Dat geen haar van jou kop sal val nie, was blykbaar ’n bekende idioom in Bybelse tye om te sê ’n persoon sal niks oorkom nie. Ons lees dit o.a. in 1 Sam 14:45, 2 Sam 14:11, 1 Kon 1:52, Luk 21:18 en Hand 27:34. Die Here Jesus verander hierdie bekende idioom egter deur te sê dat selfs die hare op ons kop almal getel is (Luk 12:7).

Vanoggend toe ek my hare was, het ’n hele paar hare in die bad agtergebly. Toe dink ek weer aan dié uitspraak van Jesus, en ek wonder wie nou eintlik die telwerk op my kop doen. God die Vader? Het Hy gestaan en kyk hoe die hare uitval? Of gebruik Hy engele om Hom daaroor in te lig? “Jaco Thom het vanoggend nog vyf hare verloor,” doen ’n engel (my persoonlike engel?) sy daaglikse verslag. “Sy hare word nou min.”

 

Meer as wat ons kan verstaan

Ek weet dis sommer lawwigheid om só oor die saak te dink; amper soos die teoloë in die skolastieke tyd (kort voor die Reformasie) wat debat gevoer het oor hoeveel engele gelyk op die punt van ’n naald kan dans. God is alomteenwoordig en alwetend, bely ons mos, en Hy bestuur en regeer die wêreld só dat niks sonder sy beskikking gebeur nie. Verder bely ons in Art. 13 van die Nederlandse Geloofbelydenis (NGB): “Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na die dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is.”

Toe ek oor hierdie dinge begin wonder het, het ek net weer besef dat daar baie meer oor God is as wat ons kan verstaan. Hy is die Gans Andere, soos Karl Barth sê. En, herinner die NGB my, ek moenie antwoorde probeer kry wat God in sy wysheid van ons weerhou het nie. Ek hoef nie te weet wie my hare tel nie, of hoe God dit weet nie. Ek hoef net te weet God is my Vader, en Hy weet selfs die onbeduidendste detail van my lewe, soos Hy ook nie een mossie vergeet nie. En, verseker Jesus ons, ons hoef nie bang te wees nie, want ons is meer werd as baie mossies.

 

Verwondering

Prof Willie Jonker het gesê ons kennis oor God kan met ’n sny koek vergelyk word. Die sny is nie die hele koek nie. Dit is net ’n klein deeltjie daarvan. Tog kan jy uit die klein stukkie weet hoe die hele koek is; of dit mooi gerys het of platgeval het en toe met versiersel toegesmeer is. Die sny loop immers tot in die hart van die koek. So, sê hy, is ons kennis oor God wel net ’n klein deeltjie van Wie Hy is, maar dit is ’n betroubare deeltjie waaruit ons kan weet hoe God is. God is baie meer as wat ons weet, maar Hy is nie anders as dit wat ons weet nie. Die bietjie wat Hy in die Bybel aan ons geopenbaar het, is betroubaar en eg en genoeg.

Hoe meer ek oor God wonder, en oor hoe Hy oor die ganse skepping en ons elkeen afsonderlik waak, hoe groter groei die verwondering in my. Ons aanbid en dien ’n ongelooflike, wonderlike, verbysterende Here!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.