Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal, skryf Paulus in 1 Tes 5:16. 

Ek wens die Bybel het vir ons meer inligting gegee oor dié wonderlike dag wat sal aanbreek. Ons weet so min, en tog het die Here geoordeel dat dit genoeg is vir ons om met hoop te kan lewe totdat Hy kom. Ons kan wel weet dat wat op ons wag, ons stoutste verwagtings verreweg sal oortref. Paulus skryf hieroor: Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

So wat weet ons eintlik?

 

Dubbelsinnige voorspelling

In Jesus se profetiese rede is daar aan die een kant voorspellings van groot verdrukking en ’n waarskuwing dat die gelowiges dan berge toe moet vlug (Matt 24:19 e.v.), en aan die ander kant is daar die voorspelling van die onverwagsheid, waar dit lyk na ’n “normale” samelewing (Matt 24:36 e.v.). Waarskynlik het die voorspelling oor die verdrukking eerder verwys na die val van Jerusalem in 70 n.C., toe die stad met die grond gelyk gemaak is en die gelowiges inderdaad moes vlug, en nie soseer na die laaste dae nie.

Wat Jesus wel sê, is dat ons ons nie moet laat mislei of op hol laat jaag met allerhande vals bewerings nie. Niemand weet wanneer Hy weer gaan kom nie, selfs nie eers Hyself nie (Matt 24:36). Daar is wel sekere “tekens” wat vir ons herinner dat Hy op pad is – oorloë en opstande, aardbewings, hongersnode en epidemies en ontwrigting van die natuur (Luk 21:9-11, 25-26), toenemende afvalligheid en die verskyning van die Antichris (2 Tess 2:3-4). As Hy egter kom, sal jy weet dis Hy, jy sal nie nog daaroor hoef te wonder nie (Matt 24:27).

 

Wat kan jy verwag sal gebeur?

Wat sal op daardie dag gebeur? Volgens Matt 24:29-31; 25:31 e.v.; 1 Tess 4:15 e.v. en Openb 21 kan ons die volgende verwag:

  • Een of ander soort trompetgeskal sal die wederkoms aankondig;
  • Jesus gaan op die wolke van die hemel kom, en saam met Hom ’n skare engele;
  • die gelowiges wat reeds dood is, sal uit die dood opstaan om die wederkoms te beleef;
  • gelowiges wat nog leef, sal in die lug die Here tegemoetgaan;
  • die Here Jesus sal dan die laaste oordeel op aarde voltrek;
  • elke knie sal voor Hom buig en moet erken dat Hy die Here is;
  • die goddeloses sal saam met die duiwel en sy engele verdoem word;
  • alle kwaad, stukkendheid en hartseer sal daarmee verby wees;
  • die aarde gaan nuutgemaak word; en
  • God gaan op aarde by sy kinders woon – waarlik hemel op aarde.

 

Wat doen ons intussen?

Jou taak as gelowige is nie om die wolke te sit en dophou, of te probeer uitwerk wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Jou taak is om gereed te wees, sodat, wanneer die Here weer kom, jy Hom kan ontmoet. Dit doen jy deur in ’n lewende verhouding met Christus te leef en vir ander die liefde van die Here uit te leef.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.