik het die besef tot hulle deurgedring: Jesus is nie maar net ’n gewone rabbi nie; Hy is die Seun van God! Dit het die dissipels by monde van Petrus in Joh 6:69 uitdruklik bely: … ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.

Maar gaandeweg het hulle nog iets geleer: dat Jesus ’n opdrag het om uit te voer; dat God Hom met ’n baie spesifieke doel na hierdie wêreld gestuur het: om verheerlik te word, om die woorde van Jesus te gebruik. Hy het vir sy dissipels geleer dat Hy moes sterwe, maar dat Hy ook weer sou opstaan; dat Hy ’n klein tydjie van hulle af sou weggaan, maar dan weer na hulle toe sou terugkom (Joh 16:16v).

En nou het dit gebeur soos Hy voorspel het. Jesus is dood. Hulle het Vrydag self gesien hoe Hy sterf, en waarskynlik was hulle by toe Josef van Arimatea en Nikodemus Hom begrawe het. Maar hulle het Jesus se woorde vergeet; hulle het nie verwag dat Hy weer sou opstaan nie. Die Jode wat gevra het dat die graf bewaak moes word, het dit baie beter onthou! Vir die dissipels was Hy dood, het alles tot ’n einde gekom. Markus en Lukas skryf dat Maria-hulle gegaan het om Jesus se liggaam te balsem – iets wat hulle tog nie sou doen as hulle verwag het dat Hy weer sou opstaan uit die dood nie.

En nou is die graf leeg! Moes hulle nie nóú die woorde van Christus onthou het nie? Maar Maria dink dadelik dat iemand die liggaam weggevat het. Sy is hewig ontsteld en hardloop om dit vir die dissipels te gaan vertel. Petrus en Johannes het gaan kyk, en gesien dat dit nie waar kan wees dat iemand Jesus se liggaam geskuif het na ’n ander graf nie – die lykskleed lê dan nog in die graf. Nou skryf die evangelis dat hulle dit gesien het, en geglo het, hoewel hulle nie die betekenis daarvan verstaan het nie. En die vreemde is dat hulle dan weer huis toe gaan. ’n Mens sou tog verwag het dat hulle vir die ander sou vertel dat Jesus opgestaan het. Maar wat hulle betref, het die leë graf geen verskil gemaak nie. Daarom gaan hulle maar weer huis toe. En Maria bly by die graf staan en huil.

’n Mens voel lus om die dissipels aan die skouers te vat en te skud en te sê: Verstaan julle dan nie! Kan julle dan nie sien wat gebeur nie? Julle wat beter as enige iemand anders behoort te besef dat die leë graf net een ding beteken: Jesus leef! Hy het opgestaan! Dit verander mos alles!

Maar wag, voordat ons die dissipels begin verwyt, kom ons kyk liewer na onsself. Ons is tog ook getuies van die leë graf. Maak dit aan ons enige verskil? Laat die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood, dat jy anders dink oor jouself en oor die kerk en die wêreld? Of gaan ons ook maar soos Petrus en Johannes hiervandaan terug huis toe en gaan werk maar weer Dinsdag soos altyd? Tevrede dat ons nog ’n Paasnaweek belewe het, tevrede dat ons opnuut weer gehoor het dat Jesus opgestaan het?

Christus se opstanding is nie maar net iets om van te hoor, en daarmee klaar nie. Sy opstanding het alles verander. Dit sien ons duidelik as ons kyk na wat met Maria gebeur. Sy sien die leë graf en die engele, maar dit beteken vir haar niks nie. Dit verander nie haar lewe nie. MAAR: toe sy die Here Jesus self ontmoet, kom daar ’n lied in haar hart, kom sy in beweging, keer sy met ’n boodskap op haar lippe terug na die dissipels.

En wat is hierdie boodskap? Dat God se plan met die wêreld op ’n nuwe manier voortgaan! Jesus gaan sy plek as Koning van die ganse skepping in die hemel inneem. Daarom sê Jesus vir Maria: Moet My nie vashou nie … Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is. God se geskiedenis gaan voort, Jesus is op pad na sy troon in die hemel, en ons is deel daarvan, want Jesus se Vader is nou ook óns Vader! Ons het familie geword. Ons hele bestaan het verander. Ons status in die wêreld het verander. Ons is broers en susters van Koning Jesus. Ons is seuns en dogters van God die Vader.

Hoekom is ons dan so traag? Hoekom sit ons by die huis rond, by die werk rond, sonder ’n boodskap op ons lippe? Hoe kry ons dit reg om stil te bly oor die wonder dat Jesus Koning is? Is dit dalk omdat ons nie verstaan dat Jesus nie net óns Here is nie, maar Koning van die ganse heelal? En dat ons soos Maria daar by die graftuin tevrede is dat óns by Jesus uitgekom het?

So hier is twee sake wat ons goed moet verstaan:
∙ Jesus se opstanding het nie by die leë graf geëindig nie. Nee, Hy vaar op om sy koningsheerskappy vanuit die hemel verder te volvoer, want God se plan met Jesus strek veel verder as net die paartjies daar in Jerusalem. Kol 1:18 sê: Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

∙ Verder: Jesus se opstanding maak ons familie. God is ons Vader, en ons is broers en susters van mekaar. Daarom moes Maria by die ander uitkom. Sy kon nie op haar eie in verwondering by Jesus bly nie.
Ons behoort aan mekaar, liewe gemeente. Ons is vir mekaar gegee. Jesus het tog gebid dat ons een sal wees, soos Hy en die Vader een is (Joh 17:21-22). Ons moet vir mekaar uitkyk. Daarom skrei dit ten hemele dat gelowiges mekaar beskinder en uitkryt en benadeel en verdag maak. Dis nie hoe familie met mekaar maak nie.

’n Mens wat die opgestane Here ontmoet het, dink nuut oor jouself voor die Here en in sy wêreld, en leef nuut met ander kinders van die Here.

Dit is Paasfees. Jesus leef! Halleluja!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.