Van ons Ou Testament redaksie
GILGAL. – Genl. Josua ben Nun, die leier van die Israelitiese magte, het verlede week met verrassingstaktiek daarin geslaag om die elitetroepe van die sterk Amoritiese vestingstede van die Bergland van Kanaän te verslaan en feitlik geheel en al uit te wis. Daarbenewens het hy ook die vyf konings van die Bergland-bondgenootskap gevang en later gedood.
Die veldslag het plaasgevind toe Josua sy enigste bondgenoot, Gibeon, te hulp gesnel het. Die Gibeoniete is verlede week deur die gesamentlike magte van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon aangeval as strafmaatreël omdat hulle met die Israeliete ’n verdrag gesluit het. Dié vergeldingsplan het egter lelik skeefgeloop toe die Gibeoniete Israel om hulp gevra het.
Josua het deur die nag van Gilgal af opgeruk en die Amoriete totaal onkant gevang. Paniek het uitgebreek sodat die Amoriete in alle rigtings gevlug het. ’n Frats-haelstorm het boonop die voortvlugtende soldate oorval en talle gedood.
“Dit was die langste dag van my lewe,” het een van die min gelukkige Amoritiese soldate wat die slagting oorleef het, vertel. “Dit het kompleet gevoel of die son net daar bo in die lug gaan staan het. Ons het gehoop die nag se donker sal ons laat wegkom, maar die nag wou nie kom nie. Al wat gekom het, was daardie vreeslike Israeliete!”
Die vyf konings – Adoni-Sedek van Jerusalem, Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon – het saam gevlug en in ’n grot in Makkeda gaan wegkruip, maar die Israeliete het hulle daar gekry. Hulle het die grot verseël en bewaak totdat die agtervolging verby is. Toe het Josua hulle laat haal en al vyf opgehang.
Toe Die Bybelkoerant genl. Josua met sy oorwinning gelukgewens het, het hy sy kop geskud en gesê: “Dis nie my oorwinning nie. Die God van Israel het hier getriomfeer.”
- Lees van hierdie merkwaardige veldslag in Jos. 10:1-27.
Herodes slaan toe op sekte; leier tereggestel
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Koning Herodes Agrippa het besluit om die Joodse Raad se hand te sterk deur self in te gryp in die onverkwiklike godsdiensstryd wat al enkele jare voortduur.
In Operasie Handvat konsentreer Herodes se polisie veral op die leiers van die sekte “Volgelinge van Jesus”. Talle mense is al in hegtenis geneem en gemartel, waaronder Jakobus seun van Sebedeus.
In ’n persvrystelling gistermiddag het die koning se sekretaris vir polisie bekend gemaak dat Jakobus eergister met die swaard tereggestel is. Hy was ’n sogenaamde apostel van die sekte, en hy is saam met sy broer Johannes en Simon bar Jona beskou as die groot leiers van die sekte in Jerusalem.
In sy reaksie het die hoëpriester Kajafas sy tevredenheid met die verloop van Operasie Handvat uitgespreek. “Ons is baie dankbaar dat ons koning ons met hierdie netelige kwessie help. Ons veg al vir jare om ons geloof suiwer te handhaaf volgens die oorgelewerde voorskrifte van ons voorvaders, maar ons het eenvoudig net nie die politieke mag om dit af te dwing nie. Hopelik sal ons nou, met koning Herodes se toetrede, die stryd kan wen.” Met verwysing na die dood van Jakobus het hy gesê dat die Joodse Raad besonder beïndruk is met die ferm manier waarop die koning optree, en bygevoeg: “Natuurlik betreur ons die dood van ’n volksgenoot. Soms moet ’n mens egter hard slaan om die gewenste uitwerking te kry. Ek hoop sy dood bring die afvalliges tot besinning.”
Intussen het ons verneem dat koning Herodes vanoggend ’n lasbrief uitgereik het vir die inhegtenisneming van Simon bar Jona, ook bekend as Petrus onder die sektelede.
- Lees hiervan, en veral van Petrus se wonderlike ontsnapping uit die tronk, in Hand. 12:1-19.

Die krag van gebed
“Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking,” skryf Jakobus (Jak. 5:16). Want in gebed praat ons immers met dié God wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (vgl. Ef. 3:20).
En hoe verras Hy ons nie male sonder tal met sy verstommende antwoorde op ons gebede nie! As Josua bid dat die son en maan moet staan, sodat hulle langer tyd het om met hulle agtervolging aan te gaan, gebeur dit. As die gemeente in Jerusalem aanhoudend vir Petrus in die tronk bid, bevry God hom. Terwyl hulle nog bid, staan Petrus al voor die deur.
Kostelik teken Hand. 12:12-17 vir ons die ongelowige reaksie van die gelowiges. Want die Bybel wil hê dat ons in dié stukkie humor ons eie ongeloof sal herken: so gou om na God te vlug met ons probleme, sonder om werklik te verwag dat Hy ons gebede sal verhoor.
Jy kán maar met verwagting bid. God hoor!
Views: 19