Van ons Nuwe Testament redaksie
SESAREA. – ’n Kaptein van die Italiese regiment wat hier gestasioneer is, Kornelius, het vriend en vyand verras toe hy en sy hele huis besluit het om by die omstrede Joodse sekte “Volgelinge van Jesus” aan te sluit.
Wat die hele saak nog meer verbasend maak, is dat die leier van die sekte, Simon bar Jona, ook bekend as Petrus, persoonlik al die pad van Joppe af na Kornelius se huis gekom het om hom en sy mense by die groep in te lyf. Hulle is gister almal in die naam van Jesus gedoop.
Kornelius is ’n beminde figuur in die stad en hoog in aansien by die Joodse gemeenskap. Hy doen baie om die armes onder die Joodse volk te help, en hy word allerweë as ’n godsdienstige mens beskou. Plaaslike Joodse godsdiensleiers het egter hulle verontwaardiging en afsku uitgespreek oor die feit dat Simon by ’n onrein nie-Jood se huis ingegaan het en selfs saam met hom geëet het. “Ons het niks teen die man nie; inteendeel, ons het die hoogste agting vir die goeie werk wat hy hier doen. Maar hy is nou eenmaal nie ’n Jood nie, en daarom durf geen godsdienstige Jood by sy huis ingaan nie. Dit is soos ons wet sê, en niks wat ek of jy dink, kan dit verander nie,” het rabbi Joël van die plaaslike sinagoge gesê. Hy het voorspel dat die optrede van Simon nog ernstige gevolge vir die sekte self sal hê. “Ons het nog lank nie die einde van hierdie storie gehoor nie. Geen Jood met selfrespek sal dit nou oorweeg om by hierdie mense aan te sluit nie.”
Simon gaan na verwagting nog ’n paar dae by die Romeinse kaptein oorbly voordat hy na Jerusalem terugkeer. Of rabbi Joël reg is met sy voorspelling van ’n krisis in die sekte, sal net die tyd kan leer.
- Lees hiervan in Hand. 10:1-11:18.
Weggeloopte slaaf keer terug na baas; vrygestel
KOLOSSE. – ’n Bekende handelaar van die stad het gister die ongewone ding gedoen om ’n slaaf wat hom net ellende besorg het, sonder enige vergoeding vry te stel.
Die handelaar Filemon en sy vrou, Affia, het gisteroggend afskeid van hulle eertydse slaaf Onesimus geneem. Hy het na Rome vertrek om ’n ou vriend van die familie, die evangelis-sendeling Paulus van Tarsus, by te staan.
Onesimus, ’n deugniet volgens sy eie erkenning, het etlike maande gelede spoorloos verdwyn, en het verlede week net so onverwags weer sy opwagting gemaak by die huis van Filemon. Hy het ’n brief by hom gehad waarin Paulus Filemon versoek om Onesimus as slaaf terug te neem, aangesien hy onder sy arbeid tot bekering gekom het en nou ’n volgeling van Jesus Christus is. Filemon, ’n bekende in kerklike kringe hier, het self ook sy bekering aan Paulus se arbeid te danke.
Klaarblyklik moes die brief heelwat gewig gedra het. Filemon het Onesimus onvoorwaardelik teruggeneem, en gister, ’n week later, het hy hom vrygestel. Op die afskeidsdinee het Filemon gesê hy glo Paulus het Onesimus nodiger as wat hy wat Filemon is, die slaaf het. “Buitendien, ek het in die afgelope paar maande geleer om sonder hom klaar te kom,” het hy met ’n knipoog bygevoeg.
Die gelukkige oudslaaf wou nie veel oor sy toekoms uitwei nie. Hy gaan hom so gou moontlik by sy geestelike vader Paulus in Rome aansluit. “Wat verder op my pad lê, is in die Here se hand. Maar ek hoop ek kan nog eendag terugkom na my eertydse meester. Ek dink ek skuld dit vir hom,” het hy gesê.
- Lees hiervan in die brief aan Filemon.
PERSOONLIK
Die rabbi Jesus van Nasaret het sy reis na Galilea onderbreek. Hy beplan om vir twee dae in die Samaritaanse dorp Sigar oor te bly. Hy word vergesel van sy dissipels.
- Lees hiervan in Joh. 4.
Een in Christus
Deel van die grootsheid van God se wonderlike skeppingswerk is die ryke verskeidenheid wat God daargestel het. Hy maak nie net mense nie; Hy maak ons man en vrou. Hy maak mense nie net wit nie; Hy maak hulle ook bruin en geel en swart. Hy maak mense verskillend: party kunstig, ander handvaardig, ander vlug van verstand, ander goed in sport, en noem maar op.
Die tragedie is dat die sonde hierdie verskille tot geskille laat ontaard: die man onderwerp die vrou, ryk onderdruk arm, een volk veg teen die ander (lees gerus in Gen. 3-11 hiervan).
Goddank! As Christus op Golgota sterf, sterf Hy ook vir hiérdie sonde: die sonde wat mense teenoor mekaar opstel. Hy herstel die vrou se posisie – daarom dat Hy so baie aandag aan vrouens gee. Hy bind mense weer aan mekaar vas oor alle grense heen, sodat Paulus skryf (Gal. 3;28): “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”