Van ons Ou Testament redaksie
SELA (BENJAMIN). – Koning Dawid het opdrag gegee dat die stoflike oorskot van sy voorganger, Saul seun van Kis, uit Jabes in Gilead gebring moet word sodat dit in die familiegraf van Kis hier herbegrawe kan word.
Saam met koning Saul se oorskot sal ook die oorskot van sy seun Jonatan begrawe word, sowel as dié van die sewe nakomelinge van Saul wat vroeër deur die Gibeoniete by Gibea opgehang is.
Koning Saul en sy seuns het destyds in die Slag van Gilboaberg gesneuwel, waarop die Filistyne sy lyk teen die muur van Bet-San vasgespyker het. Die mense van Jabes in Gilead het met heldemoed opgeruk en sy liggaam en dié van sy drie seuns gaan haal. Hulle het dit na Jabes toe gebring en daar verbrand, waarna hulle die bene begrawe het.
Die aanleiding tot die herbegrafnis was die teregstelling van sewe nakomelinge van Saul. Koning Dawid het enkele weke gelede hierdie sewe – twee seuns en vyf kleinseuns van Saul – aan die Gibeoniete oorhandig om tereggestel te word as bloedwraak, omdat Saul tydens sy bewind talle van die Gibeoniete laat doodmaak het. Die massamoord op die priesters van Nob – van wie die meeste Gibeoniete was – was veral ’n bitter pil.
Saul se byvrou en moeder van twee van die slagoffers, Rispa dogter van Aja, het dag en nag by die lyke gewaak om die liggame teen die roofvoëls en roofdiere te beskerm so lank as wat dit op die berg gehang het. Die berig hieroor het koning Dawid so ontroer dat hy opdrag gegee het dat die sewe liggame, tesame met die beendere van Saul en Jonatan, in Sela in die familiegraf begrawe moet word.
- Lees hiervan in 2 Sam. 21:1-14. Kyk ook weer na 1 Sam. 22:6-23 en 1 Sam. 31.
Dinamiese jong groep het oog op die wêreld
Van ons Nuwe Testament redaksie
ANTIOGIË. – ’n Godsdienstige groep wat uit die Jodedom ontstaan het, maar intussen ’n volledig selfstandige beweging geword het, het homself oor die afgelope paar jaar met mening hier gevestig.
Hulle noem hulleself “Navolgers van Jesus Christus” of “gelowiges”, maar onder inwoners van die stad staan hulle kortweg as “Christene” bekend, omdat hulle so baie van hulle geestelike leier Jesus Christus praat. Daar is ook Antiogiërs wat hulle “Chrestene” (goedhartiges) noem, omdat hulle deur hulle liefde onder mekaar en teenoor mense in nood die agting van die hele stad afgedwing het.
Anders as hulle geestelike moeder, die Jodedom, is die Christene nie ’n eksklusief-Joodse godsdiens nie. Die enigste vereiste wat hulle stel vir iemand wat by hulle wil aansluit, is dat hy opreg sal glo dat hulle leier, Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld is.
Hierdie boodskap wil hulle graag met die hele wye wêreld deel, en daarom het die Christene van Antiochië verlede Sondag twee van hulle leiers, Barnabas en Saulus, afgesonder en uitgestuur op ’n sendingreis na Klein-Asië, om ook daar die goeie boodskap te bring dat Jesus die Verlosser is.
Hulle eerste bestemming is Salamis op die eiland Siprus.
- Lees hiervan in Hand. 11:19-30 en 13:1-3.
Die derde gebod
Die misbruik van die Naam van die Here (die Derde Gebod, Eks. 20:7) het vele implikasies. Onder andere beteken dit dat ’n mens nie die Here se Naam ligtelik op jou lippe neem nie. ’n Eed wat voor die Here afgelê word (soos die verdrag met die Gibeoniete inderdaad gestuit is volgens Jos. 9:19) is daarom heilig en onaantasbaar. Hieraan het Saul hom weinig gesteur, met tragiese gevolge vir hom én sy nageslag, soos 2 Sam. 21 maar te duidelik vertel.
’n Ander, en dalk minder bekende, implikasie van die Derde Gebod hang saam met die feit dat ons onsself “Christene” noem. Dit beteken dat ons die Naam van ons Here Jesus in ons handel en wandel indra. In die Heidelbergse Kategismus word die vraag juis gevra: “Waarom word jy ’n Christen genoem?” (vraag 32). En die antwoord is nogal stof tot nadenke: “Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.”
Sedert die gelowiges in Antiogië die eerste keer Christene genoem is, het dit wêreldwyd die gebruik geword om mense wat aan die kerk behoort, só te noem. Jy noem jouself waarskynlik ook met dankbaarheid en trots ’n Christen. Miskien is dit goed om vandag daaraan herinner te word dat ons deur die manier waarop ons lewe, aan dié Een wie se Naam ons dra, eer – of ook oneer – bring.
O, dat Christus se beeld in ons mag skyn!
Views: 20