Van ons Ou Testament redaksie

JERIGO. – Die Palmstad is vandag weer in Israelitiese besit nadat die Moabitiese koning en tien duisend van sy elite-soldate in ’n bloedige opstand gedood is. Dit beëindig ’n besetting van agtien jaar. Koning Eglon het destyds met die hulp van die Ammoniete en Amalekiete die Israeliete verslaan en Jerigo verower.

Die held van die opstand is ’n beskeie Benjaminiet Ehud, seun van Gera. Aangesien hy linkshandig is, het hy nie gekwalifiseer vir militêre diens nie, en is hy gebruik om jaarliks die belasting van die Israeliete na koning Eglon te bring.

Hierdie jaar het Ehud besluit om eiehandig iets aan die Moabitiese besetting te doen. Hy het vir hom ’n halfmeter lange swaard gemaak en dit onder sy klere aan sy regtersy vasgemaak, waar geen Moabitiese soldaat sou soek nie. Nadat hy die belasting oorhandig het, het hy sy lyfwag teruggestuur. Self het hy egter koning Eglon gaan spreek om “’n geheime boodskap” vir hom te gee.

Die lywige koning het al sy amptenare uit die bovertrek uitgestuur. Daarop het Ehud sy “boodskap van God” afgelewer: toe Eglon nuuskierig opstaan van sy troon om die geheim te hoor, het Ehud sy swaard met sy linkerhand uitgepluk en die koning in sy maag gesteek. Toe het hy deur ’n geheime uitgang ontvlug nadat hy die deur toegetrek en gesluit het.

Die Moabitiese amptenare het aanvanklik geen onraad vermoed nie. Hulle het gedink die koning is in die toilet. Toe hy egter na ’n geruime tyd nog steeds nie die deur oopmaak nie, het hulle bekommerd geraak en ’n sleutel gaan haal om die deur oop te sluit. Die koning was toe reeds dood.

Teen hierdie tyd was Ehud lankal weg. Hy het op die ramshoring geblaas en die volk opgeroep vir die stryd. Die Israelitiese magte het die vlugtende Moabitiese soldate by die Jordaandriwwe voorgelê en die hele besettingsmag uitgewis.

Die argitek van die oorwinning is beskeie oor sy heldedaad. “Ek het besef dat niemand sal verwag dat ek, wat links is, ’n wapen sal kan hanteer nie. Dit het my ’n kans gegee om naby die koning te kom,” het hy gesê.

 

“Operasie Skoonmaak” brei uit na Damaskus

Van ons Nuwe Testament redaksie

DAMASKUS. – Die Joodse Raad in Jerusalem het besluit om die vervolging van lede van die Joodse sekte wat hulleself “Volgelinge van Jesus” noem, na Damaskus uit te brei. ’n Briljante rabbi, ene Saul van Tarsus, het volgens berigte opdrag gekry om die aksie hier te kom koördineer. Hy word eersdaags in die stad verwag.

Plaaslike lede van die sekte het met ontsteltenis en verontwaardiging gereageer op hierdie berigte uit Jerusalem. Volgens hulle is Saul ’n fanatikus wat chaos onder hulle geloofsgenote in Jerusalem gesaai het. Sektelede wat vanweë die vervolging uit Jerusalem gevlug het, het vertel dat Saul “soos ’n besetene” te kere gegaan het. “As hy nou hierheen kom, is dit nag vir ons,” het ’n ontstelde man gesug.

Intussen het ook ander inwoners van Damaskus hulle ontevredenheid met die Joodse Raad uitgespreek. ’n Nuwe beweging, “Damaskus vir Godsdiensvryheid” (afgekort DVGV-beweging) is selfs op die been gebring wat hom gaan beywer vir godsdiensvryheid in die stad. By ’n perskonferensie gistermiddag, waar die nuwe DVGV-beweging bekend gestel is, het ’n segsman die plan van die Joodse Raad as “tipiese Joodse arrogansie” bestempel. “Ons is trots op ons stad en op die inwoners se respek en verdraagsaamheid teenoor mense met geloofsoortuigings wat van hulle s’n verskil. Wie dink die Joodse Raad miskien is hulle? Ons het beslis nie Jode wat hulle gewig kom rondgooi hier nodig nie,” het hy gesê.

 


God kan!

God kies soms vreemde werktuie vir sy diens. Ehud, die linkshandige, is deur sy tydgenote as ongeskik vir groot dinge afgeskryf. En tog was hy die een vir wie God gekies het om sy volk se verlossing te bewerk.

Paulus was selfs ’n nóg onwaarskynliker kandidaat om die evangelieboodskap die wêreld in te dra. Was dit dan nie juis hy wat die Christendom met wortel en tak wou uitroei nie? G’n wonder nie dat Ananias bra onwillig was om na hom te gaan. En tog word hy die grootste sendeling ooit. Sonder sy briewe sou die Nuwe Testament ’n derde dunner, en véél armer, gewees het.

Hoekom waag God – en wen! – met sulke mense? Omdat Hy hulle potensiaal raakgesien het, terwyl ons dit mis kyk? Seker dit ook. Maar die geheim van die groot Godsmanne se sukses lê nie in hulleself nie. Die geheim lê in die wonder dat God mense kan verander, en lê daarin dat hierdie mense tot sy beskikking was om gebruik te word.

Dink jy jy is ook ’n onwaarskynlike kandidaat? Nie in God se hand nie!

image_pdfimage_print

Views: 19

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.