Kom ons probeer ons indink in die situasie van die dissipels in ons gelese gedeelte. ’n Paar dae gelede (nie meer as twee weke nie, skat ek) het hulle die mees dramatiese tyd van hulle lewe beleef. Hulle rabbi Jesus is gevang en gekruisig. Hulle was verpletter, want hulle het gedink alles is verby. En toe, op die derde dag, is sy graf leeg. Hulle hoor stories dat Hy uit die dood opgestaan het maar het nie geweet wat om daarvan te sê nie. Dit was immers vrouens wat dié stories vertel het, en almal weet ’n mens kan jou nie aan vroumensstories steur nie.

Julle reageer dalk nou verontwaardig, maar dis hoe die mense destyds gedink het. Gelukkig dink ons nie meer so nie.

In elk geval, hulle was verward. En toe, uit die bloute, verskyn Jesus Self daardie selfde aand nog aan hulle waar hulle agter slot en grendel weggekruip het vir die Jode. En Hy praat met hulle en Hy seën hulle. En ’n week later gebeur dit weer. Dié keer het Jesus selfs sy wonde vir Tomas gewys sodat hy ook kan glo.

Maar dit was al. Twee keer het hulle Jesus gesien, en dis dit. Wat moes hulle van alles maak? Hoe moes hulle oor alles dink? Oor Jesus? Was dit régtig Hy? Het hulle hulle nie dalk maar verbeel nie? En ás dit Hy was, regtig Hy, wat beteken dit vir die pad vorentoe? Waar ís Hy? Hy het vir die vrouens gesê hulle moet vooruit na Galilea toe gaan, want Hy sal hulle daar ontmoet. Maar dit was ook al twee weke gelede. Intussen het niks gebeur nie, en julle weet mos hoe werk ’n mens se kop. Later begin jou kop jou allerhande nonsens wysmaak.

So besluit Petrus hy gaan liewer visvang. Hy het dit vir meer as drie jaar nie gedoen nie, maar dis seker tyd om sy ou lewe weer op te vat.

Dis waar die dissipels daardie dag was: verward, onseker oor die toekoms, onseker oor Jesus, onseker oor wat hulle moet doen.

Hoe help Jesus hulle? Hy kon seker ’n engel gestuur het om ’n paar opdragte vir hulle te gee. Of Hy kon net vinnig weer aan hulle verskyn het, soos Hy aan die vroue daar by die graf verskyn het. Maar Hy weet dís nie wat hulle op daardie stadium nodig gehad het nie. Hy het geweet hulle het Hóm nodig. Hulle het sy teenwoordigheid nodig. Hulle het tyd saam met Hom nodig. Hulle het nodig om sy stem te hoor, Hom te beleef, sodat hulle oortuig kan word dat Hy regtig opgestaan het, en sodat hulle kan weet wat om te doen.

Maar veral het Petrus dit nodig gehad. Hy was immers die een wat ontken het dat hy Jesus se volgeling is, die aand van die verhoor. Petrus was die verwardste van almal, want hy het nie geweet waar hy met Jesus staan nie.

Daarom kom Jesus daardie oggend Self na die dissipels toe; verskyn Hy nie net vir ’n rukkie nie, maar kom Hy om tyd met hulle te spandeer. Lukas vertel vir ons (Hand 1:3): Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook gtetoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. Dís wat hier gebeur. Jesus kom saam met hulle eet, om die afstand tussen hulle te oorbrug en hulle onsekerheid weg te vat. Hy kom met hulle gesels oor die dinge van die koninkryk van God, sodat hulle kan verstaan hoe die pad vir hulle vorentoe sal wees. En veral kom Hy om vir Petrus te help om weer met waardigheid sy plek in die dissipelkring in te neem, toe Hy hom as ’t ware dwing om drie maal voor almal hardop te sê dat hy Jesus liefhet.

Ek dink ons moet dit goed raaksien: die dissipels het nie vanself verander van die verwarde, patetiese groepie mense na die vurige volgelinge wat onverskrokke vir Jesus opgestaan en geleef het nie. Goed, die Heilige Gees is op Pinksterdag uitgestort om hulle met krag van Bo te vul. Maar voor dit gebeur het, het Jesus tyd in hulle belê.

Dalk moet ons dit vanoggend weer ’n keer hoor: Jy gaan nie ’n vurige volgeling van Jesus word as jy nie tyd maak om in sy teenwoordigheid te wees nie; as jy nie tyd maak dat Hy met jou besig kan wees nie; as jy nie toelaat dat Hy jou verander soos Hy daardie dissipels van Hom verander het nie. Jy gaan nie opgewasse wees vir jou roeping in die wêreld as jy nie toegerus en versterk word deur die Here en sy Gees nie.

Ek dink nou sommer aan Moses. Onthou julle, toe die Israeliete in die woestyn was, en Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het, hoe sy gesig begin blink het? (Julle kan dit in Eks 34:28-34 lees.) Die glans van God se heerlikheid het op hom afgegee; dís wat gebeur het. Jy kan nie in God se teenwoordigheid kom en onveranderd of ongeraak bly nie.

Jesus het dit geweet. Daarom het Hy tyd gemaak om by sy dissipels te wees, sodat iets van sy heerlikheid op hulle kon afgee; sodat hulle verbintenis aan Hom versterk kon word; sodat hulle die mense kon word wat hulle moes wees.

Dis natuurlik nie net van ons verhouding met Jesus waar nie. Dis ook waar van ons verhouding met mekaar. Daar gebeur dinge in ons saam-wees – by die huis (kyk na die videotjie — Ek hoop julle etes lyk nie soos die klomp op die video nie.) en by die kerk. As ons nie tyd maak vir mekaar by die huis nie, gaan ons gesinne uitmekaar val. En as ons nie in mekaar belê by die kerk nie, gaan ons nooit goeie koinonia hier hê nie. Dís waar die wyksbyeenkomste so ’n belangrike rol speel, want dit is waar ons gereeld tyd maak om in God se teenwoordigheid met mekaar te kuier. Daarom drink ons ná die erediens saam tee en kuier so ’n bietjie.

Daar is twee kante aan ons geloofslewe: ons verhouding met God en ons navolg van Jesus, en ons verhouding met mekaar. Kom ons belê in hierdie verhoudings, soos Jesus gedoen het. Dit gaan ons lewe en ons wêreld verander!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.