Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. Matteus 5:48
Een van die kosbaarste herinneringe wat ek uit my kinderdae van my pa onthou, is dat hy daar was vir ons. Hy het na my probleme geluister en raad gegee; hy het my geleer om my fiets se band te lap; hy het saam met my en my broers gaan tennis speel; hy het langs die rugbyveld gestaan en ons aangemoedig …
’n Pa wat sy sout werd is, is ‘n pa wat huis toe kom op só ‘n tyd dat die kinders iets van hom het. Daar is nie so ‘n ding soos kwaliteit-tyd asof dit kan opmaak vir al die ure waarin jy nié by die huis is nie. Niks kan vergoed vir die verlies aan saamwees nie.
‘n Slim pa, myne. Hy het geweet dat die beste manier om vir my lief te wees, is om my ma lief te hê. Want die geborgenheid wat ‘n gelukkige huwelik bring, is een van die grootste geskenke wat ‘n pa vir sy kind kan gee.
’n Aspek van pa-wees wat my soms benoud maak, is die feit dat Jesus vir God ons hemelse Vader noem. Sielkundiges sê dat die beeld wat ‘n kind van God het, direk verband hou met die beeld wat hy (of sy) van sy eie pa het. Dit beteken dat my kind iets van God se Vader-wees in my moet kan sien. ‘n Kind wat diep teleurgesteld is in sy pa, of dalk deur sy pa verskrik word, is uiteindelik ook ‘n kind wat sukkel om vertroue in God te hê. Daarom kan jy as pa min vir jou kind oor God leer as jy self nie ook iets van God in jou omdra nie; iets van sy liefde, van sy ruimhartigheid, van sy deernis en sy omgee en sy genaakbaarheid en sy vergifnis … Dit kan jy natuurlik net wees as jy sélf ‘n lewende verhouding met God het.