Uit my boek “Jesus”. Die verteller is Nikodemus, Jy kan dit bestel by Yeshua – Voelgoedwinkel

Ons eet in stilte, oorweldig deur die grootsheid van die oomblik. Af en toe kyk een op na Jesus, skud sy kop in ongeloof en eet dan weer verder. Net Simon bly afkyk.

Toe ons klaar geëet het, vra Jesus vir Simon: “Simon, ek het iets wat ek jou wil vra.”

My moed sak. Hier kom dit nou, die oomblik waarvoor Simon gevrees het. Ek het hom probeer moed inpraat en gesê Jesus sal hom nog ’n kans gee, maar ek weet skielik nie so mooi nie. Die strak gesig en gespanne klank in Jesus se stem voorspel niks goeds nie. Ek sien sommer aan sy lyftaal dat Simon dit ook weet. Sy skouers hang soos iemand wat klaar boedel oorgegee het. Hy knik. “Ek het hiervoor gewag, ja Rabbi,” prewel hy kop onderstebo.

“Simon seun van Johannes.”

“Ja, Rabbi?” Gelate, berustend, verslae sit hy daar, soos ek seker ook sou gesit het as ek geweet het ek gaan weggewys word.

“Het jy my baie lief, meer as hulle hier?”

Jesus se vraag verras Simon – trouens, ons almal – en sy kop ruk op. “Rabbi?” Dan laat sak hy weer sy oë, en sy antwoord is sag: “Ja, Rabbi, u weet dat ek u liefhet.”

“Laat my lammers wei.”

My kop draai. Sou dit – kan dit – beteken dat Jesus vir hom nog ’n kans gee? Kan dit wees?

Weer vra Jesus: “Simon seun van Johannes, het jy my baie lief?”

Simon sit steeds kop onderstebo. “Ja, Rabbi, u weet dat ek u liefhet.”

“Pas my skape op.”

Ek voel hoe my hart soos ’n voorhamer in my bors tekere gaan. Hier is iets voor my aan die gebeur, iets groots. Jesus is besig om met Simon ’n pad te loop. Ek verstaan dit nie heeltemal nie, maar ek verstaan genoeg om te weet dat Jesus besig is om vir Simon te laat verstaan dat hy nog nie klaar is met hom nie.

“Simon seun van Johannes,” vra Jesus ’n derde keer, “het jy my lief?”

Toe kan Simon nie langer afkyk nie. Hy kruip op sy knieë na Jesus toe. Ek sien hoe die trane oor sy wange stroom toe hy opkyk in Jesus se sagte oë. Sy antwoord kom hortend deur sy snikke: “Rabbi, u weet alles. U weet dat ek u liefhet.” En toe begryp ek skielik wat hier aan die gebeur is: drie maal het Simon sy rabbi verloën voor ander, en nou vra Jesus hom om drie maal voor ander openlik te erken dat hy hom liefhet. Dis of Jesus hom daarmee die kans gee om reg te maak wat hy verbrou het, hom kans gee om weer sy kop te kan oplig. Dis of Jesus hom in sy posisie tussen die ander dissipels herstel.

Jesus maak sy arms oop en slaan hulle om Simon se rukkende skouers. “Simon, Simon, laat my skape wei. Amen, amen, toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

Vir die eerste keer glimlag Simon. “Vir u, Rabbi, vir u sal ek enige iets doen. Dit sal vir my ’n voorreg wees.”

image_pdfimage_print

Views: 54

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.